by

Om uit te kom

Junie 20, 2015 in Uncategorized

Dis koud. My foon sê dis 6º C, maar die windjie maak die aanvoelbare temperatuur laer. Hier in die Kaap het die son vanoggend eers om 07h50 begin opkom. Die strale is nog nie by ons op die Cape Flats nie.

bbFullSizeRender 3

Ek parkeer om 08:00 die motor by Valhalla Park se openbare biblioteek.  Daar staan van die kinders al. ’n Weldoener het ’n bussie geborg om hulle Paart toe te neem. Hulle gaan die Taalmonument besoek, en hulle gaan kyk na werksgeleenthede in die gasvryheidsbedryf.

Vir ’n oomblik oorweeg ek dit om in die motor te bly sit, maar ek kyk na die kinders en klim toe maar uit.

Dit ís koud. Deksels.

Dis slim kinders hierdie. Hulle het almal die finaal gehaal in die Valhalla Park-streek vir die leeskompetisie. (Hier is die berig oor die kompetisie.)

Ek stap nader.

Die inkommer laat die gesprek opdroog. Ek groet. Hulle antwoord in Engels en ons gooi ’n paar woorde in Brits, maar toe iemand in mooi Afrikaans iets sê oor die koue, toe antwoord ek in Afrikaans.

Die skanse kom af.

Hulle wil weet of ek deel is van die uitstappie. Nee, sê ek. Ek het net gou iets kom aflaai. Maar dit is vir die uitstappie.

Nou is daar stilte, toe vra iemand of ek dalk die mense se nommers het wat die kinders neem? Nee, sê ek weer, maar ek ken vir Reney. Sy werk in die biblioteek en sy gaan saam. Ons moet haar selnommer vra.

Dit raak weer stil. “Nou hoekom staan meneer dan hier in die koue?”

Ek sê ek wag mos, net soos hulle.

“Ja,” sê die een meisie se ma. “Ek kan mos nie my kind hier los nie. Ek loop nie voor ek nie met my eie oë gesien het my kind klim in die taxi saam met die regte mense nie.”

“Is so!” beaam ’n ander ma. Toe, so half of dit nodig is om te verduidelik, draai sy na my toe. “Is my meisiekind, die een. Sy is al wat ek het. Vir haar sal ek sterf.”

Dêmit mense. Moederliefde.

Maar toe gebeur nog twee gesprekke wat my hart weer laat punt trek.

Gesprek 1

Die een ma vertel opgewonde hoe trots sy is dat haar kind juis gekies is vir ’n uitstappie.

Die ander beaam. Toe besing ’n ander ma die lof van die biblioteekpersoneel wat hierdie goed doen en, voeg sy trots by, sy was ook al op ’n uitstappie saam met die biblioteek. Daardie dag het hulle gaan loop in die natuurreservaat om die UWK.

Nou, jinne mense, vir die wat nie die Kaap ken soos ek nie: Die hek van UWK is presies 6,7 km pad af. Ja. Jy het reg gelees. Die uitstappie wat sy onthou, die een wat sy met trots deel, haar eie ontvlugting uit Valhalla Park, was minder as 7 km weg.

Dôner.

Gesprek 2

Reney daag op en ons laai die kos af, wat ’n maatskappy geborg het.

Die personeel ken my, groet my op die naam en gesels met my soos ’n gelyke. Dit moes die ys gebreek het, want toe kom vertel die ma wat bereid is om te sterf vir haar kind hoe trots sy is op hierdie meisiekind: Die kind het al te vore op ’n uitstappie gegaan – daar na ’n hoërskool in Kaapstad waar sy toetse geskryf het, want sy is slim. Ongelukkig was daar ander wat beter punte gekry het. Tog, hulle gee nie moed op nie. Hulle hoop die kind kan hier uitkom…

bbFullSizeRender 4

Wie het ’n miljoen dat ons vir hierdie kinders kan beurse gee na goeie skole toe? Hier sit die helfte van hulle: betyds, slim en boonop mooi ook. Agter is Reney. Dis haar man se verjaarsdag, maar sy gaan saam.

* * *

Ek het vanoggend weer besef hoeveel ek gewoon nie weet nie.

Deksels, man. Armoede is boos.

Net ’n dag te vore lees ek weer hoe een van die Rock girls vertel hoe moeilik dit is om skool toe te gaan as die bendes skiet in Mannenberg. Ons kla vinnig oor geweld, maar ons het nie ’n idee hoe dit is om werklik in ’n oorlogsone te bly nie.

Dit gebeur egter nie net in Suid-Afrika nie. Lees gerus hierdie insiggewende berig oor die werkersklas in die VSA.

* * *

As jou maag nog kan hanteer, hier is ’n artikel oor die lewe in ’n plakkerskamp op Worcester.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.