Laagdruk langs die kus

Julie 15, 2009 in Sonder kategorie

Soene is vir my die momentele, direkte verbinding tussen twee geeste. Dis nogal besonders.

Ek onthou verskeie soene, met verskillende mense, met groot deernis. Daardie soen agter die hoek wat ons nie kon keer nie toe ons om die skool gaan stap het. Die soen agter in die bus na die skoolsport, of in die kombi na ‘n skoolserrie. Die eerste soen (ook in die bus!…?) na ‘n leeftyd van aanlê op die operettetoer. Die laaang soen in die park toe ek die verloofring uit my sak gehaal het.

Iesj, nou’t ek myself skoon van stryk gebring. Wat wou ek nouweer sê?

O ja. Daar was ook die liefs-vergetenes. Die snor-tannies van my kleintyd. Die moderne lug-soene. Die verleë knaldempersoene as jy te laat besef die vrou soen-groet liewer nie.

(En jou wragtag, daar kraak ‘n deur in die huis homself so pas toe. Modderkoekie se spoke loop weer vanaand).

En so kom ek by my punt.

Daar was twee soene wat so ‘random’ was, so teen die orde van die heelal, dat ek dit vandag nog onthou, amper dertig jaar later. 

Die eerste een was op ‘n intervarsity by Kovsies. Ek het lekker op die pawiljoen gekuier saam met die pelle rondom my. Die telling was taamlik gelykop en in die doodsnikke van die wedstryd kry Tuks ‘n drie. Ek het rondgespring, en in die proses die pragtige meisie agter my vasgegryp. En daar druk sy ‘n heerlike, sagte soen op my lippe af.

Ek was so oorbluf dat ek haar nie eers in die massa sien verdwyn het nie.

Ek het haar nooit weer gesien nie.

En dit was nie die gebrek aan tandepasta se skuld nie.

Die tweede soen was met jool. Ek moes Kollegetehuis se bokjolle reël.

Heelnag het ons gedans op die heerlike musiek van die sewentigerjare. Mettertyd het ons getalle uitgedun geraak, maar ons het deurgedruk.

Veral een meisie was spesiaal. Ons was soos een – as ek draai, kon sy swaai. Vinnig of stadig kon sy maat vir maat pashou.

Sy was ‘n fisio en haar naam was Boots. I kid you not. Boots.

Uiteindelik het die lug in die ooste begin skyn en die groep meisies het begin aanstaltes maak om na hulle blyplekke terug te gaan.

Wat maak mens? Hoe groet ‘n mens hierdie nuwe geesgenoot?

Dit was vir my beantwoord toe sy my daar voor die koshuis se ingang ‘n volmondsoen gee wat die stopsels in my tande laat smelt het. Toe draai sy om en ry vir ewig uit my lewe uit.

Ek het nog vir ‘n ruk soos ‘n slap noedel (wel, grootliks…) daar staan en hyg.

Ek het nie kon dink dat iets so sags, so hard in ‘n mens se geheue ingegraveer sou word nie.

8 antwoorde op Laagdruk langs die kus

  1. icysparx het gesê op Julie 15, 2009

    Pragtig, pragtig, mmmmmmmmooi! Ek’s sommer lus om self ‘n vreemdeling te gryp en te soen!

  2. Neander het gesê op Julie 15, 2009

    Toe ontwykende liefie by my wegry druk ek haar teen die muur vas en sy soen my terug met soveel passie en emosie, ek begin bewe soos ‘n perd wat ‘n steekvlieg wegjaag. My hand gly onder haar bloesie op teen haar stywe rug.

    Later kry ek ‘n e pos ter bevestiging.
    My geheue bokspring.

  3. borrels het gesê op Julie 15, 2009

    Dis juis die vaagheid daaraan wat die wonder lewend hou.
    Lekker dag

  4. Janklaas het gesê op Julie 15, 2009

    Ja, dis half of die geleenthede daarvoor al minder word.

    Maar jy het dit mos gedoen, toe die krokodil op ‘n partytjie op jou afgesluip kom…

  5. Janklaas het gesê op Julie 15, 2009

    Sjie, dit klink na iets tussen ‘n droom en ‘n transaksie!

  6. Janklaas het gesê op Julie 15, 2009

    Is so.

    Lekker dag vir jou ook!

  7. Vinnig..kyk AGTER jou,Janklaas!aaaaaargh!dis ‘n aleen wyfie-spokie,en sy wil jou soen met haar koue bibber bekkie,mwahhh!lol

  8. Janklaas het gesê op Julie 15, 2009

    Ag sies man. Nou’t jy my opgewonde.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.