Jy blaai in die argief vir Blou trane.

by izakdv

’n Harde verhaal, diep uit die maag van monster

Junie 23, 2014 in Uncategorized

bloutrane

Koop dit by Kalahari.com

Ook as e-boek beskikbaar

Blou trane is grinterig. Dis kru. As julle terugdink aan Trainspotting, wel, hier is ’n boek oor die gatkant van die heroïenslaaf se lewe – in Afrikaans.

Dit word as dokumentêre fiksie bemark, deels omdat die outeur self ’n wals met dwelms gegooi het, maar gelukkig is hier ’n slim skrywer aan die stuur; die dokument word fiksie. Die fiksie dra die leser, niks sedelessies of handjiesklap oor die nege stappe nie.

Blou trane is minder filmies as Trainspotting, hoewel daar ’n paar tonele is wat … nou ja. Lees maar self.

Daniella Day skryf egter eerder oor die méns. Sy plaas haar karakters in situasies, die situasie is nie die belangrikste element in die boek nie. Ek dink dis ’n ma-ding. Irvin Wells se totaal onverstaanbare Skotse Engels was gemik om visuele drogbeelde. Hierdie drogbeelde kom in Blou trane ook voor, maar dit is ’n meer menslike werk – hoewel steeds nie vir sensitiewe lesers nie.

Blou trane is dus baie anders as Trainspotting. Gelukkig. Dit is ’n eiesoortige verhaal, ’n ondersoek na die karakter van die verslaafde. Daniella Day het besef dat sy gelukkig was om redelik ongeskonde uit haar dwelmtog te kom; nie almal kan dieselfde sê nie. Die probleem is dat diegene wat erger goed beleef as Daniella, dikwels nie meer die vermoë het om daaroor te skryf nie.

Ek, en baie ander, het al magteloos toegekyk hoe vriende keer op keer hulleself verloor en elke keer dieper in die donker gat van verslawing in dôner.

Toe Blou trane op my tafel beland, was ek aanvanklik skepties. Nóg ’n boek? Ek was regtig nie lus daarvoor nie. Amper almal wat al ooit in rehab was, het al ’n boek geskryf. Dis immers deel van die terapie. Gelukkig is dié een veel eerder ’n spanningsroman, dit is beslis nie ’n nog ’n boek wat sê: “Oe, luister na mý storie!” nie.

Ek het ’n paar gesprekke met Daniella gehad en deel dit graag met julle. (’n Mens spreek haar naam uit Da’NIEL’ja).

* * *

IdV: Daniella, Marlene van Niekerk sê altyd vir skrywers hulle moet wegskryf van hulleself. Jy het. Lisa, die hoofkarakter is nie jy nie? Is ek reg?

DD: Dis aanvanklik outobiografies, maar later bly ek (Daniella) agter en leef myself volkome in Lisa, ’n dwelmverslaafde, se lewe in. Dit was beslis nie maklik nie – ek sukkel egter om objektief te bly wanneer ek skryf en voor ek myself kom kry, drink ek koffie saam met my karakters. Gedurende die skryf van Blou trane het ek gevoel wat Lisa gevoel het en self ’n hele paar blou trane gehuil.

IdV: Toe ons die ander dag gesels het, was jy baie openlik daaroor dat die meeste rehabboeke maar “boring” is – jou woord. Ek stem saam. Maar toe gaan skryf jy ook ’n boek ná jy in rehab was?

DD: Gordon Dryden het gesê “an idea is a new combination of old elements.” Ek hoop dit beantwoord jou vraag.

IdV: Gelukkig is hier nie ’n enkele sedeprekie in die boek nie. Net seks en drugs en seerkry…

DD: Ek skryf definitief nie omdat ek wil preek en ander mense wil oortuig om beter mense te wees nie. Ek skryf, want ek is verslaaf aan skryf. Ek kry onttrekkingsimptome as ek nie pen en papier het nie en dan sal ek my gedagtes op sms’e “save”. Ek kan net nie anders as om te skryf nie, maar as iemand iets kan wys raak, en insig kry deur my stories, te lees – great! Ek glo dat as daar ’n boek is wat ek baie graag wil lees en dis nog nie geskryf nie, moet ek dit skryf.

IdV: So ’n rukkie terug het ek ’n aantal skrywers uitgevra oor literatuur vir jong volwassenes wat verskil van kinder-en-jeugboeke. Wanneer ’n mens vir lesers van sestien en ouer skryf, mag jy veel meer waag, was hulle antwoord. Watter ouderdomsgroep het jy in gedagte gehad toe jy Blou trane geskryf het?

DD: Terwyl ek Blou trane geskryf het, het ek mense tussen die ouderdom van agtien en sestig in gedagte gehad. Omdat ek self ’n ma is, sal ek nie wil hê my kind moet die boek lees voor die ouderdom van agtien nie, maar bygesê vandag se jeug is ongelooflik ryp. Mense ouer as sestig moet asseblief ook nie die boek lees nie – ek wil nie verantwoordelik wees vir hulle hartaanvalle nie.

IdV: Dié boek is nie vir sissies nie. Daar is kru taal en harde tonele van seks en swaarkry in die teks. Lisa spin al die pad onder toe en beleef verskriklike goed. Hoekom het jy dit vir haar moeiliker gemaak as vir jou?

DD: Dit moes aan die werklikheid grens, daarom is die taalgebruik baie eg aan ’n dwelmverslaafde se taalgebruik. My eie storie was egter te boring – my verbeelding moes ingryp. Dagga is nie ’n harde dwelm nie en soos jy self gesê het, het die meeste mense ten minste al een keer dagga gerook. ’n Storie oor daggaverslaafdes sou nie werk nie en dis waarom die verhaal oor ’n heroïenverslaafde handel en ongelukkig beleef heroïenverslaafdes verskriklike goed en eindig die meeste van hulle se lewens soos Lisa s’n.

IdV: Ek het netnou genoem dat jy weggeskryf het van jouself, maar ek is bewus daarvan dat jou ma baie ontsteld is oor die boek. Ek vra dit, want ander skrywers moet ook hulle ma’s in die oë kyk. Hoe hanteer jý dit?

DD: Ek was van dag een af eerlik met my ma en gelukkig ken my ma my beter as enige iemand. Sy weet ek is nie Lisa nie. Sy is egter baie ontsteld oor die taalgebruik, maar sy verstaan dat die boek met ’n goeie doel geskryf is, al preek ek nie, dink ek skok ek genoeg, sodat dit ’n impak op mense se keuses kan maak. Ek hoop so.

IdV: Jou uitgewers het besluit om die boek dokumentêre fiksie te noem. Hoe voel jý oor hierdie etiket?

DD: Dit is wat dit is – ’n dokumentêre fiksie en ek voel heel gemaklik oor hierdie etiket.

IdV: In rehab het jy mense ontmoet wat al ver geval het. Kon hulle vir jou die nodige materiaal gee om die storie klaar te maak, of moes jy nog navorsing doen toe jy uit die stelsel is?

DD: Baie van die mense se karaktereienskappe, selfsug en manier van praat kom te vore in die boek. Ek het baie navorsing gedoen, maar die einde was vir my baie moeilik om te skryf. Ek het lank daaroor gedink en dit seker tien keer herskryf, maar op die einde het ek almal se voorstelle om my geïgnoreer en besluit hierdie storie gaan ek anders eindig.

IdV: Nou vir ’n baie persoonlike vraag, wat jy mag weier: Jou hoofkarakter gebruik redelik baie verskillende dwelms. As ek reg lees, was jy egter vir daggaverwanteredes in rehab. Die meeste van ons het al ’n slag dagga probeer; hoekom moes jy rehab doen?

DD: In my geval was dit meer stoutigheid en nuuskierigheid as om te ontsnap uit my omstandighede. Ek het “magic mushrooms”, mandrax en ecstacy slegs eenkeer gebruik uit nuuskierigheid – nie alles op een slag nie. Ek het dagga ’n paar maal in die studentehuis gerook. Toe my ma uitvind daarvan, het sy my by die rehabilitasiesentrum gaan inboek. Ek dink dit was meer om my skrik te maak. Ek was opgeneem vir die gebruik van dagga. Of so het ek gedink, want ná die urientoets het ek tot my skok en ontsteltenis besef die dwelmhandelaar het die dagga al die tyd met sedasiemiddels gemeng.

IdV: Nog ’n persoonlike vraag: Is jy nou skoon?

DD: Ek is al vir langer as vyf jaar skoon, ek is immers nou ’n mamma. Ek is baie gelukkig en ek kry die beste “high” as ek my kind sien lag of as my man vir my sy “lovesongs” sing.

IdV: Ek verstaan wel dat jy jou lus vir skryf ’n “verslawing” noem. Gaan ons nog ’n paar boeke uit jou pen sien? (Ek sou bitter graag ’n moerse lekker spanningroman wou sien wat afspeel teen die wêreld van dwelmbase en prostitute.)

DD: Beslis, ek is tans besig met die beplanning vir nog ’n storie.

IdV: Hoe het jy gevoel toe jy Blou trane die eerste vashou?

DD: Amazing! En ’n klein bietjie bang, want nou kan my skoonma en my ouma die boek gaan koop.