by

Frank en die Lamborghini

Augustus 27, 2014 in Uncategorized

Frank op Stellenbosch

Dit is Frank. Kom ons noem hom so, want hy het ’n skerp tong. Kliek op sy foto om dit volgrootte te sien.

Gewoonlik sal ek nie iemand van naby afneem met ’n wyehoeklens nie. Die distorsie laat die gesig vreemd voorkom. Julle sal sien Frank se neus is groter as wat dit moet wees.

Gewoonlik, seg ek. Want die Engelse het ’n spreekwoord: Sometimes you have to be cruel to be kind.

Frank het homself aan my kom opdring daar in Stellenbosch en was al goed aangeklam. Hy wóú dat ek sy foto neem en het my toe aangemoedig om die foto in ons huis te hang, want, sê hy, as die kieme dié lelike gesig sien, sal hulle hardloop en ons sal nooit weer verkoue of griep kry nie.

Frank speel dus die nar. Ek het op daardie stadium nog ’n 24–70 mm-lens op my kamera gehad. Op 70mm is dit ’n baie goeie portretlens. Ek wou net die wyehoeklens opsit toe hy my kom pla. En daar besluit ek toe om Frank wel met die 35mm af te neem en van naby. Dit is wyd genoeg om distorsie te kry, maar op 35mm darem nie so dat ek hom belanglik laat lyk nie.

Frank weet hy is deur die jare getrap. Ek wou dit wys. Ja, ek het hiermee die karikatuur wat hy van homself maak, bevestig, maar dit is die naaste wat ’n foto kan kom aan die woorde wat hy oor homself uiter.

Dan was dit ook korrek dat ek hom afneem met die lens wat ek eintlik vir die Lamborgini uitgehaal het. Ek het toe eers die kamera baie naby sy gesig gehou, die knoppie gedruk en toe die kar afgeneem. (Kliek op die foto om dit groter te maak.)

Frank Lamborghini countach

Dit neem ’n hofnar om soms die groteske wanbalans in ons samelewing uit te lig.

Ek is bly ek kon sy foto neem. Ek gaan dit nie in my huis opplak nie, maar ek sal sy gesig langs die Lambo nog lank onthou.

* * *

As julle ’n briljante reeks wil sien wat mense, ryk en arm, vasvat, gaan kyk na Johan Kotze se Poeple of Stellenbosch en like dit. Julle sal nie spyt wees nie. https://www.facebook.com/PeopleofStellenbosch

* * *

Iets oor Frank se foto.

Ek skiet in RAW en dan ontwikkel ek elke foto. Ek moes die donker kepe in sy gesig uitbring, maar hy het nie soos ’n tamatie gelyk nie. Toe gebruik ek ’n tegniek wat ek soms uithaal as ek ’n baie spesiale foto nodig het.

Frank drie

Ek het eers die foto in kleur ontwikkel (links) tot ek tevrede was dit is die beste wat ek kon doen. Toe het ek dieselfde foto in swart en wit ontwikkel, weer tot ek tevrede was ek kon nie beter nie. En toe voeg ek die twee saam (middel). Ek het Canon Digital Professional se “Compositing tool” gebruik, maar ’n mens sou ook PhotoShop se layers kon gebruik. Ek het eenvoudig die gekleurde foto oor die swart en foto geplak en stelselmatig die swart laat deurskemer tot ek Frank se velkleur weer kon kry soos ek dit wou hê.

* * *

Tegniese detail: Albei foto’s is geneem met Canon 5DmkII en ’n Canon EF16-35mm f/2.8L USM-lens.

Frank se foto: 1/200 f3.5 ISO100 (35mm)

Die Lambo: 1/200 f10 ISO100 (16mm)

11 antwoorde op Frank en die Lamborghini

  1. Hallo Izak

    Frank is meer karaktervol as die Italjaner. Jy het regtig ‘n mooi foto van hom geneem.

    Nie fout met jou Lambo-foto nie, maar die inhoud roer niks in my nie.

    En ek is wel ‘n F1-entoesias, en het op ‘n stadium vir MBSA gewerk. Ek sal die dag rugby kyk as daar wiele aan ‘n skrum gemonteer word. Maar Ferraris en Lambo’s doen niks vir my nie.

    Ek het eendag in die vroeë tagtigs foto’s van arbeiders gaan afneem as bewysstukke dat hulle veiligheidsreëls oortree en nie handskoene en veiligheidsbrille dra nie.

    Hierdie fabriek het op daardie stadium na ‘n staking al die vorige werkers afgedank. ‘n Afrikaanse kultuurorganisasie het tientalle wit werkers vir hulle gestuur. Praat van aangeklam. Hulle moes 80 op die boeke hê om 50 op die vloer te kon kry.

    Toe ek my foto’s ontwikkel het die ou Pretoria Tech se fotografie studente om my saamgedrom en gevra WAAR op aarde ek sulke karaktervolle wesens bymekaar kon kry vir ‘n fotosessie!

    Groetnis

    Sandvelder

  2. tina10 het gesê op Augustus 28, 2014

    Ek hou van die swart-en-wit een

    By my foto-groep is daar iemand wat sulke foto’s neem en dan die agtergrond swart maak – wonder hoe sal jou foto lyk op swart?

  3. spokie het gesê op Augustus 28, 2014

    @izakdv
    Sjoe – die Lamborghini lyk vir my na ‘n vliegtuig wat wil opstyg, so besonders die fokus op die vlerke.
    Wat Frank aanbetref – sal nie graag op die foto wil kliek om dit groter te maak nie. Niks fout met jou foto, dis sprekend, maar grilll…

  4. Baie interessante invalshoek en besondere pos.Al kry ek ‘n Lamborgini present,wil ek hom nie hê nie.Vir my is dit loshande die lelikste ding op vier wiele!
    Arme ou Frank…mens kan sien die lewe het sy sake gewerk!

Los ’n antwoord vir spokie. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.