Broer Janklaas

Julie 19, 2009 in Sonder kategorie

Janklaas het met belangstelling die nuwe debat oor Afrikanerorganisasies in Rapport gadegeslaan.

Dit het hom laat dink aan die era in sy prille jeug toe hy ook ‘n geit gehad het om hierdie dinge te doen. Sy pa was immers al die jare ‘n Groot Broer, al moes Klasie dit eers as volwassene agterkom. Verder was daar altyd die geldige argument dat ander groepe organisasies het wat namens hulle opstaan, hoekom nie ons ook nie?

In hierdie tyd was Janklaas ook al bewus van die teenstrominge, want dit was daar in die vurige jare van hot-en-haar Afrikanerpolitiek. Boeke het oor die onderwerp verskyn en groot ontmaskerings is gepleeg. Klaas was verbaas om sy eie familie se name in hierdie boeke aan te tref.

In hierdie boeke, en in koerantbriewe is die organisasies afgemaak as middele om selfsugtige doelwitte na te streef en eie loopbane te bevorder, wat sekerlik dikwels die geval was.

Nietemin het hierdie organisasies ook begin klink na middele tot verandering, en was daar invloedryke mense aan die stuur wat nuwe, hoopvolle klanke begin maak het.

En so. met die nodige seremonie en swier, en die drink van hoenderbloed by kerslig is Janklaas toe tot die Geledere van die Hogeres verhef, synde van edele inborste (!…!..?), die regte kerk en so aan..

Keer na keer het Janklaas grootoog by vergaderings opgedaag, gereed om as Instrument tot Verandering aangewend te word. Keer na keer moes Janklaas na omsendbriewe sit en luister en na daaropvolgende gesprekke oor die ellende van die huidige situasie, volgens die opinie van ‘n klomp bejaarde mans.

Dit was ook gou duidelik dat hierdie groep geen begeerte had om tot enige wesenlike skeppende aksie oor te gaan nie. Dit was gelaat vir die mindere ligte, die wannabes, wat rondgepik het rondom die ligkring van hierdie uitgelesenes. Hulle sou die konserte reël, die musiekfeeste, die skoolpryse en wat nog. Hulle is die ware onbesonge helde van hierdie hele volksopera.

Wel, die eetgoed was altyd lekker. Janklaas het ‘n paar gawe mense leer ken, maar stadigaan verveeld begin raak met hierdie dreinering op sy tyd en sy sakgeld. Uiteindelik het Janklaas toe ook die ongehoorde stap geneem om uit hierdie spel te bedank.

Gelukkig is daar ander mense wat hou van hierdie soort stuff. Hulle doen goeie werk. Mag hulle so voortgaan.

6 antwoorde op Broer Janklaas

  1. Neander het gesê op Julie 20, 2009

    Ja die Bond het ‘n transformasie ondergaan. Wonder wat nou?

  2. Ek is bevrees dat die transformasie nie help nie. Dit het geheel en al irrelevant geraak. My ervaring is dat die denke by 1933 vasgeval het en dat daar met die rug na die toekoms gedink word. Die tyd van hierdie organisasie is by sy raktydperk verby.

  3. borrels het gesê op Julie 20, 2009

    More Janklaas, lekker week

  4. Janklaas het gesê op Julie 20, 2009

    Hallo Borrels! Ek hoop jou week is ook lekker.

  5. Janklaas het gesê op Julie 20, 2009

    Presies.

    Dis vir my swaar om aan ‘n nut te dink en namens wie hulle deesdae glo hulle optree.

  6. Janklaas het gesê op Julie 20, 2009

    Ek dink hulle wonder ook. Soos Kobus sê, hulle wonder al baie jare. Lank terug was dit seker wel nodig om vir die Afrikaner ‘n nis uit te krap.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.