‘n Sentimentele liedjie

Augustus 13, 2009 in Sonder kategorie

So won’t you please play a song, a sentimental song, for my sentimental friend over there…

 ‘n Lui-lou wind kwispel deur die herfsblare in die tuintjie van die koffiewinkeltjie in Hatfield.

 Dit voel half surrealisties. Daar sit sy, ‘n klein figuurtjie wat eens op ‘n tyd my hele wêreld was.

 Genade, sy’t oud en klein geword. Maar nog steeds interessant, verrassend.

 My eerste liefde. Standerd sewe. My eerste stywe soen op die sitkamerbank onder begeleiding van Francoise Hardy. My eerste liefdesomhelsing. My eerste behoorlike vry. My eerste uitgawe aan ‘n pêrelring, ‘n ametishangertjie, blomme.

 Wat het geword van die ewige trou wat ons gesweer het? Die sononder-spesiale tydjie, die bladsye en bladsye en bladsye briewe, ons eie sterregroepie sodat sy in Bloemfontein en ek deur die grou newels van die Vaaldriehoek na dieselfde ding kon kyk…

 Fragmente: ons eerste ontmoeting op die strand in Toti, Oranje Meisieskool se tiekie-aand; “Ruf’ mich an”-versoek via Rocco Erasmus op Radio Hoëveld; Bloemfontein se landbouskou; familie op Koffiefontein; spuitpoep op die Karoopad Verwoerddam toe met skoonpa se bottelgroen Jaguar (blitsvinnig, dankie tog); treffers op LM radio en Vrydagaande op Springbokradio…

 Alles gemarineer in ‘n paar sestigerjare se musiek: Die BeeGees, die Troggs, Bubblegum, Herman’s Hermits, die Tremeloes, Tommy Roe, die Staccatos, Francoise Hardy, Creedence…

 Dan, die werklikheid. Sy ver, ek jeukerig. Die eerste ontrouheid. Dan, ander.

 G’n wonder sy’t my afgesê nie. En daar is ek toe so ewe hartseer!

 En hier sit sy nou, ‘n halwe leeftyd later. ‘n Vreemdeling. ‘n Aardige gesprek wat nie wil vlot nie.

 Ek wil sê, maar dit haak vas: Dankie, meisie. Dankie dat jy my aanvaar het. Dankie dat jy my liefgehad het. Dankie vir al die kosbare herinneringe.

 En, sommer ook: Ekskuus.

10 antwoorde op ‘n Sentimentele liedjie

  1. Neander het gesê op Augustus 13, 2009

    Ja,daar sal altyd kosbare herinneringe wees.

  2. ysprins het gesê op Augustus 13, 2009

    baie mooi! Francoise Hardy kan net eenvoudig nie hierdie tipe van melankolie beter ontluik nie!

  3. Baie dankie, Flenters.

  4. Gelukkig!

  5. All over the world…

  6. hutton het gesê op Augustus 13, 2009

    hugs

  7. Hugs, Hutton

  8. Hei, dankie Murphs!

  9. Lekker herhindering…

  10. Kosbaar. Kosbaar.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.