by

Derick van der Walt: Direkte en indirekte sensuur

Mei 27, 2014 in Uncategorized

dvw

Derick van der Walt is ongetwyfeld een van die NAME in ons jeugboekwêreld. Hy het al ’n Goue én ’n Silwer toekenning gekry in die Sanlam-prys vir jeuglektuur en was ook al die wenner van die M.E.R.-Prys vir jeuglektuur.

Gelukkig het hy al heelwat meer oor die probleem rondom Fiksie vir Jong Volwassenes gewonder as ek. Derick het naamlik twee jaar gelede sy Meestergraad by Tukkies verwerf oor presies hierdie vraag.

In ons gesprek vooraf, sê hy vir my: “Dis my pet issue in die lewe en ek het nie eintlik issues nie. Die jeugboek wat so vlak gekyk word en almal staan langs die Liewe Heksie-omnibus in die boekwinkel.”

Hy het my vrae só beantwoord:

Daar is ’n  verskil tussen kinderlitaratuur en jeugliteratuur. En dan: In die VSA word geredelik van Young Adult Literarture gepraat. Ons is meer geneig te praat van jeuglit as jongvolwasselit. Is dit ’n leemte?

Myns insiens is vernuwende denke oor die ouer jeugboek nodig. Die kinder- en jeugboek word steeds as genre binne die Afrikaanse literatuur as onbeduidend beskou. Redes, soos die posisie wat dit oor dekades van leidende figure in die wêreld van die jeugboek ontvang het (invloedryke persone vanuit onderwys- en biblioteekgeledere), het daarvan ’n kommoditeit gemaak wat op ’n bepaalde wyse geklassifiseer, bemark en gelees word en ’n spesifieke plek binne die boekwinkel het.

Kinder- en jeugboeke word daarom in Suid-Afrika steeds baie formeel geklassifiseer in terme van wie die waarskynlike leser is. Dit word veral vir bemarkingsdoeleindes gedoen en om leiding aan boekwinkels en kopers te gee oor “waar die boek in die mark lê”.

Die ouer jeugboek binne die kinder- en jeugboek-genre, boeke wat op adolessentelesers en ouer gemik is, is ’n besonder vae kategorie en min aandag is tot dusver deur rolspelers hieraan gegee. Die nuanses in die sogenaamde jeugboekmark word maar slegs in ’n beperkte mate deur uitgewers en ander rolspelers erken, en alle boeke vir lesers ouer as 12 jaar word gemaklik in die “jeugboekmandjie” verpak – met dikwels negatiewe gevolge vir die skrywers van hierdie boeke. Hulle land, met enkele uitsonderings, in die boekwinkels tussen die veelkleurige prenteboeke vir kleuters en die Liewe Heksie-omnibus waar hulle dikwels nie hoort nie.

Ek is absoluut oortuig dat ons ’n handvol Afrikaanse (en Engelse) “jeugboeke” het wat baie gemaklik binne die Young Adult-genre, of kom ons noem dit Fiksie vir Jong Volwassenes (FJV), kan val. Baie van dié boeke word dikwels deur konserwatiewe en invloedryke hekwagters binne die jeugboekwêreld verontagsaam. Hierdie persone besluit vanweë rolle, soos hulle verbondenheid aan voorskryfkomitees, watter boeke as geskik vir adolessente beskou word. Weens “omstrede” kwessies word baie van dié boeke nie as geskik beskou nie.

Dié boeke word gevolglik van jonger lesers weerhou of slegs selektief aan hulle beskikbaar gestel. Hulle verdwyn daarom maklik sonder enige erkenning in die vergetelheid en haal nie die verkoopsyfers wat hulle verdien nie. Ek is daarvan oortuig dat baie volwasse lesers hierdie boeke ook sal lees as dit op ’n ander manier aan hulle bemark word.

Ander redes wat die ontwikkeling van die Afrikaanse jeugboek myns insiens strem, is maar steeds die gebrekkige status van die jeugboekskrywer en die rol wat direkte en indirekte sensuur, soos hier bo genoem, op die ontwikkeling van die jeugboek, veral die ouer jeugboek het. Die jeugboekskrywer neig daarom om “veilig” te skryf met dáái geelwortel in gedagte: Die voorgeskrewe boek.

Ek wil herhaal dat daar báie konserwatiewe hekwagters is wat dink kinders van 15 jaar + weet niks (of behoort nie te weet nie) van die bytjies en die blommetjies en substansiële substansies nie. As ouer verstaan ek dit natuurlik heeltemal, maar dis bloot naïef en weerhou ouer jongmense van goeie boeke wat werklik tot hulle wêreld spreek.

FJV het volgens kenners in Amerika besondere waarde omdat dit fiksie aan jongmense beskikbaar stel waarmee hulle kan identifiseer en wat hulle leefwêreld weerspieël. Die boeke lewer ’n groot bydrae om jongmense te laat lees of aan die lees te hou.

Ek glo dat innoverende bemarkingsdenke kan help om die status van die ouer jeugboek te verhoog. Die aard van FJV behoort groter publisiteit te ontvang en die feit dat dié boeke van die tradisionele jeugboek verskil (daarom soms hulle omstrede aard), behoort wyer erkenning te kry. Boeke word ook soms in Amerika met twee verskillende omslae uitgegee, een gemik op jong mense en een op volwasse lesers.

Die plek op die rak in die boekwinkel en die biblioteek vir die ouer jeugboek moet herbedink word, glo ek.

Daarom is die onderstaande onderskeidings vloeibaar en daar is meningsverskil in die bedryf daaroor. Natuurlik werk lesers en boeke nie só nie, maar ek begryp dat dit ’n bemarkingsrol te speel het.

Kinderliteratuur: Fiksie vir kinders tot sowat 12 jaar.

Jeugliteratuur: Fiksie vir kinders ouer as 12.

FJV: Fiksie spesifiek bedoel vir ouer adolessente (lesers van sowat 15 jaar en ouer, en jong volwassenes)

Oorkruisliteratuur: Fiksie wat deur beide jeugdiges en volwassenes gelees word. Daar is reeds heelwat Afrikaanse boeke wat ook in dié kategorie sal tuis wees.

Om vir hierdie mark te skryf is bitter moeilik. Hoekom doen jy dit?

Nie die vaagste benul nie. Ek het nooit beplan om “jeugfiksie” te skryf nie. Dit het net oornag gebeur. Ek het drie seuns deur die huis gesien en ek dink ek verstaan tieners se koppe. Dit het waarskynlik ’n rol gespeel.

Maar die vyf jaar op hoërskool is wel ’n angswekkende tyd. Jy moet uitvind wie jy is. Gaan jy die koekie of die clown in hierdie lewe wees? En jy kom agter vry is lekker. Gaan jy saam met iemand in die bed spring?

Jy word toegegooi onder skoolwerk en ander verpligtinge, jy kom agter jou ma en pa is toe nie noodwendig die oulikste mense op aarde nie en jy moet nog besluit wat jy die res van jou lewe gaan aanvang. Skrikwekkend, en dit binne die bestek van net vyf jaar. Hoe op aarde oorleef ’n mens dit?

Tog dink ek nie ’n mens skryf anders vir jonger lesers as wat jy vir ouer lesers skryf nie. Die ouderdom van my karakters en dié van die mense wat dit lees, is vir my bloot toevallig. Ek dink nie daaroor nie.

As ons nou van jong volwassenes praat: Watter drie jongvolwasselitboeke sal jy aanbeveel?

’n Boek wat ek meen as FJV geklassifiseer behoort te word, hoef nie noodwendig “omstrede” te wees nie en baie is nie. Hulle verdien dalk net ’n ander bemarkingsaanslag aan ’n wyer gehoor. Hierdie is almal uitstekende boeke waarvan dalk net een of twee die verkoopsyfers gehaal het wat hulle verdien. Van hulle word as “omstrede” beskou. Daar is nog heelwat boeke wat ek hier kon insluit. Hierdie is ’n handvol van my (Afrikaanse) gunstelinge.

Fanie Viljoen se BreinBliksem (Tafelberg, 2006)

Carina Diedericks-Hugo se Die verdrinking van Josua van Eden (Umuzi, 2008)

Francois Bloemhof se Nie vir kinders nie (Tafelberg, 2006)

Jackie Nagtegaal se Daar’s vis in die punch (Tafelberg, 2002)

* * *

Nota van Izak: Hier is ’n resensie wat ek vyf jaar gelede oor Die verdrinking van Josua van Eden geskryf het. Intussen het ek heelwat geleer, maar julle sal sien die vrae bly nog ongeveer dieselfde.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.