Sofapatatta

Julie 24, 2009 in Sonder kategorie

Ek het myself in ‘n soort morele dilemma geplaas.

Dit werk so: in Meimaand het ek, ten einde laaste, my eie besware besweer en DSTV aangekoop, die volle toetie. Dit was net mooi betyds vir die kinders se resestyd en was ‘n aangename afleiding.

Hoewel daar programherhalings is, is daar tog nog uitstekende programme, en met die fasiliteit om opnames te maak, het ek genoeg programme beskikbaar om myself ‘n vakansie lank besig te hou.

En dit is juis die ding. Ek lees nie meer nie en ek blog nie meer nie. As ‘n mens aand na aand blootgestel word aan sommige van die beste produkte van die menslike gees en brein, begin jou eie brose skeppinge bra pateties voel. Om die waarheid te sê, daar kom nou bitter min nuwe idees by my op!

Dieselfde ding het so min of meer met my gebeur oor klavier- of kitaarspeel. As ‘n mens na ander se voortreflike spel luister, raak jy gefrustreer deur die beperktheid van jou eie vaardigheid en hou mens liewer heeltemal op.

As ‘n mens tyd vir jouself het, kan ‘n mens begin tob oor pyn, ongeregtigheid, mooi en ou herinneringe. Nou staan ek in ‘n vloed van ander se gedagtes en belewenisse en ek is heeltemal oorweldig daardeur.

What to do? Is die moeite werd om ter wille van jou eie gees eerder grense te begin stel? Wat is die nut van jou eie skeppinge in ‘n see van nuwe, uitnemende produkte, voortgebring deur van die beste denkers van ons tyd?

Ek het dus nodig om vir myself uit te klaar of daar enige waarde daarin is om jou eie, meer beskeie skeppinge op die mark te stoot as daar dan alreeds so ‘n vloed van briljante werke is, gepleeg deur professionele bedrywers van die onderskeie kunste. Ek skat dis die dilemma van enige beginner-kunstenaar.

As ek myself kan oortuig dit het ‘n nut, is ek bereid om ernstig te oorweeg om my prioriteite te herrangskik en weer te belê in die binnewêreld van Janklaas die Verskriklike.

10 antwoorde op Sofapatatta

  1. Janklaas ek het myne afgesit omdat dit ‘n kommunikasie gebrek veroorsaak het!

  2. net myself het gesê op Julie 24, 2009

    ek het onlangs iets raakgelees wat my hieraan laat dink:

    as al die voëls daar buite sou ophou sing, omdat hulle lied nie die mooiste een of die beste een is nie, hoe vervelig sou die stilte nie wees nie?

    as skryf jou gelukkig maak, skryf. as jy hou van kitaarspeel, speel. mense se smaak verskil so breed, dat ek werklik glo daar is plek vir elkeen van ons se skeppinge, wat en in watter vorm dit ook al mag wees.

  3. Neander het gesê op Julie 24, 2009

    Die verskriklike moet net nie ophou blog nie. Hou aan al is daar aandagaftrekkers.

  4. Berwick het gesê op Julie 24, 2009

    Dis die eerste keer in ‘n lang tyd dat ek iemand teëkom wat nie oor DSTV se programme kla nie.

    (Ek kla ook nie.)

  5. Trakie het gesê op Julie 24, 2009

    Ek het ook so vasgenael voor die TV gesit toe ons DSTV gekry het. Veral National Geographic het my gefassineer. Dit het weldra oorgewaai.

  6. Janklaas het gesê op Julie 26, 2009

    Ek neem kennis. Sal bietjie dink.

  7. Janklaas het gesê op Julie 26, 2009

    Dankie vir jou goeie antwoord. Dis die beste argument wat ek sover teëgekom het.

  8. Janklaas het gesê op Julie 26, 2009

    Dankie, Neander. Dis regtig goed om te hoor.

  9. Janklaas het gesê op Julie 26, 2009

    Daar is altyd êrens iets goeds. Ongelukkig!

  10. Janklaas het gesê op Julie 26, 2009

    Ek hoop ek kom ook daar. Ek sit selfs musiekvideos en kyk. My kinders moet my kom afjaag!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.