by

Ena Murray deur die oë van ander

Junie 8, 2015 in Uncategorized

Ena Murray: 27 Desember 1936 – 4 Junie 2015

Alle foto’s deur Susan Bloemhof

Lekkerleesboekrak op Facebook was die eerste. Voor sonop was die nuus daar: “Rus in vrede Tannie Ena Murray. (1936-2015)”.

Dié boodskap is op 4 Junie 2015 geplaas die deur Marion Erskine, die skrywer van Donatello en Volksie (Tafelberg, 2010).

Dit is gepas dat dit juis ’n skrywer van ’n liefdesverhaal is wat haar dood aan die wêreld rugbaar gemaak het. Dit is ook gepas dat ’n groep op die sosiale media, wat gewy is aan lekkerlees, die draer van die boodskap sou wees, want Ena Murray is by verre die mees geleesde skrywer in Afrikaans en haar boeke is skaamteloos geskryf om lekkerlees te bevorder.

Murray het begin skryf voor die dae van rekenaars en voor die sosiale media. Die feit dat haar lewe wyd so gevier op hierdie platforms vertel ons iets van die grootsheid van hierdie fenomenale mens.

Die bevestiging van haar dood het gekom van Etienne Bloemhof, hoof van fiksie by NB Uitgewers. Murray is skynbaar net ná vier  die oggend (4 Junie 2015) oorlede.

Susan Bloemhof, Etienne se gade, het hierdie foto’s gestuur. Hulle is kleinnode, want Ena Murray was bekend daarvoor dat sy kamerasku was.

Die foto’s is in Augustus 2012 geneem in te Santos Haven Aftreeoord, Mosselbaai. By dié geleentheid het Etienne Bloemhof namens NB Uitgewers die prys aan haar oorhandig as “Die Gewildste Skrywer in Afrikaans.” Hierdie prys is nie uit iemand se duim gesuig nie. Week ná week is daar ten minste een omnibus van Ena Murray op Nielsen top 100 – baie dikwels is haar boeke egter in die top 10.

’n Persverklaring deur NB Uitgewers sê dat daar 131 titels uit haar pen verskyn het en dat daar reeds 40 omnibusse verskyn het waarin haar werk heruitgegee word.

Tien jaar gelede het hierdie omnibusse reeds meer as 350 000 eksemplare verkoop.

Eer

Murray is in 2013 deur die ATKV vereer van haar bydrae tot die Afrikaanse letterkunde.

Die ATKV se skrywersalbum bied ook ’n oorsig van hierdie fenomeen se werk.

Wat ander skrywers sê

Verskeie groot Suid-Afrikaanse skrywers het gereageer toe hulle gevra is om hulde te bring aan Murray.

Dina Botha, ’n skrywer van meer as 40 Romanza-titels, en Chanette Paul, wat reeds die Lekkerlit-prys drie maal gewen het, hou tans ’n merkwaardige rekord. Albei was sedert Maart 2013 reeds 76 keer op die Nielsen top 100 vir fiksie, en albei was 39 keer in die top veertig.

Dit is indrukwekkend, maar Murray se syfers is veel beter.

Dina Botha sê die volgende in haar huldeblyk: “Ena Murray is die rede hoekom ek ‘n skrywer wou word. Van kindsbeen af het sy my met haar wonderlike stories na vreemde mense se huise geneem en my vir kort rukkies deel van haar wonderlike karakters se lewens gemaak. Sy het my geleer om te droom en my eie stories uit te dink. Maar, al probeer ek hoe hard, ek sal nooit haar wonderlike kreatiewe skoene kan volstaan nie.”

Chanette Paul het dit soos volg verwoord: “Ena Murray was ‘n absolute fenomeen in Afrikaans. Sy het haar reguit in die harte van vroue ingeskryf en daarmee ook uitsonderlike boekverkopestatistiek behaal.

“Vir my het sy op ’n persoonlike vlak baie beteken, al het ek haar nie geken nie. As daar een skrywer is wat my geïnspireer het om romantiese verhale te skryf, is dit Ena Murray. Sy was my gunstelingskrywer in my jongmeisiedae. Ek kon nie wag vir elke nuwe Ena Murray-boek wat by die biblioteek geland het nie. Daar was niks lekkerder as om daardie eerste paar paragrawe te lees en ingetrek te word in ‘n heerlike romantiese verbeeldingsvlug nie.

“In 2004 was ek bevoorreg om saam met Ena en Wilna Adriaanse eregaste te wees by ‘n geleentheid. Ek wou daardie aand so graag vir Ena sê hoe sy ‘n eensame meisiekind se lewe opgekikker het met haar stories, maar ek was te ingetoë. Die oomblik was vir my te groot, die gedagte om saam met haar in die kollig te wees, te oorweldigend.

“Vir my lê Ena Murray se nalatenskap nie net in haar boeke nie, dit lê in daardie opwinding wat ek telkens gevoel het wanneer ek een van haar boeke optel. Dit lê in die herinnering aan die onskuldige skooldogter wat tog so gesmag het na die Liefde en dit gedurende die lees van Ena se stories by verstek ervaar het.

“Sonder Ena Murray sou my jongmeisiedae soveel armer gewees het.

“Dankie, Ena. Rus in vrede en in die wete dat jy waarde toegevoeg het.”

(Oor die geleentheid waarna Chanette verwys hierbo, is destyds só berig in Die Burger – die teks in die skakel, die berig het só gelyk, dankie aan Chanette wat dit gehou het.)

Sophia Kapp, nog ’n groot Afrikaanse verkoper, het haar hulde aan Murray só verwoord: “Sy het reusewerk gedoen in ’n literêre wêreld wat nooit haar bydrae daartoe sou erken nie. Sy het grense verskuif in ’n genre wat nooit eintlik agting of respek afgedwing het nie. Sy het geskryf in ’n taal, en vir mense, wat onverreken en gemarginaliseer is. Sy het bly skryf sonder dat haar aandeel daarin om die Afrikaanse boekebedryf solvent te hou, ooit verreken is. Tog het sy aanhou skryf, onverskrokke en onverstoord, want sy het in die liefde bly glo.

“Van ons wat in jou voetspore mag trap, van hulle vir wie jy ʼn uur of twee se vergetelheid geskep het in ʼn onvriendelike wêreld, van almal wat vandag ryker mense is omdat hulle jou stories kon lees: Saluut!”

Kristel Loots, wat al amper vyftig boeke op haar kerfstok het, sê: “Ena Murray het haar lesers geken en verstaan. Sy het geweet hoe om die verbeelding aan die brand te kry en dan die slaapkamer se deur met grasie toe te trek. So het sy op ’n eiesoortige manier ’n deel van die magic van liefdesverhale vir haar lesers te behou. Daar is ’n sagte sensualiteit aan haar verhale wat die droom laat voortleef. En sy het altyd ’n storie gehad om te vertel.”

Haar lewe

Helena Alberta Mans is op 27 Desember 1936 te Loxton in die Karoo gebore. Sy het op Loxton skoolgegaan en het skynbaar reeds in die laerskool begin skryf. Matriek is behaal aan die Hoërskool Victoria-Wes.

Ná skool is sy as verpleegster gekwalifiseer – een van die redes waarom so baie van haar boeke ’n medici tema gehad het.

Murray was twee maal getroud. In 1959 is sy met Boet Murray getroud, maar hulle is ná 20 jaar geskei. In 1981 is sy met Jacques Mostert getroud. Hulle was saam tot met sy dood ’n aantal jaar gelede.

Haar eerste vervolgverhaal is in Rooi Rose gepubliseer en in 1960 het JP van der Walt-uitgewers haar Lisé gepubliseer. (JP van der Walt het later LAPA Uitgewers geword.)

Volgens NB-Uitgewers, wat die grootste deel van haar werk gepubliseer het, kon Murray gereeld tussen dertien en vyftien uur per dag agter die tikmasjien spandeer.

Wat haar uitgewers sê

Tydens ’n kort telefoniese gesprek met Nèlleke de Jager, wat jare lank Murray se uitgewer was, het gesê sy is “nogal verbyster” deur die skryfster se dood. Via ’n persverklaring het Nélleke kort daarna laat weet: “Ena se boeiende vertelstem, humorsin, deernis en insig in mense verklaar haar sukses. Wat my altyd die meeste van haar werk opgeval het, is dat Ena gegló het in die liefde. En vandaar die oortuiging waarmee sy haar stories geskryf het.”

Ena Murray en Etienne Bloemhof

Etienne Bloemhof, die hoof van NB-uitgewers se fiksie-afdeling, sê: “Ena se werkywer was ongekend. Sy het oor die jare gereeld haar hele oeuvre hersien, en daardie werk sal bly voortleef, onder meer in die huidige Ena Murray Keur-reeks wat sy self georden het. Sy was ’n uitsonderlik nederige en godsdienstige mens, iemand wat haar morele waardes gelééf het. Wat my van haar altyd sal bybly, is haar meelewing, dat sy sonder uitsondering altyd eerste na ander se welstand sou verneem, sodat die fokus nooit moes wees op haar eie omstandighede nie. Haar soort kom net een keer in ’n leeftyd verby.”

Marga Stoffer, waarnemende hoof van NB-Uitgewers, sê: “Ons is hartseer oor die heengaan van Ena Murray. Sy was ’n geliefde skrywer en ’n merkwaardige mens. Sy is vir lank beskou as ‘die mees gelese skrywer in Afrikaans’, en haar boeke word steeds heruitgegee. Mag sy in vrede rus.”

Elders, op Netwerk24, het George Louw, ’n toenmalige uitgewer van haar werk, ’n baie mooi huldeblyk geskryf. Lees dit gerus hier.

En Danie Botha, ’n toenmalige redakteur van haar werk, se huldiging verskyn hier, ook beslis die moeite werd om te lees.

’n Bittersoet verjaarsdag

LitNet het vroeg daardie selfde oggend, op 4 Junie, berig dat LAPA Uitgewers se Romanza-klub 10 jaar oud is.

Romanza is ’n uiters gewilde reeks boeke wat vir vroue van agt tot tagtig geskryf word; 156 000 van hierdie boeke word jaarliks verkoop. Hoewel die verhale meer modern is as Ena Murray se werk, is daar onder die skrywers en uitgewers geen twyfel nie dat Murray die matriks geskep het vir hierdie reeks boeke.

Alta Cloete het die bittersoet ironie van Murray se dood op hierdie dag van feesviering soos volg beskryf op Facebook: “Dis tipies van die lewe dat ‘n viering en ‘n sterfte so saamval. Op die dag wanneer ons dink oor die werk van Ena Murray vier Romanza hulle tiende verjaardag. Ten spyte van soveel vooroordele bly die liefdesverhaal ‘n gerusstellende teenwoordigheid in duisende lesers se lewe.”

’n Rukkie later, in ’n persoonlike boodskap, het Cloete soos volg gereageer op Ena Murray se dood: “Ena Murray het duisende Afrikaanse meisies aan die lees gekry en hulle as volwasse vroue aan die lees gehou in ʼn tyd toe daar nie soveel goeie ligte Afrikaanse leesstof beskikbaar was nie. Ek vermoed hulle mans het meer dikwels saamgelees as wat hulle dalk sou erken. Haar werk is so tydloos dat dit vandag te midde van die ontploffing van Afrikaanse lekkerleesboeke steeds relevant en gewild bly. Dis ʼn voorreg om ook my beskeie deel te probeer bydra tot die leeskultuur wat sy in Afrikaans help vestig het.”

LAPA het geen sjampanjeproppe geskied op 4 Junie nie (die viering sal op 12 Junie plaasvind), maar die drie uitgewers wat aan beheer staan van die Romanza-reeks, het elkeen hulde gebring aan die grootste van groot Afrikaanse skrywers.

Marlies Haupt het haar hulde soos volg betoon: “Ons het in die platteland grootgeword en ’n besoek aan die biblioteek (70km van die huis af) was ’n groot gebeurtenis. Ek het vinnig deur die kinderboek-afdeling gelees en toe ook deur Saartjie, Trompie, Bienkie en natuurlik Enid Blyton se The Famous Five. My Ma het af en toe romanses uitgeneem … en toe dié gogga eers byt, het ek en my sussies gereeld hare getrek oor wie eerste een van Ena se omnibusse mag lees. Ena het vir romanses gedoen, wat Pavarotti vir operasmusiek gedoen het: Sy het dit op ons boekrakke en in ons huise gevestig as ’n genre wat gelees mag word en moet word. Ena is beslis die doyenne van die Afrikaanse romanse en sy laat ’n reuse nalatenskap agter.”

Cliffordene Norton, haar kollega, verwoord haar bewondering vir Ena Murray soos volg: “Ek het Ena Murray ontdek toe ek een vakansie my auntie Lande se boeke geleen het. Ena Murray was (en is) my auntie se gunstelingskrywer en nadat ’n hele paar daarvan verslind het, kon ek verstaan hoekom. Ek verstaan nou nog hoekom. Het ek ’n gunsteling-Ena Murray-boek? Nee, want almal is awesome! Rus in vrede, mevrou Murray, because you’re a legend. Legends never die!”

Die senior-uitgewer al daar, Charlene Hougaard, het laat weet: “Alhoewel Ena Murray se skryfpen nou stil is, sal haar liefdesverhale voortleef in al haar lesers se harte. Sy het ’n enorme bydrae gelewer tot ontspanningsfiksie in Suid-Afrika, en duisende lesers laat aanhou Afrikaans lees.”

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.