by

Maya Fowler: Ons sit met ‘n genre wat grootgeword het

Mei 20, 2014 in Uncategorized

Capture mf

Maya Fowler het al verskeie tekste vir die skolemark geskryf. Sy publiseer in Engels en Afrikaans. Haar debuut, The Elephant in the Room, is ’n uitsonderlike teks wat handel oor ’n meisie wat sukkel met ’n eetversteuring.

Ek het haar ook uitgevra oor #IreadYA wat tans in VSA aan die gang is.

In die VSA word #IreadYA-week gevier. Ons is meer geneig te praat van jeuglit as jongvolwasselit. Is dit ’n leemte?

Ja, hier by ons het ons beslis boeke wat tel as jongvolwasselit, maar wat tradisioneel “jeuglit” genoem word. Ek dink ons sit met ‘n genre wat in die laaste dekade of so grootgeword het, sonder dat die naam bygehou het. “Jongvolwasse” dui vir my op karakters wat wel jonk is, maar wat met volwasse kwessies te doen kry – soos dit in die ware lewe gebeur. Die nuwe benaming erken ook dat die protagonis, selfs op 12, 13, 14, op die drumpel van volwassenheid staan. Voorheen was dit nie altyd die geval nie – ek dink die konvensie was, om verskeie redes, dat die hoofkarakter pure kind moes wees. Boonop maak die term “jongvolwasselit” lesers daarop attent dat hier ‘n boek is wat wel om jong karakters wentel, maar wat nie uitsluitlik is vir jong mense om te lees nie.

Om vir hierdie mark te skryf is bitter moeilik. Hoekom doen jy dit?

Jongvolwassenes is, oor die algemeen, (al mág ‘n mens nie veralgemeen nie!) so optimisties en energiek. Hulle weet hulle is die toekoms. Dié ouderdom sorg ook natuurlik vir baie intense vriendskappe (en vetes). Dis eweneens ‘n tyd van opwinding en onsekerheid, selfs vrees. Die wêreld verander, tegnologie verander, maar dié gevoelens is konstant. Gaan lees maar The Catcher in the Rye.

Daar is ’n verskil tussen kinderlitaratuur en jeugliteratuur. Wil jy verduidelik hoe jy dit sien?

Ja, daar is ‘n verskil. Eerstens koop ouers kinderboeke vir die kind, maar die jongvolwassene maak sy of haar eie keuses. (En dikwels staan die ouer se hare penorent wanneer sy agterkom wat dié keuses is, want baie grootmense het mos ‘n selektiewe geheue …) Verder is jongvolwasselit net so realisties soos boeke vir volwassenes, selfs in die fantasiegenre. Weg is die stereotipes waarop kinderboeke (om goeie rede) steun.

As ons nou van jong volwassenes praat: Watter drie jongvolwasselitboeke sal jy aanbeveel?

1. I’ll Get There. It Better Be Worth the Trip van John Donovan. Dié wonderlike verhaal van ‘n gay seun se seksuele ontwaking in New York bly, bykans 40 jaar ná publikasie, ‘n treffer. Lees dit.

2. How I Live Now, Meg Rosoff. Sy is ‘n meester.

3. Ek was hier, Nanette van Rooyen. Ek is mal oor dié boek met sy straatkuns, liefdeselement en saadbomme. Dit sal seuns én meisies boei.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.