’n Uiters suksesvolle boektoer oor drie stede heen
November 25, 2013 in Uncategorized
Drie stede, ses dae en vyftien skrywers: dít is ’n kort opsomming van die boektoer wat deur die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere (SASNEV) gereël is.
Hier is die foto’s uiteindelik! (Kliek op die foto’s om hulle groter te maak.)
Saterdag 5 Oktober
Die eerste geleentheid is op Saterdag 5 Oktober 2013 by die Hoërskool DF Malan gehou.
(Foto: Carolyn Meads, Bookslive)*
Eerste op die program was Karin Brynard en Hanlie Retief. Hulle was in gesprek met my. Brynard het Plaasmoord en Onse vaders (uitgegee deur Human & Rousseau) geskryf, terwyl Retief die biografie Byleveld: dossier van ’n baasspeurder (Umuzi) geskryf het.
(Foto: Carolyn Meads, Bookslive)*
Daarna het twee debuutskrywers, Ilza Roggeband en Eldridge Jason met mekaar gesels. Roggeband het Noot vir dood (Queillerie) geskryf en Jason Gerook (LAPA).
(Foto: Carolyn Meads, Bookslive)*
Chanette Paul het daarna gesels oor haar Labirint (Queillerie) en Siende blind (LAPA).
(Foto: Carolyn Meads, Bookslive)*
Isa Konrad het vanuit Switserland deelgeneem aan ’n geprek wat ongelukkig deur tegniese probleme kortgeknip is. Die gesprek sou handel oor Die soenoffer en Diva (LAPA).
(Foto: Carolyn Meads, Bookslive)*
Adriaan van Dis, die veelbekroonde Nederlandse skrywer, het daarna oor sy boek Tikkop gesels met Daniel Hugo. Hugo was die vertaler van Tikkop wat deur Protea Boekhuis uitgegee is.
Gert Visser van die Hoërskool DF Malan het die geleentheid gereël.
Dinsdag 8 Oktober
Die volgende gesprek het op 11 Oktober plaasgevind by die Laerskool Voorpos in Waverly, Pretoria.
Eerste aan die woord was Lien Roux-de Jager (links), die skrywer van Donker leuens en Gekoopte leuens (LAPA) en Ilse Salzwedel, die skrywer van Bloedsusters (LAPA). By hulle is Lien se man, Johann de Jager.
Twee Venters, wat nie familie is nie, het daarna opgetree. Irma Venter is die skrywer van Skoenlapper en Skrapnel (Human & Rousseau) en Peet Venter het oor Dieper as die bloed en Ou bloed (LAPA) gesels.
Carla van der Spuy, die joernalis en skrywer van Mens of monster, die psige van ’n misdadiger (LAPA), het daarna met die legendariese speuder Piet Byleveld ’n onderhoud gevoer.
Adriaan van Dis en Daniel Hugo was hierna weer in gesprek oor Tikkop. Hier is hulle saam met Eureka Barnard, die hoof van SASNEV.
Sanger, Steve Hofmeyr, het die geleentheid bygewoon en is onmiddellik deur ondersteuners oorval. Links is Marthie Maré, gesigontleder wie se boek vroeg in volgende jaar gaan verskyn. Sy het, onder andere, Steve se gesig ontleed. Langs Steve is Janene, die vrou in sy lewe, dan volg Carla van der Spuy en Cecelia du Plessis.
Piet Byleveld se roem moet nie onderskat word nie. Hier is Cecelia du Plessis saam met Elize Bylveld (Piet se vrou), Piet, Carla van der Spuy en Sam Cooper.
Sam Cooper, van Waverley Biblioteek, het die hele geleentheid gereël.
Vrydag 11 Oktober
Die derde en laaste been van die boektoer is te Hoërskool Grey in Port Elizabeth gehou.
Neil Crawford, die rektor van Grey Hoërskool, het die gaste verwelkom.
Daniel Hugo, Adriaan van Dis, Karin Brynard, Piet Byleveld, Ilza Roggeband en Leon van Nierop het opgetree by die geleentheid. Hier is hulle almal bymekaar saam met ’n groep leerders van Grey Hoërskool. Leon het gesels oor Plesierengel (Tafelberg) en Snydokter (LAPA).
’n Aantal leerders van Hoërskool Cilliers het ook die geleentheid bygewoon. Hier is hulle, en hulle onderwyserers, saam met Adriaan van Dis, Daniel Hugo en Leon van Nierop.
Eureka Barnard, wat die hele toer namens SASNEV gereël het, sluit af.
Hier is Susan Bloem, die hoof van die Afrikaanse departement by Grey, Karin Brynard, Pieter Rademeyer, ook van Grey, en Ilza Roggeband.
Pieter Rademeyer het die geleentheid in Port Elizabeth gereël.
Borge
Verskeie borge het hierdie geleentheid moontlik gemaak. LAPA uitgewers, NB-Uitgewers, Protea Boekhuis en Umuzi het baie gedoen om skrywers te verskaf en om hulle reis en verblyf te betaal. Die Nederlands letterenfonds het ook ’n geldelike bydrae gemaak en die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere (SASNEV) het baie ruim bygedra tot die sukses van hierdie toer.
Die Thogosun Hotelgroep het die skrywers teen groot afslag gehuisves. Hier is Erika Rautenbach van Thogosun Hotels in Port Elizabeth wat die geleentheid by Grey Hoërskool bygewoon het.
* Foto’s deur Carolyn Meads is met vergunning van BooksLive gebruik. Ek het die ander geneem.
* * *[subscribe2]
vega het gesê op November 25, 2013
Klink amazing. Dankie hiervoor, ek het nog net van helfte van die boeke gehoor 🙂
izakdv het gesê op November 25, 2013
Vega, hulle is die moeite werd. Ek het heerlik gelees.
vega het gesê op November 28, 2013
Izak jy moet onthou om te ‘ping’ ons kry nie die antwoord op ons kommentaar nie Ek is @avega. Jy hover oor die avatar en kyk onder links op jou skerm vir die blogger se naam.
izakdv het gesê op November 28, 2013
Skuus, dit verstaan ek nie @avega?
vega het gesê op November 28, 2013
Ongelukkig werk dit so op hierdie ONgebruikersvriendelike werf dat jy kan kommentaar lewer op iemand se blogpos, maar as jy op die kommentaar reageer, kry hulle slegs ‘n e-pos kennisgewing van die antwoord as jy die @avega byvoeg. Geeneen van die mense op wie se kommentaar jy reageer het, weet dat jy geantwoord het nie. Ek het toevallig kom kyk.
lora2me het gesê op November 25, 2013
Jinne, ek beny jou. Ek weet dis deel van jou werk, maar dis nog steeds wonderlik om deur al hierdie skrywers omring te word.
izakdv het gesê op November 26, 2013
Lora. Al is dit deel van my werk, bly dit wonderlik! Ek is bevoorreg.
perdebytjie het gesê op November 26, 2013
Wonderlike werk wat julle doen om goeie skrywers te bemark.Ek het al ‘n paar van die boeke gelees en dis verstommend watter goeie leesmateriaal daar is.Maak mens trots op Afrikaans!
izakdv het gesê op November 26, 2013
Jy is reg, Perdebytjie. Ons letterkunde ding mee met die groot boeke in die wêreld.
Carla van der Spuy het gesê op November 26, 2013
Izak dankie vir hierdie geleentheid wat jy die skrywers en Krimi geesdriftiges gebied het!
izakdv het gesê op November 26, 2013
Dit was ‘n voorreg, Carla!