Poste Restante De Hoop
Julie 13, 2009 in Sonder kategorie
Die laaste motor se klanke sterf weg in die paadjie. Dis amper etenstyd.
Hy draai na die swartgevlekte, ou spieël in die konsistorie en rem aan die stywe wit das om sy nek. Dan staan hy stil en tuur net na die beeld voor hom. Hy sien leë oë na hom terugkyk en sien die moegheid op sy gesig.
Sy wese voel leeg. ‘n Hele erediens lank het hy meer gegee as wat hyself binne het – troos uitgedeel, van liefde en vergiffenis en ‘n diepere sin in alles getuig. Jubelsange gesing en die seën van die Here oor die gemeente uitgespreek.
Nou is dit net hy. Hy en sy God alleen.
Want Marta is weg.
Vanoggend vroeg, skemer het sy al haar tasse in die motor gelaai en gery, sonder om te groet.
Dit kom seker al ‘n lang pad. Die tekens was tog nog altyd daar, maar hy het homself getroos dat dit maar net sy is, net ‘n fase, alle huwelike is maar so.
Wat het hy gedink? Hoe kon dit ooit werk dat so ‘n sprankelende persoon, so ‘n mooi vrou by hom sou bly?
Van die begin af was sy ‘n anderse soort predikantsvrou – onkonvensioneel en glad nie geneë om die rol van ‘n soort herder te speel nie. Die gemeente het dit maar aanvaar en stilswyend die rolle oorgeneem, sodat sy meer tyd kon hê vir haar musiek en haar eie dinge.
Sy kon ‘n fyn, gevaarlike spel met die jong mans in die gemeente, in die dienste en in die koor speel. Fyn genoeg om nie die finale grense oor te steek nie, maar gevaarlik genoeg om hulle geïnteresseerd te hou.
Wat kon hy doen? Mens kan jouself nie van binne verander nie. Hy kon nie skielik ‘n romantiese held op ‘n wit perd word nie. Hy was maar hy, ernstig, liefdevol en toegewyd. Vervelig.
Nie genoeg om hom te verweer teen die finale verraad nie. Die verhouding wat haar skielik later en later van kooroefening af laat terugkom het. Die koorsagtige omhelsing wat hy deur die venster gesien het. Die uiteindelike erkenning. Haar vertrek.
Nou sal hy terugstap na ‘n leë huis. Vir die eerste keer, heeltemal alleen.
icysparx het gesê op Julie 13, 2009
Sluwe vroumens.
Janklaas het gesê op Julie 13, 2009
En mooi.
eiewys-gekkigheid het gesê op Julie 13, 2009
Sjoe, baie mooi geskryf Janklaas…sy soek moeilikheid.
Janklaas het gesê op Julie 13, 2009
Dit was haar aard. Of sy wou of nie.
Neander het gesê op Julie 13, 2009
Welkom terug Jan, weer mooi geskryf.
Janklaas het gesê op Julie 13, 2009
Dankie, Neander. Dis heerlik om terug te wees.
Aproqueen het gesê op Julie 13, 2009
weer lekker om jou werk te lees… ..op jou vorige inskrywing… dit klink na vet pret..
net myself het gesê op Julie 13, 2009
bly jy is weer hier.
dis ‘n hartseer stuk hierdie. die arme predikant.
Janklaas het gesê op Julie 14, 2009
Hy was ‘n vriend.
Janklaas het gesê op Julie 14, 2009
Dankie, Elza!
Ja, ek wens ek kon daai stuff weer doen. Sal maar eendag die ouetehuis opkommandeer…
loudavisi het gesê op Julie 14, 2009
Die gras is altyd groener aan die ander kant.
kobusvictor het gesê op Julie 14, 2009
Baie goed geskryf. Jy het die feitelikhede met die emosie goed gekombineer. Jy kan maar skryf.
Groetnis.
Janklaas het gesê op Julie 14, 2009
True.
Janklaas het gesê op Julie 14, 2009
Dankie, Kobus.
Ek sal seker nooit sy emosies (en sy innerlike stryd) kan beskryf nie. En hare!