Sappige skinnerstorie

Julie 27, 2009 in Sonder kategorie

Oplaas het die geluksengel oor Shanaaz geglimlag.
 
Tot sover was haar volwasse lewe ietwat van ‘n nagmerrie. Sy het twee mooi kinders verwek op aandrang van haar gomtor van ‘n eggenoot, en moes hulle maar grootliks self grootmaak. Hy het homself op sy beurt besig gehou met karre, ander meisies en die komplekse bendewerkinge van die noordelike voorstede.
 
Eintlik het sy baie in haar guns gehad. As sy ‘n kamer binnekom was dit asof die delikate weefstof wat die beskawing aanmekaarhou skielik ‘n lekplek ontwikkel en die mees basiese aardse drange by mans vrystel. Met haar stem, die swaai van haar, die geur en die draai van haar kon sy daardie soort gedagtes nalaat waarmee mens laat snags alleen jou hande vol het.
 
En toe die geluksengel. Daar het ‘n Sweed by die fabriek kom werk. Blykbaar het hierdie manne bepaalde predileksies, en haar vorm, glans en inhoud het guns in sy oë ontvang. Van haar kant af het sy blykbaar gereken ‘in die aangesig van jou Sweed sal jy jou brood verdien’, terstond haar man verlaat en by die Sweed ingetrek. En hy in haar.
 
Shanaaz het gestraal. Die Sweed het gesweet en gestraal. Om die waarheid te sê, hy was so ingenome met haar dat, wanneer hy besoekers uit Swede ontvang, hy gereël het dat sy met net ‘n handdoekie om haar lyf gedraai die sitmaker sou binnekom, kastig op soek na iets. Dan sou hy die handdoek afpluk en sy sou kamma-verleë en giggelend uitkwispel, onder die eggo’s vanuit die gapende oop monde van die verstarde besoekers.
 
Sy het hierdie stories met groot smaak gedeel met haar kollegas by die werk. Eendag, egter, het die vertellings opgedroog.
 
Sien, vriend Sweed het skielik ontdek dat Shanaaz se oudste dogter ook die weë van ‘n vrou betree het en het homself daar gaan staanmaak.
 
Krisis. Nou moes daar inderhaas buitelosies vir die twee kinders gereël word. Hierdie paradys was nie gebou vir twee Evas en een slang nie.
 
Mens sou dink dat die storie daar soort van sou eindig, maar dit het nie. Daar is soort van ‘n gelukkige einde. Sien, die Sweed is terug Swede toe, maar hy het Shanaaz saamgeneem. Shanaaz en die bloedjies.
 
Blykbaar het die koms van sy eie baba baie van die steek uit sy angel gehaal. Daar is groot vrede in die huis en Shanaaz en die kinders praat al fluks Sweeds.
 
The moral of the story? Slaan my met ‘n nat vis as ek weet.

8 antwoorde op Sappige skinnerstorie

  1. godfatha het gesê op Julie 27, 2009

    ok..

  2. Neander het gesê op Julie 27, 2009

    ‘Vorm, glans, en inhoud in sy oë ontvang’, ek weet ook van daai.

  3. Janklaas het gesê op Julie 27, 2009

    Soos in “noted”?

  4. Janklaas het gesê op Julie 27, 2009

    Tja. Elke man se kruis…

  5. Janklaas het gesê op Julie 27, 2009

    Hei, dankie, Spit!

  6. godfatha het gesê op Julie 27, 2009

    soos in, ek week ook nie wat die moral of the story is nie, maar dis steeds n goeie storie haha

  7. Janklaas het gesê op Julie 27, 2009

    Baie dankie, Maankind.

  8. Janklaas het gesê op Julie 27, 2009

    Ok. Lekker aand!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.