Bloeddruk

Julie 30, 2009 in Sonder kategorie

Dis dalk die koors wat praat, maar dit wil al hoe meer vir my voel asof ek begin vrede maak met my spoke.

En, seker hoog tyd. Dis belaglik om tegelyk bloeddrukpille te moet neem en dan jou bloeddruk deur onsinnighede te wil laat opjaag.

Byvoorbeeld. Dit kon my grenseloos ontstel as ‘n jong tiener met sy scrambler sonder uitlaatpyp op ons breë grassypaadjie straataf skeur, soms met ‘n konvooi kornuite in tou. Jy kan hulle drie blokke ver voel aankom.

Ek sou uitstorm en woes beduie, briewe aan die koerant skryf, die gesin uitvreet en die hond skop. Alles vir niks.

Nou sal ek miskien die koerant laat sak en my kop meewarig skud. Hoe’t die groot digters gesê: Papa Joe just smiles politely…

Net so kon scams my erg pla. Ek het ‘n soort bullshit-filter wat goed soos mediese of finansiële wonderoplossings redelik gou kan uitruik, en dan het ek ‘n soort sendelingywer gehad, soos oom Jors Claassen van Stellenbosch, om die wêreld teen hierdie euwel te waarsku.

Deesdae is dit amper asof ek begin voel dat mense ‘n sekere verpligting het om liggelowige dwase van hulle geld te skei. Net soos ek dit verdien het om te sien dat die jong man wat ek met R20 gehelp het vir ‘n “begrafnis” ‘n kort rukkie later met ‘n paar biere uit die drankwinkel kom.

So het ek ook die lus verloor om in debatte te beland oor politiek en evolusie. Ek glo in elk geval nie ek het in my deurlugtige jare op hierdie planeet al ‘n enkele persoon omgehaal tot my standpunt nie. So, laat hulle gan doppies blaas as hulle so wil voel.

Daar is baie prettiger goed om oor vies te raak. Soos Hlophe. Soos Sewende laan. Soos besoedeling en oorbevolking. Perlemoen en renosterhorings. Bosluiskoors.



11 antwoorde op Bloeddruk

  1. armadillo het gesê op Julie 30, 2009

    smile.

  2. Neander het gesê op Julie 30, 2009

    Ons het nie meer die voortvarenheid van die jeug nie, ons raak beleë.

  3. zette het gesê op Julie 30, 2009

    Ai, hoe wens ek ek was al daar. Ek is nog op die baklei stadium. Dit maak mens moeg man! Hehe.

  4. Janklaas het gesê op Julie 30, 2009

    Dankie, vriendelike Man Van Min Woorde.

  5. Janklaas het gesê op Julie 30, 2009

    Gemarineer in gal?

  6. Janklaas het gesê op Julie 30, 2009

    Baie, baie moeg.

  7. net myself het gesê op Julie 30, 2009

    daardie bullshit-filter is nogals ‘n belangrike ding om te hê. dis net baie jammer baie mense (my pa inkluis) is sulke suckers vir scams. daar is nie iets soos maklike geld nie…

    OK. duidelik moet ek nog die plato van mellow wees bereik!

    Dis die hoogtepunt van my dag om te sit en sarkastiese kommentaar uit te dink tydens 7de laan…

  8. Janklaas het gesê op Julie 30, 2009

    Daar is so ‘n effense meerderwaardige satisfaksie daarin.

  9. Janklaas het gesê op Julie 30, 2009

    Is regtig so.

  10. Janklaas het gesê op Julie 30, 2009

    So, jy verstaan waarteen ek moes veg…

  11. Janklaas het gesê op Julie 30, 2009

    Dit grief my dat dit so voorspelbaar is en dat daardie voorspelbaarheid so uitgerek en uitgebuit word deur al wat medespeler is.
    Elke keer as een van hulle so kla oor hulle lot, wil ek sê “Dis jou donnerse draaiboekskrywer se skuld!”

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.