by

Ons almal wil ’n held hê

Januarie 28, 2015 in Uncategorized

onder 'n sterrehemel

Ek het aan Bets Smith ’n paar vrae gevra oor haar jongste tweeluik wat tydens die Tweede Anglo-Boereoorlog afspeel. Soos in d louw se eMajuba, is daar in Onder ’n sterrehemel ’n vroulike spioen wat opduik.

Die volgende boek, Goue dagbreek, verskyn vroeg in Februarie.

Terloops: Net die ander dag skryf Rudie van Rensburg oor die helde van sy kinderdae en die helde wat hy vandag koester. Lees dit gerus.

 * * *

Izak: Jou eerste voltydse werk was in die weermag se dokumentasiediens waar jy navorsing gedoen het oor die land se weermaggeskiedenis. Ek sien gereeld hoe die oorlog of die geskiedenis neerslag vind in jou boeke. Wil jy iets daaroor sê?

Bets: Wat betref my werk by die weermag, is dit moeilik om te sê wat het eerste gekom: die oorlog of die geskiedenis? Ek was nog altyd lief daarvoor om spanningsverhale en oorlogsromans te lees en het nog altyd ’n voorliefde vir die geskiedenis gehad. Geskiedenis was een van my hoofvakke vir my graad. Toe ek besluit om honneurs in geskiedenis te doen, moes ek in Pretoria aanbly en, omdat ek beslis nie ’n pos sou kry nie, het ek op aanbeveling van een van my dosente, by die SAW se dokumentasiediens aansoek gedoen vir ’n pos. Soos dit maar gaan, het een ding gelei na ’n volgende.

My eerste poging was ’n storie oor die grensoorlog, maar omdat dit in 1994 ingestuur is, was die politieke klimaat nie reg daarvoor nie. Gert Basson by JP Van der Walt-Uitgewers (nou Lapa) het my aangemoedig om aan te hou skryf, en die res is geskiedenis.

My liefde vir geskiedenis slaan maar gereeld uit in my stories, en ook die ondervinding wat ek in die weermag opgedoen het. Terloops, daardie eerste poging van my is verbuig en verander en verplaas na Nigerië en het later verskyn as Dodelike Fokus.

 

Izak: Onder ’n sterrehemel en Goue dagbreek het die Anglo-Boereoorlog as milieu. Ek vind dit interessant dat ons die afgelope paar jaar so ’n oplewing beleef in boeke oor hierdie tyd. Die onlangse honderdjarige vieringe het daarmee te doen, maar dink jy die Afrikaner is weer reg om helde en heldinne te hê?

Bets: Jy is reg: My oorlogsromans het in 1999 begin groei toe die herdenkingsverhale begin verskyn het. Ek het eintlik begin met die tweede storie, Goue Dagbreek, maar Chanette Paul het my aangemoedig om die voorafstorie in ’n aparte roman in te werk. Dit is hoe Onder ’n Sterrehemel ontstaan het.

Om jou eintlike vraag te beantwoord: Ek dink dis nie net die Afrikaner wat weer reg is om helde en heldinne te hê nie, maar almal in die wêreld. Leiers is nie meer werklik mense om na op te sien nie, omdat die massamedia al hul foute en gebreke uitwys en almal ontnugter. Aan die ander kant is Afrikaners dalk bietjie meer romanties (of idealisties?) as waarvoor ek hul krediet gee. Ons, meer as die res van die wêreld, het ons leiers op troontjies geplaas, of deur ’n pienk bril bekyk, en nou hang ons in ’n lugleegte met die behoefte om weer iemand te hê wat die Afrikaner weer na ’n gerespekteerde nasie sal laat voel.

 

Izak: Jou vrouekarakters staan nie terug vir die mans in hierdie oorlog nie. Hoekom nie?

Bets: Miskien is hierdie behoefte, om ’n held of heldin te hê, een van die redes waarom Catriona in my oorlogsromans gegroei het tot wie sy was. Catriona se karakter het ontstaan en gegroei rondom die spioenasiewerk van die jong vrou, Johanna Van Warmelo / Brand, wat destyds dagboek gehou het van haar hulp aan die sogenaamde Oorlogskommissie en haar oorlogsherinneringe neergeskryf het. Dit is verwerk tot Die Kappiekommando (The Petticoat Commando).

Die karakter van Hannie, my heldin se vriendin in die tweede oorlogsroman, is losweg gebaseer op die lewe van Johanna van Warmelo, die dogter van ds. Van Warmelo van die Hervormde Kerk se gemeente in Pretoria. Die jong dame het beslis nie nodig gehad om terug te staan vir enige man nie, en ek begin vermoed geeneen van die vroue wat in daardie oorlog uitgestaan het, het nodig gehad om terug te staan vir mans nie.

 

Izak: Jy is nou al in die onderwys vir byna dertig jaar. Skryf jy om te vlug van die alledaagse, of juis om dit wat jy om jou sien, te verwoord?

Bets: Jou laaste vraag is miskien die moeilikste een om te beantwoord. Die idealistiese en slim antwoord sou wees dat ek as onderwyser skryf om dit wat ek van die alledaagse lewe sien, te verwoord (soos jy dit stel), maar daar is niks slim aan my skrywery verbonde nie: ek skryf eenvoudig om van die aaklige dele van die werklikheid te ontvlug, nes mens ook lees om te ontvlug.

Skryf weerhou my daarvan om totaal van my trollie af te raak in die sleur en rompslomp van werk en oorleef. Ek skryf omdat dit my manier is om in beheer te bly: ek kan ten minste my karakters manipuleer soos ek wil (wel, ek kry dit meestal reg om hul rond te skuif!). Ek kan ook gebeure manipuleer, die lewe mooier verf as wat dit is, en ek kan die uiteinde van die storie bepaal (en myne eindig altyd ‘happy’).

As ek wel dít verwoord wat ek elke dag rondom my sien, is dit miskien die deursnee mens (ja, ook die tiener) se begeerte om iets wat mooi en goed en navolgingswaardig is, te skep of te beleef, of te wees.

* * *

Bets het verlede week ’n onderhoud aan Esté Meyer Jansen toegestaan. Kliek hier om dit te luister.

0 antwoorde op Ons almal wil ’n held hê

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.