As ek opkyk

Julie 31, 2009 in Sonder kategorie

Iets omtrent boontoe kyk het in my verander deur die jare.
 
Toe ek klein was, op ons klein hoëvelddorpie, was die nagte donker en die sterre helder. Wanneer ons buite was was die melkweg, verskietende sterre en die diep donkerte bekende gesigte. Ons sou op die gras op ons rûe lê en die stadige satelliete vir mekaar uitwys. Maanlignagte was helder en Oom André het my eenkeer opgetel en die gesig van die man in die maan gewys.
 
Sterre was klein spikkeltjies, ietwat nietig, soos die skitterstof op die rooi glasbolle wat ma aan die kersboom gehang het. Vaagweg kon ek sien dat hulle patrone volg, want ons het die Suiderkruis en die Drie Susters geken.
 
Êrens langs die pad het iets verander. Ek het begin lees oor die heelal, en oor wat sterre regtig is.
 
‘n Nuwe wêreld het vir my begin. Ek het begin besef daardie klein spikkeltjies wat ek daarbo gesien het, was elkeen ‘n reusagtig groot, skynende sfeer wat in die ruimte hang. Daardie wit kombers in die melkweg was in der waarheid saamgeweef deur dermiljoene groot skynende bolle van voortdurende kernontploffings, elke bol waarskynlik groter as ons eie son. Elkeen sover van mekaar af as wat dit lyk hulle van ons af is.

Daardie eenvoudige besef dat die sterre nie spikkeltjies is wat om ons onthalwe aan die hemel uitgesproei is nie, het my asem weggeslaan. As ek opkyk, kyk ek in elke rigting in ‘n onmeetlike ruimte in van chaos, van hoogs ordelike bane en patrone, van groot skeppings en magtige vernietigings wat al miljarde jare aan die gang is. Dan besef ek dat wat ons hier as groot natuurkragte of rampe beskou, ‘n belaglike nietigheid is in hierdie heelal van kateklismiese ontploffings en veranderings.
 
Dan is dit met ontsag dat ek opkyk. Vanaand kan ek met my verkyker bo my kyk en die manjifieke Omega Centauri sterregroep sien. In ‘n teleskoop slaan dit jou asem weg – ‘n versameling van sterre so dig opeengepak dat dit van ons af soos ‘n ronde wolk lyk. Later kan ek met die verkyker ‘n reusagtig groot ander melkweg in die noorde sien, Andromeda.
 
Deur my teleskoop sien ek Saturnus se ringe en besef dis nie net ‘n prentjie nie – dis ‘n groot sfeer in die koue, leë ruimte wat getrou saam met ons om die son geswaai word. Elke aand kan ek met ‘n klein teleskopie sien hoe Jupiter se mane se posisies om hom verander.

Deur die verkyker sien ek die bekende, groot gevormde stofwolke – oorblyfsels van ontploffings of nuwe sterre wat vorm. Ek sien dubbelsterre wat verskillende kleure het soos pêrels, ek sien sterre wat flikker bloot omdat hulle om mekaar draai en mekaar wegsteek. Daar is ‘n leeftyd van juwele om te sien.
 
Dan is sterrekyk nie meer ‘n stokperdjie nie.
 
Dis ‘n seremonie.

7 antwoorde op As ek opkyk

  1. Wow ek is gek oor die sterre Janklaas dit is stunning!!!!!!!!

  2. Wow. Dit moet ‘n belewenis wees om alles so deur ‘n teleskoop te bekyk!

  3. godfatha het gesê op Julie 31, 2009

    Dis Magic

  4. Janklaas het gesê op Julie 31, 2009

    Dis my hart se punt.

  5. Janklaas het gesê op Julie 31, 2009

    Dis ongelooflik wat mens deur ‘n gewone verkyker kan sien as jy weet waar om te kyk. Ek was agterna verbaas hoe lank dit my geneem het voordat ek met ‘n verkyker na die maan gekyk het.

    Ek wens ek kon julle almal uitnooi om dit eenmaal te beleef.

  6. Janklaas het gesê op Julie 31, 2009

    Dis die regte woord. Dis magic.

  7. Neander het gesê op Augustus 1, 2009

    Ek het ook voorheen oor die planete geblog met goeie fotos, blaai net gerus terug.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.