Ontspanningsfiksie verdien regmatige plek as deel van die Afrikaanse literêre kanon
Maart 5, 2015 in Uncategorized
Dewald Koen, wat vandag verjaar, het ’n uitstekende resensie van Chanette Paul se Siende blind geskryf en daarmee ’n lansie gebreek vir alle puik skrywers van ontspanningsfiksie in Afrikaans.
Hy sê:
Met Siende blind het Paul bewys dat ontspanningsfiksie geensins as tweederangse letterkunde afgemaak moet word nie. Hierdie stiefkind van die Afrikaanse letterkunde (naas die Afrikaanse drama) verdien sy regmatige plek as deel van die Afrikaanse literêre kanon.
Ek kan dit nie beter stel nie, en die Afrikaans letterkunde het sulke stemme nodig.
Die punt is, daar is vier soorte boeke in my opinie:
- Moeilike boeke wat ook ’n goeie storie het.
- Lekkerleesboeke wat ook op vele vlakke iets beteken.
- Boeke waarin die skrywers allerlei letterkundiges truuks probeer, maar heeltemal vergeet om te vermaak.
- Ligte vermaak wat in een sitting gelees en geniet kan word sonder om enige verdere vrae aan die leser te stel.
Al vier het ’n plek. Te veel Afrikaanse mense dink egter steeds dat die enigste boeke wat in die kanon hoort, nommer 3 is, terwyl dit wêreldwyd nommers 1 en 2 is wat literêre verkope dryf, met nommer 4 wat dit vir uitgewers moontlik maak om nommer 3 (soms) uit te gee.
Chanette skryf, myns insiens, nommer 2 – veral met boeke soos die Maanschijnbaai–tweeluik, Laberint, Siende Blind, Raaiselspieël en Ewebeeld.
Die leespubliek stem saam. Chanette is net die ander dag vir die derde keer in ’n ry bekroon met die Lekkerlit-prys. Dit wil gedoen wees.
Lees Dewald se resensie. Dis krities, maar besonder knap.
Dankie, Dewald. Lekker verjaar!
En kom luister asseblief na Madri Victor se gesprek met Chanette op die Woordfees.
Onlangse kommentare