O, soetste Kaap

Augustus 17, 2009 in Sonder kategorie

Sjoe. Wat ‘n naweek.

Vrydag het ons die ouerlike ding gedoen en na Stellenbosch gevlieg. Die okkasie is Kleinklaas se deelname aan Maties se Sêrkompetisie-finale. 

So halfvyf daar ingeklok en besef dis ernstige sake hierdie. Die tou staan drie mense dik by die lang gang uit. Besef ook so min of meer dat ons nie sitplek gaan kry nie, want elke Matie en sy hond en sy kosbak loop rustig en gaan druk voor by sy pelle in. Ons klomp ouballies agteraan kyk mekaar net knorrig aan. Dink ook daaraan dat hierdie blerrie klomp waarskynlik tot by die ore vol varkgriepvirusse is.

Vrou glimlag net fyntjies. En stywerig. 

Kom uiteindelik tog voor in die saal aan en sien dis gelukkig nog taamlik leeg. Big mistake. In al die rye van die hele voorste blok sit daar ‘n kordate studentjie wat “plekke hou vir sy koshuispelle”. Dêm. Tipies skandemaker-outoppie gaan vat ek een van hulle aan en besef gou ek gaan my gat sien met hierdie smooth talkers. Vrou beduie franties dat sy agter, langs die skoonmaker, wel ‘n plekkie opgespoor het.

Kort voor lank raak die hele plek vol. Ten spyte van my knorrigheid moet ek erken dis ‘n vrek oulike klomp jongelinge. Fraai dametjies en wakker, viriele mans. My arme rooikopdogter.

Die konsert begin. Dinge het beslis verander. Dis ‘n groot affêre hierdie – die latte moes ure lank geoefen het, want dis danspassies, harmonieë, a capella, nuwe komposisies, viole, tjello’s en goed wat ek nog nooit gesien het nie. Praat van die h*l uit die hoender ruk – is dit nie veronderstel om ‘n prettige sêrkompetisie te wees nie? So dink ek, steeds knorrig.

So mymer ek toe sommer ook oor die verlore studietye en die gevolge daarvan. Onthou skielik met ‘n dwarrelwind van skuld die gevolge van my eie belegging, in my tweedejaar, in die operette Die Sigeunerbaron. Hou onmiddellik op mymer.

Die konsert spoed verby met respektabele hoogte-en laagtepunte.

En toe kom HULLE op. Pieke, my seun se groep.

Bliksem.

Alabama kan gaan slaap. Hierdie outjies se fynste bewegings is uitgewerk en perfek. Hulle sang is afgerond en soet. Hulle spot, hulle dans, hulle kajool, hulle pleit en hulle vlei. Hulle tel die gehoor op, paas ons sorgvuldig rond tussen hulle en gaan it ons weer saggies en teer op ons plekke neer.

Die applous was, soos die cliché sê, oorverdowend.

En so wen hulle toe ook. Hulle stof ‘n koshuis uit wat al omtrent agt jaar na mekaar gewen het.

Aan die trots in my, en die manier hoe Kleinklaas na ons kant toe gekyk het weet ek dit was die moeite werd.

22 antwoorde op O, soetste Kaap

  1. Volgens my dogter was dit wonderlik!!!

    Shame, hierdie afgelope week het hulle ‘n bietjie gejol, maar van volgende week sal dit weer skouer aan die wiel moet sit met die studies!!

    Wat studeer Kleinklaas?

  2. Dis nog nie klaar nie! Die klein bokker moet nou nog vir die nasionale stryd in Johies oefen!

    Hy swot ‘n BSc. In my dae het dit gestaan vir booze, sex en cigarettes.

  3. So, Kleinklaas bly privaat? Hulle jool saam met my dogter-hulle volgende jaar! Sy swot ook BSc – BSc: Aardwetenskap – is nou 1ste jaar!!

  4. Mooi geskryf, lekker ou Skelmbos.

  5. dankie vir die vroegoggend smile! ek het nou lekker gegiggel ;D

  6. En volgende jaar het ek nog ‘n dogter daar. Drie kinders!

    Arme Stellenbosch.

  7. Haai daar! Dankie.

    Dit is ‘n lekker plek. Te lekker.

  8. Tja. Dit het eers agterna snaaks geword!

  9. klink lekker…baie mooi geskryf. lekker dag

  10. Dit was lekker! Dankie, Dubbel.

  11. skaam ek nou vir die vrypostige maties hier in my geweste.

    waar op die aarde het julle kaartjies gekry, want selfs vir my wat hier OP KAMPUS werk was dit onbekombaar. klink of dit ongelooflik was.

  12. die plek staan darem nog. sal volgende jaar weer kom terugrapporteer as die die derde een ook hier aangeland het.

  13. Ek was nog nooit in die Kaap nie. My pa sê hulle is traitors van die dae af toe die Engelse nog die land geregeer het.

  14. Berwick het gesê op Augustus 17, 2009

    “wakker, viriele mans…”

    :–))))

  15. As daar iets oor is…

  16. My seun het duistere weë, soos die weg van ‘n vrou oor ‘n klip…

  17. Rinnegate. Die lot van hulle.

  18. Huh. Gesien uit die oog van ‘n bekommerde pa.

  19. Hierdie letterdash werk op my senuwees -Ek probeer maar weer – ons gaan ook 2 daar hê teen volgende jaar… hoop net dat hulle twee klaar sal maak voordat die derde een gaan!

  20. LOL, ons sal ook volgende jaat 2 daar hê!! Hoop hulle maak klaar voordat die derde een gaan!!

    Lekker aand!

  21. Tesame hou ons die plek vol!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.