Jy blaai in die argief vir ATKV.

by izakdv

Benny Lindelauf: My ouma was ‘n leunstoel vol stories

November 20, 2014 in Uncategorized

Ek het vir Benny Lindelauf gevra om iets oor sy formidabele ouma te skryf. Ek weet die ouma in sy twee jeugboeke is baie losweg gebaseer op hierdie ware ouma.

benny and oma

Ek plaas eers sy stuk en net daarna my vertaling van sy stuk, so moenie bekommerd wees as die Nederlands jou pootjie nie.

* * *

Benny in Nederlands (Afrikaans direk hierna)

Mijn oma was vroeger zo dun dat ze zich kon verstoppen achter een berk. Maar toen was ik nog lang niet geboren.

Ik ken haar vooral als de dikke, gezellige oma die erg van eten en drinken hield. En ze rookte als een schoorsteen.

Ik was blij met mijn dikke oma. Je kon zo lekker in haar wegkruipen, net alsof ze een grote fauteuil was.

En ze was een fauteuil vol verhalen. Ze hield van sprookjes, al gingen die sprookjes nooit zoals ze hoorden te gaan. Bij haar kwam Sneeuwwitje bij Assepoester op bezoek en aten ze het huisje van de heks van Hans en Grietje stiekem op zodat de heks onder de blote hemel moest slapen.

Ik hield ook van haar verhalen over vroeger.

Zoveel miste ik haar dat toen mijn oma doodging, ik iets met die verhalen wilde doen. En dat werden dus Negen Oop Arms en Die Hemel van Heivisj.

Mijn oma is al lang dood, maar ik mis haar soms nog steeds. Ze heeft mijn boeken nooit kunnen lezen. Als er een hemel bestaat hoop ik dat daarboven ook een bibliotheek is en dat ze mijn boeken daar kan lenen…

* * *

Benny in Afrikaans

My ouma was vroeër so skraal, sy kon wegkruipertjie speel agter ’n berkeboom.* Maar dit was lank voor ek gebore is.

Ek het haar geken as ’n dik, gesellige ouma wat baie van eet en drink het gehou het. En sy het gerook soos ‘n skoorsteen.

Ek was gek na my dik ouma. Jy kon so lekker in haar wegkruip, so asof sy ‘n groot leunstoel was.

Sy was ‘n leunstoel vol stories. Sy het gehou daarvan om sprokies te vertel, al het haar sprokies nooit geklink soos dit hoort nie. By haar het Sneeuwitjie sommer by Aspoestertjie gaan kuier en dan het hulle skelm die huisie van Hansie en Grietjie se heks opgeëet sodat die heks maar onder die sterre moes slaap.

Ek het ook baie gehou van haar stories van toeka se jare.

Ek het my ouma só gemis toe sy sterf, dat ek iets met al daardie stories wou doen. Dit is hoe Nege oop arms en Die Hemel van Heivisj ontstaan het.

My ouma is al lankal dood, maar ek mis haar nog steeds. Sy kon nooit my boeke lees nie. As daar ’n hemel is, hoop ek dat daar  ’n biblioteek sal wees waar sy my boeke kan gaan uitneem…

* (’n Berkeboom het ’n lang, regop en dun stam, ’n bietjie soos ’n bloekom in Suid-Afrika – IDV)

* * *

Net hier onder vertel ek ’n wonderlike storie van die ouma en bier – wat tot in Soweto gaan draai het, so rol gerus af as jy belangstel.

benny l 9 oop arms

Daniel Hugo het Benny se twee boeke oor sy ouma in Afrikaans vertaal. Hulle is deur Protea Boekhuis uitgegee.

47272046_0_Img2

Albei lees lekker. Hoewel hy bekendstaan as jeugskrywer, is hierdie boeke ewe geskik vir grootmense. Moenie jou die plesier ontneem nie. Hulle is spotgoedkoop, die twee saam kos nie veel meer as ’n normale boek nie.

* * *

Nou die beloofde staaltjie oor Benny, ’n bier, sy ouma en ’n besoek aan Soweto.

benny and oma

Kliek weer op die foto hierbo om dit groter te maak en kyk mooi na daardie gesiggie. Benny lyk redelik dronk, nie waar nie? Hy het in die Kaap vir ons vertel dat sy ouma daardie dag ’n bier voor hom neergesit het. Hy het dit natuurlik gedrink, maar die alkohol was te veel vir sy kindergestel en hy was taamlik gou hoenderkop.

Dit was die laaste keer dat hy ooit dronk was. Ek het hom leer ken as iemand wat geen alkohol gebruik nie. Maar toe besoek hy die Soweto as gas van die ATKV. Hulle neem hom na ’n restaurant daar in Soweto en die tradisionele bier word omgestuur. Benny het saamgedrink. Saluut!

Benny Lindelauf Soweto

Wat cool oumas nie alles aan jou doen nie!

benny lindelauf klas soweto

Hier is Benny in die klaskamer waar die ATKV geletterdheidsklasse aanbied.

benny lindelauf afrikaans soweto

Benny Lindelauf saam met die geletterdheidsklas. Vierde van links is Karien Brits, die ATKV se bestuurder van taalaangeleenthede.

benny in soweto welkom by tak

Benny buite die ATKV se tak in Soweto.

* * *

benny lindelauf owl house

Op pad terug na die Kaap het Benny en Eureka Barnard ingeloer by die Uilhuis in Nieu-Betesda.

Benny Lindelauf valley of desolation

Hier is Benny by die Vallei van Verlatenheid.

Benny lindelauf en Heila Theron

Benny in Port Elizabeth waar hy opgetree het saam met die plaaslike skrywer Heila Theron. Heila is self ’n baie cool ouma.

* * *

49969229_0_Img2

Hierdie stuk is natuurlik geïnspireer deur Marita van der Vyver se boek Die coolste ouma op aarde.

Onthou, Marita nooi jou om ’n foto van jou en jou kleinkind op haar Facebookgroep te plak. Die oulikste foto sal jou die kans laat staan om saam met Marita te gaan koffie of tee drink wanneer sy volgende jaar weer Suid-Afrika toe kom. As jy slim genoeg is om ’n kopie van Die coolste ouma op aarde by jou foto in te sluit, dan gaan jy sommer nog punte bykry!

* * *

Koop Die coolste ouma op aarde hier.

Koop Nege oop arms hier.

Koop Die Hemel van Heivisj hier.

* * *

Die historiese foto is deur Benny verskaf. Eureka Barnard van SASNEV het die ander verskaf.  Daar is mee foto’s van Benny se Soweto besoek op Karien Brits se Facebook blad.

* * *

Ek het tevore geblog oor my ouma Miep en oor my ouma Lenie, twee redelik uiteenlopende oumas.

by izakdv

Om in die klaskamer te slaap vir ‘n drama

September 20, 2014 in Uncategorized

Ek word elke nou en dan in my spore gestop oor die opoffering wat nog nodig is vir “gewone” goed in hierdie land.

Schoonspruit Sekondêre Skool op Malmesbury is aan die verkeerde kant van die outydse skydslyne geleë. Tog het hierdie skool al talle toekennings verower vir hulle ongelooflike werk.

Hulle het vanjaar TWEE stukke in die finaal van ATKV-tienertoneel wat op Aardklop plaasvind.

En tog, en tog… Kobie Jacobs, die drama-onderwyser al daar, vertel my baie ouers het nie motors nie.  Malmesbury is ’n plaasgemeenskap en die afstande is groot. Wat maak die kinders dan om te oefen? Hulle slaap in die klaskamer. Dit is die enigste manier hoe hulle die ure kon insit.

Dié skool sukkel nog om genoeg geld bymekaar te maak om vir alles te betaal. As iemand dalk kan help, kontak Schoonspruit Sekondêre Skool op Malmesbury.

Kobie  is vreeslik opgewonde daaroor dat haar groepie so goed vaar. Dit is ’n arm deel van ons land en gewoonlik is daar nie geld om mee te ding met die groot skole nie. “Geld vir dekor en geld vir kostuums is daar nie,” sê sy. Hierdie jaar was daar ’n Duitse meisie wat vrywillige werk by die skool kom den het, en sý het die kostuums vir ons gemaak.”

Haar twee regissuers, Gershwin Cloete, wat “Nog nie vry nie” afrig, en Emile Smith wat “Ons Kleine Dorpie” afrig, is albei oudleerders en hulle gee hulle tyd heeltemal gratis.

* * *

Terloops: Die digter, PJ Philander, was die eerste hoof van hierdie skool voor hy landuit is tydens apartheid.

* * *

Nog ‘n terloops: ATKV-Tienertoneel vind vanjaar vir die vyftigste keer plaas.

Ek het vroeër vanjaar met van die mense gesels wat deur die projek geraak is – hier is die skakel.

Om meer te lees oor vanjaar se tien finaliste, hier is die skakel,

by izakdv

Die VVA deel boeke uit in Kayamandi

September 9, 2014 in Uncategorized

Verlede week was Nasionale Boekweek en die Vriende van Afrikaans (VVA) het boeke, wat deur LAPA geskenk is, uitgedeel aan ’n aantal leerders in Kayamandi.

14 09 04 vva kayamandi_021

Amanda de Stadler en Chareldine van der Merwe het my genooi om ’n paar foto’s te kom neem. Dié twee gee leesklasse aan leerders wat in Kayamandi woon, maar deur hulle ouers na goeie skole buite Kayamandi gestuur word om ’n goeie opleiding te kry.

14 09 04 vva kayamandi_023

Hier gesels Chareldine met twee van die knapies wat vrywillig na hierdie ekstra klasse kom.

14 09 04 vva kayamandi_020

Die boek is Utshepo Mde / Groot genoeg, deur Mhlobo Jadezweni en Hannah Morris.

14 09 04 vva kayamandi_019

Die teks is in Afrikaans en Xhosa. Dit vertel die verhaal van Tshepo wat wil groei, so hy druk sy voete in beesmis en gooi water oor sy kop uit…

14 09 04 vva kayamandi_052

Die storie is eers in Afrikaans gelees.

14 09 04 vva kayamandi_048

Toe in Xhosa.

14 09 04 vva kayamandi_041

Daar is aandagtig geluister.

14 09 04 vva kayamandi_069

Hier is Amanda en Chareldine saam met die kabouters wat elkeen ’n boek present gekry het.

14 09 04 vva kayamandi_049

Om meer te wete te kom oor die werk van die VVA, besoek gerus hulle webwerf: www.vriendevanafrikaans.co.za.

Die VVA het onlangs ’n volfiliaal van die ATKV geword: www.atkv.org.za.

* * *

14 09 04 vva kayamandi_002

Die Legacy Centre is ’n storie op sigself. Dit behoort aan die Stellenbosch gemeente en word bestuur deur die gemeente en die Stellenbosch Universiteit. Hier is meer inligting oor die sentrum: http://legacykayamandi.blogspot.com/p/about.html

14 09 04 vva kayamandi_008

Daar is talle klaskamers wat volgens ’n streng rooster aan instansies, soos die VVA, beskikbaar gestel word.

14 09 04 vva kayamandi_004

Hierdie twee fisioterapeute help ook daar.

14 09 04 vva kayamandi_012

Dit is ’n veilige hawe vir hierdie knape.

14 09 04 vva kayamandi_014

Nie dat hierdie twee lyk of hulle dit nodig het nie!