Kan ek julle voorstel aan my kortstondige Hollywood-loopbaan?
As student het ek ‘n 8mm-kamera aangeskaf waarmee ‘n mens kort filmpies kon maak. Vir so vyf Rand se film kon ‘n mens 3 minute en 52 sekondes se bewegingstyd koop. Dus glad nie die ideale medium vir lang, luierende skote oor vlaktes en oor perde wat grasievol in slow motion galop nie.
Wel, die gogga het my gebyt. Ek het al wat ‘n boek was oor die stokperdjie gekoop en later selfs die vermoë aangekweek om ‘n klankbaan aan die dermpie film te plak. Ek het begin drome droom van ‘n loopbaan in die liggies en boeke verslind oor Fellini, Bergman, Godard, Raj en ander voorbeelde van regisseurs uit ander lande se power pogings om Groot Films te maak.
Nadat ek die familie se babas, troues, die koshuis se diefstal van ‘n kanon en die jool afgeneem het, het ek myself ryp geag vir Groter Projekte. Genadiglik het ek besluit ek sou my tande slyp op ‘n taamlik beskeie poortprojek.
Na ‘n lang soektog het ek besluit op Leipoldt se gedig “Wys my die plek”. Ek het ‘n draaiboek opgestel wat hartverskeurende skote insluit van swartgebrande bome in die veld, van ‘n meisie wat met ‘n soet glimlag slaap, van kabbelende strome en so aan. Vir my koorsige, romantiese jong gemoed het daar nie so iets soos clichés bestaan nie.
Groot projek is met groot ywer aangepak. Ek het die mooiste meisie in die HOD-klas by Magnoliadal tussen blomme laat lê (…), ek het ‘n geskikte swartgebrande boom naby Standerton gevind, en so stukkie vir stukkie die skote in my komplekse draaiboek versamel. Vir die suis van die wind het ek deur ‘n raket se snare geblaas.
Wie sou die teks lees? Ek het ‘n paar oudisies gehou, maar op die ou einde besluit niemand doen dit emosievol genoeg nie. Janklaas sou dit doen.
Die groot redigeerproses het met bewende hande begin. Ek het spoedig opgemerk dat die skote maar bra anders lyk as wat ek dit in my gedagtes voorgestel het. Tyd vir oorskiet was daar nie. Verder is daar ook nie juis tyd vir liriese ontwikkeling van die skote as elke vyf Rand filmpie net so vier minute se inhoud kon bevat nie.
Ennieway. Film is gemaak. Die proefgehoor sou wees my meisie, my beste vriend en sy meisie.
Die kamer is voorberei en die ratelende projektor is aangeskakel.
Freek het eerste begin. ‘n Snaakse snorkgeluid het êrens uit sy walglike lyf ontsnap. Dit het Elma die moed gegee, sy het openlik begin giggel, en soos die meesterstuk afgeloop het was die drietal gereduseer tot ‘n magtelose hopie drillende mensvleis wat net so nou en dan kon opkom vir lug.
En ek? Ek het eenkant gesit en dapper gegrinnik terwyl hierdie die stelselmatige aftakeling van my droompie flikkerend voor my eighe oghe afspeel, onder die begeleiding van ‘n emosiebelaaide Leipoldtgedig en die klanke van my asem deur ‘n raket.
Miskien moes ek hulle voor die tyd gesê het dis nie ‘n frieken komedie nie.
Onlangse kommentare