Jy blaai in die argief vir Biskop David Russel.

by izakdv

Biskop David Russel sterf

Augustus 18, 2014 in Uncategorized

Kliek op die foto’s om hulle groter te maak / Click on the photographs to enlarge them.

David Russel RIP

To my English-speaking friends, here is the official codicil that was read when David Russel was awarded the Order of the Boabab Silver, and here is a formal tribute from the Mail & Guardian, largely written by SAPA. Here is tribute by bishop Desmond Tutu and others. What follows is a personal account in Afrikaans.

* * *

Biskop David Russel is oorlede.

David was ’n liberale teoloog wat ewe sterk teen homofobie en die patriargie as teen apartheid baklei het.

Ek was bevoorreg om hom by geleentheid te ontmoet en is op 2 Augustus 2008 gevra om ’n aantal portrette te neem. Die opdraggewer was die Good Hope Metropolitan Community Church wat sy gesig op plakkate wou gebruik tydens die jaarlikse gay pride march as een van die mense wat hulle ondersteun het om mense van dieselfde geslag te kon laat trou.

David was nogal geamuseerd oor die eer om ’n poster boy te wees.

david russel 3

Sy agtergrond

David Patrick Russel is op 6 November 1938 gebore. Hy het aan die Universiteit Kaapstad gestudeer en is daarna Oxford toe om ’n meestersgraad te doen.

Hy het teruggekeer na Suid-Afrika en het ’n PhD in Christelike etiek aan die Universiteit Kaapstad verwerf.

 

Botsings met die apartheidregering

David het aktief teen apartheid baklei. In 1977 was hy ’n kapelaan vir die trekarbeiders in Kaapstad en in dié tyd is hy onder huisarres geplaas. In 1980 het hy dié verbod verbreek en is toe tot drie en halwe jaar tronkstraf gevonnis waarvan twee en halwe jaar opgeskort is.

Sedert 1986 het hy op die Bank van Biskoppe van die Anglikaanse Kerk gedien in 1987 is hy verkies tot biskop van Grahamstad.

Dit is waar ek hom en sy vrou, Dorothea, die eerste keer ontmoet het, want in 1994 het ek by St Andrews Prep School, in Grahamstad, gewerk waar sy seuns Sipho en Thabo op skool was. Almal wat in sy dampkringe beweeg het, wou my vertel van die man wat doodeenvoudig voor die stootskrapers gaan lê het toe die regering weer besig was om mense se huise plat te stoot.

 

Vroueregte

Biskop David Russel was ook die eerste om vrouepriesters in te seën. In 1992 het hy Professor Nancy Charlton, Dr Bride Dickson en Sue Groves in die amp bevestig.

Ek was baie gelukkig om kort daarna, in 1993, ook ’n nuutjie te beleef toe die NG Kerk in Grahamstad een van hulle, ek dink dit was Nancy Charlton, genooi het om vanaf die preekstoel vir ons te preek. Dit was nogal iets.

 

Gayregte

In 2004 het hy afgetree en in Kaapstad kom woon.

Sy boek, The Bible and Homosexuality, what is the Spirit saying to the Churches, het in daardie jaar verskyn. Ek was bevoorreg om deel te hê aan ’n plegtigheid in Houtbaai waar die boek bekendgestel is.

Hy het sterk baklei dat huwelike vir paartjies van dieselfde geslag gewettig moes word.

Volgens sy seun is hy in 2011 met kanker gediagnoseer.

Op 27 April 2011 is hy deur Staatspresident Jacob Zuma vereer met die Orde van die Kremetart, Silwerklas.

David was nog aktief in die Kerk en het ook, voor hy te siek geword het, by die inklusiewe Good Hope Metropolitan Community Church, wat in daardie tyd nog in Distrik Ses vergader het, gepreek. Selfs ná hy opgehou preek het, was hy nog ’n gereelde besoeker aan dié gemeente.

David is Sondag 17 Augustus 2014 oorlede.

David Russel 2