Jy blaai in die argief vir 2009 Julie.

Offer 2

Julie 19, 2009 in Sonder kategorie

Dit was nog skemer toe ek die sagte klop aan my kamerdeur hoor. Aan die buitelyne van die figuur kon ek sien dat dit Kerishni was.

Sy het sag tot by my bed beweeg, gekniel en haar kop op my bors neergelê.

Ons albei het verstaan wat aangaan, Ek het haar donker hare sag tussen my vingers gekrul, my lippe daarteen gedruk en die soet geur van blomme daarin ingeteug.

Ek het hierdie kind só lief. Sedert haar moeder, my dogter, se sterwe soveel jare gelede, het ek maar die rol van haar ouers oorgeneem terwyl Kosalin homself met sy sakebelange besig gehou het. Ek moes haar stomme vrae beantwoord en haar probeer lei deur die moeilike storm-en-drang jare.

En vandag gaan sy trou. ‘n Geriefshuwelik, om Kosalin met sy gesin uit hulle finansiële verknorsing te help.

Ek het in die groot oë gekyk en die swaar hartseer van afskeid daarin gelees. Ek het vir haar gesê:”Jy is so mooi, my kind.” Sy het effens geglimlag en haar kop weggedraai.

Na ‘n lang ruk se stilte het sy opgestaan, my voorkop liggies gestreel en toe uitgeloop. Die kamer was skielik ontsettend leeg. Ek het my vingers op die klam kol op my bors geplaas en haar warmte daar probeer vashou.

Die seremonie was vol swier en al die stad se groot besigheidsmanne was daar.

Ekself kon dit nie lank daar verduur nie. Die laaste ding wat my opgeval het toe ek uitloop, was die leë, gelate uitdrukkings in haar en haar pa se oë, by die bruidstafel. So asof hulle nie regtig omgee nie.

Offer 1

Julie 18, 2009 in Sonder kategorie

Dit was nog skemer toe ‘n geraas buite die hut my wakker maak. Daar was ‘n vinnige geskuifel, en aan die vorm van die figuur in die ingang kon ek sien dit was Laoda wat binnekom, gevolg deur haar suster. Ek kon die vegters angstig buite die hut hoor rondstaan.

Sy het tot by my bed gekom en haar hand op my voorkop geplaas. Ek het die hand vasgevat en teen my lippe gedruk. Sy het toe by my bed gekniel en haar kop op my bors gelê.

Ek het my hand deur die ruie bos blonde hare getrek en haar gesig gestreel. Ek het my mond teen haar hare gedruk en die soute nabyheid geproe en geadem. Ek het in haar groot bruin oë gekyk en gefluister “Jy is so pragtig”. Dit het haar effens laat glimlag, voordat sy haar gesig weggedraai het.

Hoe lief het ek hierdie kind, het ek gedink. Vandat haar ma, my liewe dogter, van siekte dood is was dit maar aan my oorgelaat om Laoda te troos en deur die pyne van grootword te help terwyl haar pa hom met stam-bestuursake besig hou.
 
Ek wou die oomblik nie laat verbygaan nie. Ek het nie geweet of ek haar ooit weer sou sien nie. Ek sou.
 
Die plan was om haar as soenoffer aan die vurige leier van die Ghoendorf-stam te gee, om miskien die hele stam van uitwissing te red. Ander stamme in die omgewing het onder die geweld van sy hordes se swaarde en knuppels deurgeloop en die verwoeste nedersettings was getuie van die uitkoms. Ons sou hierdie groot opoffering maak en die bedoeling is aan ‘n paar spioene bekendgemaak.

Toe die vegters buite roep, het sy opgestaan en uitgeloop, sonder om ‘n woord te sê. Ek het my hand op die klam kol op my bors geplaas.
 
Ek het omgedraai en my gefolterde gedagtes probeer tem. Dit was skielik ontsettend leeg in die hut.
 
Die dag het onheilspellend stil verloop. Toe, net voor donker, het die brandwagte binnegestorm om ons te waarsku.

Kort daarna het die geweld losgebars. Die lug was gevul met vlamme en die swaar, soet reuk van rook en bloed. Woedende skreeue, gille en die klank van yster op yster het die nag in nagmerrie verander.
 
Die laaste ding wat ek deur die vlamme kon sien terwyl hulle my na buite gesleep het was die koppe tussen die fakkels, op die pale by die poort. Laoda en haar pa.

Ek onthou nog dat ek opgemerk het hoe uitdrukkingloos die gesigte gelyk het. So, asof hulle nie regtig kon omgee nie.

Afloop

Julie 15, 2009 in Sonder kategorie

Somtyds val dinge in plek met die dramatiese vervulling van ‘n Griekse tragedie. Dis asof die omstandighede en die gegewene ‘n noodwendigheid aan die uitkoms verleen waarvan feilbare mense nie kan ontsnap nie.

Gerhard was ‘n jong predikant wat op ‘n moeilike tyd na ons klein voorstad beroep is. Die gemeente was in die proses om af te stig en hy moes hierdie baba die nuwe lig binnedra.

Hy was uitnemend hiervoor geskik – ‘n mooi man met ‘n meestersgraad en al die natuurlike leierseienskappe getroud met ‘n bekwame vrou, met mooi kinders en sterk skakels met die groot name in die kerkwese.

Die proses het glad verloop. Gerhard het geweet hoe om mense te bemagtig en hy het die gawes in die gemeente gemobiliseer tot veel meer as waartoe hy alleen in staat sou wees. Die nuwe gemeente is gebore en was gou lewend en aktief aan die werk.

Gerhard het ook meer gedoen – hy het die gemeentelede blootgestel aan nuwe konsepte, soos die rol en die implikasies van eie, persoonlike keuse in die plek van ‘n meesterplan waar elke tree vooruitbestem is; nuwe musiek en nuwe kerk-aksies.

Anja was ‘n jong kleuterskoolonderwyseres, haar man ‘n gewilde laerskoolonderwyser. Anja het ambisies gehad wat wyer gestrek het as die klein, inhiberende werklikheid waarin sy haarself bevind het. In die kerk se vroue-aksies is sy gou getipeer as dominerend en reguit.

Op ‘n dag het die nuus die gemeente soos ‘n bom getref: ons dominee het sy gesin verlaat en met hierdie jong vrou weggeloop.

Die gemeente was in rou. Ons het daar eers besef in hoe ‘n mate die funksies van die gemeente om sy persoon gedraai het en hoe blindelings ons hom gevolg het.

Hy het weggebly en is van sy vrou geskei.

Dit kon nie hou nie. Hierdie twee ambisieuse mense wat hulle toekoms saam gesien het, het nie rekening daarmee gehou dat hy nie meer ‘n leier is, met mense wat na hom opsien en hom respekteer nie.

Ek weet nie waar is sy deesdae nie. Hy is nou die “rektor” van ‘n klein nis-opleidingskool, “Professor” Gerhard.

Ek kan nie help om hartseer te wees oor die horde gemiste geleenthede nie. 

Laagdruk langs die kus

Julie 15, 2009 in Sonder kategorie

Soene is vir my die momentele, direkte verbinding tussen twee geeste. Dis nogal besonders.

Ek onthou verskeie soene, met verskillende mense, met groot deernis. Daardie soen agter die hoek wat ons nie kon keer nie toe ons om die skool gaan stap het. Die soen agter in die bus na die skoolsport, of in die kombi na ‘n skoolserrie. Die eerste soen (ook in die bus!…?) na ‘n leeftyd van aanlê op die operettetoer. Die laaang soen in die park toe ek die verloofring uit my sak gehaal het.

Iesj, nou’t ek myself skoon van stryk gebring. Wat wou ek nouweer sê?

O ja. Daar was ook die liefs-vergetenes. Die snor-tannies van my kleintyd. Die moderne lug-soene. Die verleë knaldempersoene as jy te laat besef die vrou soen-groet liewer nie.

(En jou wragtag, daar kraak ‘n deur in die huis homself so pas toe. Modderkoekie se spoke loop weer vanaand).

En so kom ek by my punt.

Daar was twee soene wat so ‘random’ was, so teen die orde van die heelal, dat ek dit vandag nog onthou, amper dertig jaar later. 

Die eerste een was op ‘n intervarsity by Kovsies. Ek het lekker op die pawiljoen gekuier saam met die pelle rondom my. Die telling was taamlik gelykop en in die doodsnikke van die wedstryd kry Tuks ‘n drie. Ek het rondgespring, en in die proses die pragtige meisie agter my vasgegryp. En daar druk sy ‘n heerlike, sagte soen op my lippe af.

Ek was so oorbluf dat ek haar nie eers in die massa sien verdwyn het nie.

Ek het haar nooit weer gesien nie.

En dit was nie die gebrek aan tandepasta se skuld nie.

Die tweede soen was met jool. Ek moes Kollegetehuis se bokjolle reël.

Heelnag het ons gedans op die heerlike musiek van die sewentigerjare. Mettertyd het ons getalle uitgedun geraak, maar ons het deurgedruk.

Veral een meisie was spesiaal. Ons was soos een – as ek draai, kon sy swaai. Vinnig of stadig kon sy maat vir maat pashou.

Sy was ‘n fisio en haar naam was Boots. I kid you not. Boots.

Uiteindelik het die lug in die ooste begin skyn en die groep meisies het begin aanstaltes maak om na hulle blyplekke terug te gaan.

Wat maak mens? Hoe groet ‘n mens hierdie nuwe geesgenoot?

Dit was vir my beantwoord toe sy my daar voor die koshuis se ingang ‘n volmondsoen gee wat die stopsels in my tande laat smelt het. Toe draai sy om en ry vir ewig uit my lewe uit.

Ek het nog vir ‘n ruk soos ‘n slap noedel (wel, grootliks…) daar staan en hyg.

Ek het nie kon dink dat iets so sags, so hard in ‘n mens se geheue ingegraveer sou word nie.

Waterpoetse

Julie 14, 2009 in Sonder kategorie

Dit wil ek niemand toewens nie.

Hier sit ek so pas rustig, in die stilte van ‘n reënerige nanag en blogs opvang, toe die huis se deurklokkie skielik g’n tien tree van my af nie, dringend aan die lui gaan. Herhaaldelik.

Plak die laptop neer, val oor die kabel, struikel ook oor ‘n bekommerde Jack Russell, skakel die buitelig aan, en…

Niks.

Dank Vader.

Pluk die battery uit en ruk amper die gedoentetjie uit sy montering uit, voor vroulief wakker word.

Blykbaar waai die wind nou water in die knoppie in. Sal iets daaraan moet doen.

My hart sal dit nie weer hou nie. Veral nie as ander bloggers skryf van spoke in hulle vensters of as die wind hoeka die stoepdak elke nou en dan skielik laat klap-klap nie.

Verskoon die bewerige tikwerk…

Poste Restante De Hoop

Julie 13, 2009 in Sonder kategorie

Die laaste motor se klanke sterf weg in die paadjie. Dis amper etenstyd.

Hy draai na die swartgevlekte, ou spieël in die konsistorie en rem aan die stywe wit das om sy nek. Dan staan hy stil en tuur net na die beeld voor hom. Hy sien leë oë na hom terugkyk en sien die moegheid op sy gesig.

Sy wese voel leeg. ‘n Hele erediens lank het hy meer gegee as wat hyself binne het – troos uitgedeel, van liefde en vergiffenis en ‘n diepere sin in alles getuig. Jubelsange gesing en die seën van die Here oor die gemeente uitgespreek.

Nou is dit net hy. Hy en sy God alleen.

Want Marta is weg.

Vanoggend vroeg, skemer het sy al haar tasse in die motor gelaai en gery, sonder om te groet.

Dit kom seker al ‘n lang pad. Die tekens was tog nog altyd daar, maar hy het homself getroos dat dit maar net sy is, net ‘n fase, alle huwelike is maar so.

Wat het hy gedink? Hoe kon dit ooit werk dat so ‘n sprankelende persoon, so ‘n mooi vrou by hom sou bly?

Van die begin af was sy ‘n anderse soort predikantsvrou – onkonvensioneel en glad nie geneë om die rol van ‘n soort herder te speel nie. Die gemeente het dit maar aanvaar en stilswyend die rolle oorgeneem, sodat sy meer tyd kon hê vir haar musiek en haar eie dinge.

Sy kon ‘n fyn, gevaarlike spel met die jong mans in die gemeente, in die dienste en in die koor speel. Fyn genoeg om nie die finale grense oor te steek nie, maar gevaarlik genoeg om hulle geïnteresseerd te hou.

Wat kon hy doen? Mens kan jouself nie van binne verander nie. Hy kon nie skielik ‘n romantiese held op ‘n wit perd word nie. Hy was maar hy, ernstig, liefdevol en toegewyd. Vervelig.

Nie genoeg om hom te verweer teen die finale verraad nie. Die verhouding wat haar skielik later en later van kooroefening af laat terugkom het. Die koorsagtige omhelsing wat hy deur die venster gesien het. Die uiteindelike erkenning. Haar vertrek.

Nou sal hy terugstap na ‘n leë huis. Vir die eerste keer, heeltemal alleen.

Pret

Julie 3, 2009 in Sonder kategorie

Ek is heeltemal bewus daarvan dat die mense wat om die vuur van hierdie blogruimte hul voetjies warmmaak, burgers is van vrome inbors, sober, stoer en ernstig van aard. Dis hoekom ek my deurentyd moet inhou om nie die volle omvang van my willewragtagheid op een slag bloot te stel nie.

Tog wil ek hier, versigtig, met julle instemming, die sluier lig op iets van Groot Pretwaarde. Dit is so min of meer van die meeste pret wat ‘n mens kan hê met ‘n broek aan.

Die Ingelse het ‘n ding wat hulle noem ‘n melodrama, en hierdie ding kan blykbaar baie wyd geïnterpreteer word. Die weergawe wat ek mee te doen gekry het, het ek leer ken by Knysna se laerskool. Dis betrek ouers sowel as die personeel.

Dit werk so: jy speel ‘n plaat, of ‘n slim kombinasie van songs, dan doen jy op die verhoog jou bes om jou naam permanent en grotesk gat te maak. Jy sal, byvoorbeeld, ‘n toneel doen op die kwartet uit Lucia di Lammermoor waarin jy ‘n ketel met ‘n defek terugneem Game toe. Ander sal die orkes en sangers van “Simply the best” of iets van ABBA nadoen. Met ‘n slim kombinasie van stukkies liedjies kan ‘n mens Rooikappie, of Hansie en Grietjie doen, of iets op James Bond se musiek. Dit kan selfs classy wees, as jy wil, met groepsdans (amazing waarmee die moeders vorendag kom!) of ‘n ‘mime’ op Louis Armstrong se Summertime. ‘n Mansballet deur ‘n paar fris rugby-onderwysers is altyd ‘n treffer.

Daar is ‘n mate van goeie oordeel in – dit moet lekker musiek wees, ook ‘n paar modernes, en dit moet snaaks wees.

Dit kan ook ‘n bietjie riskant wees, met ‘n ouderdomsbeperking! Om die waarheid te sê, ‘n kerkafvaardiging het vir my en vroulief kom versoek om liewer uit die pornografiese ding te onttrek, hulle verneem daar is ‘n man met net-kouse in die Rocky Horrorshow, en, wag daarvoor, vuil grappe!

Toe ek in die stywe borstrok Baai beland, het ek bra terugverlang. Ek het dus ‘n ding by ons grênd hoërskool gereël, en die was ‘n reusesukses. Met “Mony Mony” het die dak gelig en wou die dogters die proefonderwyser (amper tik ek poef…) se klere van sy lyf af skeur. Twee onnies het “Jan as jou blief tog, skwiez my” gedoen – die klein dametjie het die man se rol gespeel en die reuse mansonderwyser die meisie s’n.

Dis nou verby, permanent. Maar, ek onthou dit met ‘n glimlag. Vir enige closet-performer is dit die kans van ‘n leeftyd. Almal het pret, van ouers, tot onnies, tot die kinders.

Ek dink nou, as iemand sou belangstel, kan ek ‘n paar voorstelle en suksesresepte met hulle deel as hulle direk aan my skryf op Spaces.

Long overdue

Julie 2, 2009 in Sonder kategorie

 

Ek was seker lag-lag die weermag se vrotste skut. Dit was veiliger voor die geweer as agter.

Maar, darem, nadat ek eers wyd geskiet het, het ek stadig nader aan die teiken beweeg, sodat die koeël en die teiken hulle oplaas minstens in dieselfde voorstad bevind het.

So is dit bra om oor nabygoed te skryf. Ek sal eerder eers die sake afhandel wat so op die buiterande van my ligkring lê, want die ander is half onder die vel.

Dis hoekom ek nou eers oor ‘n spesiale persoon skryf. Iemand met die mooiste oë in die jille wêreld.

Iemand wat my (en al die k*k) sak en pak aanvaar het. Iemand wat my, met my selfsug, my wilde ideale, my dromerigheid, my verstrooidheid, my pre-okkupasies, my sentimentaliteit, ongeduld, armgatgeit en beneuktheid in haar lewe toegelaat het en al amper dertig jaar daarmee volhou.

Iemand vol liefde, iemand wat haarself altyd tekort sal doen vir ‘n ander. Iemand wat leef vir haar kinders en self eerder met stokou klere sal rondloop. Iemand met ‘n pragtige humorsin, ‘n sterk persoonlikheid, oud-primaria van ‘n dameskoshuis wat ‘n belowende loopbaan prysgegee het om gehaltetyd met haar kinders te hê. Iemand wat nou lang dae in ‘n ellendige personeelbestuurpos in ‘n fabriek slyt om die huisbegroting te laat help klop.

Sy is my vrou en ek het haar innig lief.

ee cummings

Julie 1, 2009 in Sonder kategorie

In my brose tienerjare het ek eenkeer ‘n gedig van ee cummings gelees wat my gevoelens op daardie stadium baie mooi uitgedruk het.

Ek wens ek kon so skryf. Dit was soos volg:

it may not always be so

it may not always be so; and i say
that if your lips, which i have loved, should touch
another’s, and your dear strong fingers clutch
his heart, as mine in time not far away;
if on another’s face your sweet hair lay
in such a silence as i know, or such
great writhing words as, uttering overmuch,
stand helplessly before the spirit at bay;

if this should be, i say if this should be —
you of my heart, send me a little word;
that i may go unto him, and take his hands,
saying, Accept all happiness from me.
Then shall i turn my face, and hear one bird
sing terribly afar in the lost lands.