Om aasvoëls te soek in die koue
Julie 21, 2014 in Uncategorized
Ons was ’n paar dae met verlof, na my ma toe, en natuurlik is die kameras saam.
Die tweede week van ons vakansie het ons in Kiara Lodge gebly – so halfpad tussen Clarens en Golden Gate.
My ma is ’n uitstekende fotograaf (sy het my geleer), so toe ons hoor dat daar ’n zebrakarkas lê in Golden Gate, moes ons die aasvoëls gaan probeer vind.
Ons het Sondagoggend gehoor van die ’n karkas en die middag daarheen gery, maar daar was geen aasvoëls nie.
Toe besluit ons om die volgende teen dagbreek by die karkas te wees, hopende om hulle honger mae en opwaartse lugstrome te benut. (Soos dit warmer word, styg die lug op.)
Maandagoggend kruip die twee van ons toe uit die bed.
Die probleem is dat dit vrek koud was. Teen die tyd dat ons, kort na dagbreek, in posisie was, wys my foon dat die temperatuur darem al gestyg het na -7 grade Celsius.
Ons het lank gewag voor die voëls nadergekom het. Op ’n stadium het twee baardaasvoëls ’n reccie gedoen, maar helaas, hulle het verbygehou.
Toe kom ’n kransaasvoël nader en gaan sit taamlik ver van die karkas af.
(Kliek op die foto om dit groter te maak)
Canon 7D; Canon EF 300mm f/4L IS USM, 1/500 f6.3 ISO250
Ná ’n tydjie het hy opgestyg, nuuskierig nader gevlieg en weg was hy.
(Kliek op die foto om dit groter te maak)
Canon 7D; Canon EF 300mm f/4L IS USM, 1/500 f4 ISO100
Gelukkig kon ek ’n klompie foto’s kry soos hy nadergekom het.
(Kliek op die foto om dit groter te maak)
Canon 7D; Canon EF 300mm f/4L IS USM, 1/640 f4 ISO100
Ongeveer ’n uur later het ek en my ma die skuiling verlaat om te sien of ons voëls gewaar. Ja, inderdaad. So vyf kilometer verder was ’n swerm voëls aan die sirkel om ’n vars karkas – op ’n plek waar dit nie bereikbaar was nie. Nou ja.
tina10 het gesê op Julie 22, 2014
Selfs die mossies hou by my verby. Mooi foto’s
izakdv het gesê op Julie 22, 2014
Dankie, Tina. My ma gooi krummeltjies daar in die aftree-oord en so raak die wilde voëls gemaklik met haar. Het ‘n paar mooi foto’s gekry wat ek nog sal deel.
perdebytjie het gesê op Julie 23, 2014
Dis jammer julle het die baardaasvoëls gemis.Dis darem pragtige voëls.Mooi foto’s!
izakdv het gesê op Julie 23, 2014
Dankie Perdebytjie. Die aasvoëls wonderlik om dop te hou.
flapoor het gesê op Julie 29, 2014
Pragtig, maar dit word darem koud daar hoor! Ons het nou ons huisie naby Betlehem opgegee, met die trekkery Singapoer toe, net die Wildtuin ene gehou.
izakdv het gesê op Julie 30, 2014
Bitter koud, maar lekker!