by

Nanette van Rooyen: Jeugliteratuur se grens lȇ lankal nie meer by 16 jaar nie

Mei 26, 2014 in Uncategorized

nan

Nanette van Rooyen het al verskeie boeke geskryf en is al by ’n hele aantal geleenthede bekroon vir haar werk.

Dit was egter haar uitstekende boek, Ek was hier, wat gemaak het dat ek haar opinie ook wou hê oor die vraag van waar boeke vir jong volwassenes begin en waar die einde van die “jeug” nou eintlik lê. Wat my aangegryp het by die lees van Ek was hier, is juis dat hierdie jongmense soos volwassenes behandel is in haar verhaal.

In die VSA word #IreadYA-week gevier. Ons is meer geneig te praat van jeuglit as jongvolwasselit. Is dit ’n leemte?

Ek dink nie so nie. Jeugliteratuur se grens lȇ lankal nie meer by 16 jaar nie. Jeugliteratuur is ’n genre wat ontsettend gegroei het die afgelope jare. Die Association of American Publishers het laasjaar verklaar dat Kinder- en-Jeugliteratuur die vinnigste groeiende genre is. Die rede is omdat die ouderdomsgrens van Jeugliteratuur baie volwassenes ook insluit. Daarvoor het die Potter-reeks aanvanklik gesorg. Nou is die veld oop.

Om vir hierdie mark te skryf is bitter moeilik. Hoekom doen jy dit?

Ek het dit myself ook afgevra, glo my. Ek dink nie ek sou aan die genre geraak het, as dit nie was dat ek ’n tiener in my huis gehad het om te “bestudeer” nie. Uiteindelik was dit vir my ’n wonderlike verruimende ervaring, en ek sal dit weer doen.

Daar is ’n verskil tussen kinderliteratuur en jeugliteratuur. Wil jy verduidelik hoe jy dit sien?

Ek sien kinderliteratuur (ouderdom peuter tot ongeveer 11 jaar) as die huppelkind van skryfwerk. Jeugliteratuur (rofweg vanaf 12 jaar) word al die “denkende duiwel”. Dit sluit meer komplekse temas in: liefde, seks, verandering, moeilike tye wat beslis nie op ’n pedantiese manier aangebied moet word nie. Daar is niemand so onvergewensgesind as ’n tiener/jong volwassene nie. Maar dan weer, as ’n mens dink aan die lieflike kinderboek Eend, Dood en Tulp (Wolf Erlbruch), dan werk die onderskeid nie. Dit is ’n kinderboek wat wemel van patos, ironie, swart humor en die kompleksiteit van dood; goeie literatuur vir enige ouderdom.

As ons nou van jong volwassenes praat: Watter drie jongvolwasselitboeke sal jy aanbeveel?

Net drie?

Skellig van die Britse skrywer David Almond

Lord of the Flies van William Golding

Looking for Alaska van John Green (ook The fault in our stars)

George Weideman se Optog van die aftjoppers

Leon de Villiers se Toko

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.