Jy blaai in die argief vir Maretha Maartens.

by izakdv

Maretha Maartens: eerste uitdraaipad na links, twee kilometer noord van Kleuterland

Mei 26, 2014 in Uncategorized

500px .Maretha met TOM

Foto verskaf deur die outeur

 Maretha Maartens beskryf haarself as ’n dinosourus toe ek haar vra om ook kommentaar te lewer.

Ek sou dink dat daar beter beskrywings is, maar daar is geen twyfel nie dat sy een van Afrikaans se langsdienende skrywers is. Sy het verskeie kinderboeke, jeugboeke en jongvolwassetekste geskryf, en dan is daar romans en dramas vir volwassenes, bo en behalwe al die joernalistieke werk wat sy al gedoen het.

Ek was baie dankbaar toe sy ’n tydjie kon afknyp om my vrae te beantwoord.

In die VSA word #IreadYA-week gevier. Ons is meer geneig te praat van jeuglit as jongvolwasselit. Is dit ’n leemte?

Vir opspoorbaarheid in boekwinkels (anders as in die elektroniese media) is dit ‘n leemte. Betree die deursnee Suid-Afrikaanse boekwinkel vir ‘n ervaring van afwaartse gradering. Aan kleuter-, kinder- en tienerboeke word ruimte in dalende orde van belangrikheid toegeken: groot, kleurvolle en uitnodigende uitstalling van kleuterboeke, saaklike uitstalling van boeke vir agt- tot twaalfjariges en oorskietruimte vir tienerboeke, want “hulle lees mos nie meer nie.”

Of 10% van alle boekwinkels in Suid-Afrika ‘n sigbare komnaderruimte vir jongvolwasselit het, is ‘n ope vraag. Jongvolwasselit (vir 16-plussers) is nòg ‘n boekbekendstallingsgebeurtenis, nòg ‘n moet-hê produk.

Die bose sirkel van clichés, boekvervreemding, groeiende gelatenheid, onkunde, apatie, hemelhoë boekpryse, as gevolg van klein drukoplae, en boeklees as mindere praktyk in die lewe van jongvolwassenes, het wel ‘n beginpunt, te wete persepsie.

Was ons besig met ‘n teologiese gesprek, sou ons die term, “volhardende geloof” – ’n lewensbepalende keuse – ook bygebring het.

Ek dink ons praat hier van twee dinge: ‘n persepsie van kinder-, tiener- en jongvolwasselit as beginpunt en volhardende geloof in die boekwaardigheid van die drie kategorieë.

Om vir hierdie mark te skryf is bitter moeilik. Hoekom doen jy dit?

In die bose kringloop wat onder andere in die uitgewersbedryf en handel ontstaan het, het die skrywers van kinder-, tiener- en jongvolwasselit volhardende geloof in die boekwaardigheid van al drie kategorieë (soos in die menswaardigheid van mense in al drie kategorieë) behou. So skryf hulle dan ook voort, die ou persepsie van lees as een van die lekkerste, mees insiggewende, mees vormende, mees ontvlugtende aktiwiteite van menswees onvernietigbaar behoue in hulle. So het hulle grootgeword. So het hulle die mense geword wat hulle is. Hulle wil vir hulle eie kinders en kleinkinders, die bure se kinders en kleinkinders, die painter wat dalk nie graad 10 agter sy naam kan skryf nie, die voedingskema-kind, die jongvolwassene wat saans na ‘n bende- en misdaadgeteisterde plek in Gauteng, Mangaung of in die Kaap, terugkeer, iets onvernietigbaars gee.

So kom hulle by die uitgewer aan: Hier staan ek met die manuskrip van ‘n kinder-, tiener- of jongvolwassestorie in my hand, Uitgewer. Ek kan nie anders nie, want die stede van kind-, tiener- en jongvolwassewees (eerste uitdraaipad na links, twee kilometer noord van Kleuterland) bestaan nog, and people are living there. As skrywer ontmoet ek baie mense daar. Wanneer die coolgeit en die tegnologie afgeskraap raak, kom ons by ‘n stratum uit wat ons dalk nie verwag het nie. Dit is dan dieselfde as die een waarin ons, die dinosourusse, was toe ons tieners en jongvolwassenes en kiddies was.

Nuut en verbysterend is die openbaring nie. Al waaroor dit gaan, is vyf woorde: Ons het mekaar almal nodig. Solank elke rolspeler nie ‘n groot ding hiervan maak en bly maak nie, gaan die volgende bly taan:

  • die verkope van dié boeke in die handel;
  • die publikasie daarvan deur uitgewers;
  • die wete dat hulle saak maak en dat boeke vir hulle geskep word by die drie teikengroepe;
  • en optimisme by die skrywers.

Ek skryf dus – toenemend minder optimisties – omdat ek in volhardende geloof in die boekwaardigheid van boeke vir kinders, tieners en jongvolwassene glo, soos in hulle menswaardigheid.

Daar is ’n verskil tussen kinderlitaratuur en jeugliteratuur. Wil jy verduidelik hoe jy dit sien?

Vandat my oë as skrywer oopgegaan het, beskou ek Myles McDowell se definisie van tydlose kinder-, jeug- en jongvolwasselit as uitsonderlik raak: “A good children’s book makes a complex experience available to its readers; a good adult book draws attention to the inescapable complexity of an experience.”

’n Kognitiewe, affektiewe en spirituele progressie in die leser word in die skryf van boeke vir elke kategorie aangevoel, begryp en verwoord. Deesdae lyk en klink dit vir my asof ook die dinosourusse uit die eerste era van die Afrikaanse jeugboek hulle lesers nie langer wil bepreek nie.

As ons nou van jong volwassenes praat: Watter drie jongvolwasselitboeke sal jy aanbeveel?

Al die vrae tot dusver was regverdig. Hierdie een is onregverdig. In die dagbreeklandskap tussen jongvolwassene- en volwassene wees, kan ‘n mens net maar stapels boeke op die tafel uitpak en al die rakke afstof en helder verf vir meer. Ek sal navraag doen of die volgende drie tussen al die boeke daar is, en as hulle nie daar is nie, sal ek ‘n kabaal opskop:

  • The Poisonwood Bible, deur Barbara Kingsolver. Daar moet ook langsaan, op die boekrakke vir 25-plussers, ‘n eksemplaar wees.
  • Ek droom van ’n Droom, deur Elsje Neethling met Maretha Maartens. Elsje het haar eie stem. Sy inspireer. Sy is een van die eerlikste en snaaksste mense met kanker.
  • The Richest Man in Babylon, deur George Samuel Clason, want jongvolwassenes loop in die toekoms in, en hulle wil dit finansieel máák. Langsaan, in die 25-plussers se afdeling, moet daar ook ‘n eksemplaar wees.