by

Oor suikerbekkies en ’n klein wêreld

Augustus 31, 2013 in Uncategorized

Ek wil graag die storie deel. Dis deels vrek hartseer en dis deels pragtig. Hierdie voëltjie het my ’n paar lewenslesse geleer.

Klein-rooibandsuikerbekkie in Kirstenbosch

Klein-rooibandsuikerbekkie in Kirstenbosch

Ek, my geliefde, en ons knaap wou Sondag 18 Augustus Kirstenbosch toe gaan. Die son was uit en ons was al drie moeg daarvoor om te hard te werk. My geliefde is ’n professionele persoon en sy werk verskriklik. Ek vryskut, so die ure is geweldig. Albei van ons geniet die werk, maar dit raak soms te veel. Knaap geniet nie die skool nie, maar hy werk hard. So, ons wou die sonskynmiddag aangryp.

Ek was besig om die kameras reg te kry, toe die foon lui. ’n Ou vriend met ’n ernstige dwelmprobleem se vrou is desperaat. Hy sit iewers en selfmoord is op hande.

Wel. Ek is hier weg sonder kameras en kom toe uiteindelik met hom na ons huis toe. Natuurlik is Kirstenbosch daarmee heen, maar die vriend was minstens veilig.

Voor sonop Maandagoggend was sy toestand so swak dat ons ’n ambulans ontbied het. Ek was tot 11h00 Maandagoggend in die noodeenheid, toe kon ek weer kom werk.

’n Week later, op Sondag 25 Augustus was ons almal gaar en die son het uiteindelik geskyn (letterlik en figuurlik). Die rekenaars is toegemaak, die kameras is gepak en ons het ’n heerlike, luilekker piekniek in Kirstenbosch gaan hou.

Die blomme was pragtig en hierdie voëltjie was te oulik. Soms, as jy die knoppie druk, weet jy al die elemente het reg gewerk, dié foto was so ’n oomblik.

Toe neem die werk weer oor.

Teen Donderdagaand onthou ek van die voëltjie en ek ontwikkel die foto (ek skiet net in RAW).

Dis mooi en ek plak dit op FaceBook.

’n Paar uur later laat weet ’n sakekennis uit die VSA sy is mal oor die foto, dis nou haar skermbeskermer.

’n Dag later word ek gevra of dié foto op die voorblad van internasionale katalogus kan kom wat vanuit die VSA versprei sal word?

Ek sê ja en ’n halfuur later laat sy weet dit is op haar rekenaar, danksy DropBox.

Wys jou:

a)      Die wêreld is klein. ’n Foto geneem in Kirstenbosch pronk nou in die VSA op ’n rekenaar.

b)      Dit neem minute om ’n transaksie te beklink aan die aan die ander kant van die aardbol.

c)       Gryp die dag. Gryp die sonskyn. Spandeer tyd met die geliefdes. Hierdie foto sê meer oor saamwees met geliefdes as wat dit oor voëls sê.

d)      Al is die wêreld klein, is ons arm kort. Druk jou geliefdes vas.

 

15 antwoorde op Oor suikerbekkies en ’n klein wêreld

  1. mooiskoot

  2. tina10 het gesê op Augustus 31, 2013

    Mooi Foto! By watter graat trek die knaap nou al? Sjoe die tyd vlieg!

  3. Wat die foto so besonders maak is die kleure in die agtergrond. Hartlik geluk!

  4. Dit is inderdaad ‘n pragtige foto!

  5. maryna het gesê op Augustus 31, 2013

    As jy dit het, het jy dit nou maar net. Pragtige werk en boodskap Izak! @izakdv

  6. Twaksak het gesê op Augustus 31, 2013

    Dis ‘n goeie les. Maar dwelmpel sê ôk baie dankie vir jou…

    • izakdv het gesê op Augustus 31, 2013

      Twaksak. Hy het baie keer dankie gese^, maar ‘n mens bly bewus van die noodsaak daarvan om geliefdes naby te hou. Dis bitter om ‘n vriend te sien swaarkry.

  7. Lekker gelees en gekyk. Dankie daarvoor.

  8. vega het gesê op September 2, 2013

    Dis VERSKRIKLIK mooi! En waar woorde.

  9. Fantasties en met ‘n mooi les daarby vir ons almal!

Los ’n antwoord vir maryna. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.