by

Tussen middernag en dagbreek

Julie 26, 2012 in Sonder kategorie

Te koop as sagtebandboek.

Ook te koop as e-boek.

Tussen middernag en dagbreek is ‘n baie interessante riller en ‘n knap spanningsroman. Al die elemente is daar: Die ongerehabiliteerde plaasmoordenaar, sy vriend van jare in die tronk, die regter en die dwelmslaaf. (Al wat ons kort is orrelmusiek!)

Tussen middernag en dagbreek is Japie Bogaards se debuutwerk; en een waarop hy met reg trots kan wees.

Die storie is nie enkelvoudig nie. Daar is ‘n groot aantal karakters wat optree en ons leer hulle goed ken. Ek vermoed die belangrikste karakters sou wees:

  • Marco, wat nie sy dwelmprobleem kan afskud nie,
  • Sam, wat ter dood veroordeel is, maar toe vrygelaat word weens die opskorting van die doodstraf,
  • Hottie, wat al die jare saam met Sam in die tronk was, en
  • Fish, ‘n vlugteling uit Mosamboek.

Ons leer ook Marco se geliefdes en sy skoonpa goed ken.

 

Trainspotting op Plaasmoord-steroïde

Dis nie moeilik om uit bogenoemde af te lei nie dat dwelmverslawing en geweldsmisdaad hierdie boek oorheers. Wat Bogaards se teks aan die leser toon, is dat albei se siklusse bitter moeilik is om te breek.

Terselfdertyd toon die teks ook dat almal, hoe wreed of verslaaf jy ook al is, kan liefhê en kan droom.

Rof is die boek wel, maar daar is ook pragtige, teer oomblikke in.

 

‘n Eerlike soeke

Bogaards beeld die desperaatheid van die dwelmslaaf en die onderhandse maniere waarop hulle werk om hulle dwelms te kry, uitstekend uit. Ook die besoeke aan die rehabilitasiesentrums  word baie goed uitgebeeld.

Ons kry werklik ‘n deeglik insig in die dwelmslaaf se slim manipulasie van die mense en die situasies om hom of haar.

Ek het verlede jaar Trevor Kleinhans se uitstekende outobiografie, Secrets make you sick, gelees. Daarin vertel hy van sy lewe en sy uiteindelike dwelmverslawing – asook hoe hy dit oorwin het. Die dilemma is dat mense soos Trevor dit regkry om op te hou en dan dink ons, wat nie verslaaf is nie, dat ander ewe “maklik” moet kan stop. Maklik was dit natuurlik nie – en is dit steeds nie, maar dis juis oor Kleinhans so suksesvol was dat hy die boek kon skryf.

Wat van mense wat eenvoudig nie kán ophou nie? Ek ken mense ná aan my wat nie kan ophou nie. Bogaards se teks vat húlle worsteling baie goed vas.

Ek betrek egter Kleinhans se teks om ‘n tweede rede: Bogaards vertel ‘n storie. Hy skryf nie ‘n halfgebakte biografiese teks met ‘n klein bietjie fiksie in nie. Kleinhans se outobiografie is puik, en werk. Bogaards se stórie werk vir my – juis omdat dit geen poging tot ‘n biografie is nie.

Tussen middernag en dagbreek is dus in die eerste plek ‘n riller. Dat dit egter ook die bitter stryd van die dwelmslaaf puik beskryf, is nie altemit nie. Vir albei gee ek Bogaards goeie punte.

Ek dink skoolkinders moet hierdie boek te lese kry. Soos Trainspotting van destyds, doen dit meer as ‘n preek. Dit wýs.

 

Geweld en misdaad as dwelm

Bogaards gaan soek nóg verder as dwelms. Sonder om dit uit te spel, kom die leser agter dat dit net so moeilik is om die siklus van geweld, waarin misdadigers vasgevang is, te breek as wat dit vir dwelmslawe is om húlle siklus te breek.

Baie jare terug het ek ‘n stuk navorsing gedoen oor ons tronke en een van die Nicro-werknemers het aan my gesê: “’n Tronk is ‘n universiteit vir misdaad. Iemand gaan in vir ‘n klein misdaad en kom uit as ‘n geharde misdadiger.” Ook dít word puik gedemonstreer in Bogaards se roman.

Die liefde, o die liefde

Vervleg tussen die geweld en die dwelms, lees ons egter ook van mense se drome en hulle geliefdes.

Marco, die hoofkarakter, se liefde vir Jo-Marie, ‘n verslaafde meisie, is pragtig, maar is van die begin af gedoem, want sy, meer nog as hý, weet dat die liefde vir dwelms jaloers is en nie ‘n derde party toelaat nie. Wanneer Marco dan trou en kinders kry, met ‘n ander vrou, kom hierdie waarheid nog eens te voorskyn. Sy herhaalde terugvalle en leuens is uiteindelik een te veel. Die leser ontmoet hom op die punt waar ‘n dagvaarding ontvang vir die egskeiding.

Die ander baie mooi liefdesverhaal in die teks is dié tussen Hottie en die buurmeisie. Hottie beland, om verskeie redes, op straat. Hy is baie vernuftig en onderhou homself met die maak van draadkarre. Toe dié besigheid egter deur drie wit barbare vernietig word, begin hy elektroniese apparate regmaak. Só ontmoet hy die bure se werkster en tussen hulle ontstaan ‘n pragtige verhouding. Die dogter wat vir hulle gebore word, maak van Hottie ‘n besonder pa. Wanneer die kind egter sterf, haak Hottie heeltemal uit en beland in ‘n geweldspiraal wat hom in die tronk laat beland. Hier loop hy vir Sam raak. En dis waar die spanning rigting kry.

Die stemlose word gehoor

Die krag van hierdie boek lê dus in die manier waarop die stemlose gehoor word.

Die dwelmslawe en die misdaadslawe word mense – mense van wie jy kan hou.  Hottie se mooi verhouding met sy dogter word geëggo met Sam se pragtige verhouding met sy pa.

En juis daarom, juis omdat hierdie skurke nie net karikature is nie, dáárom is ons so ontsteld oor hulle onvermoë om te breek uit die kloue wat hulle vashou.

Die oorsake van die geweld in ons land word ondersoek op ‘n manier wat aan die werk van André P. Brink herinner. Dis ‘n dapper skrywer wat vir ‘n Afrikaanssprekende mark vertel dat plaasmoordenaars ook mense is. Bogaards doen dit sonder skrome. Dit is nog ‘n dapperder skrywer wat vir hierdie mark vertel dat sommige plaasmoorde gemotiveer word deur goed wat op die plaas gebeur. Dit doen Bogaards ook. Hy praat nie die geweld goed nie, en hy skroom ook nie om sy eie karakters se stemme te gebruik téén hierdie belaglike geweld nie, maar hy weier om bloot eenogig na die probleem te staar.

Ek dink dit is ‘n besondere slim manier om Suid-Afrika in die oë te kyk en ek beveel hierdie teks sonder huiwering aan.

 

Kritiek?

Ek het negatiewe kritiek. Enkele van die eerste hoofstukke wat afspeel in die rehabilitasiesentrums is te lank. Hier, en nie elders nie, kry jy die idee die boek het aanvanklik begin as ‘n soort biografie. Dan, gelukkig, red Bogaards die situasie en vlieg voort. Kwartpad kan jy nie wag om te sien wat gebeur nie.

In sommige hoofstukke val die taalgebruik verkeerd op. Neem hierdie woorde uit die mond van Fish, ‘n seun wat onlangs uit Mosambiek gevlug het: “Daai jaar het dit heavy gesous…”

Nee, jammer. Ons lees later in die boek Fish se Afrikaans is verbasend goed, maar dan sal dit verbasend wees vir ‘n iemand wat Portugees gepraat het en nou in Afrikaans kommunikeer. (Fish gaan ook skool, maar is nog baie “jonk” in sy opvoeding.) ‘n Term soos gesous is ‘n bepaalde, outydse en idiomatiese uitdrukking. Goed, hy kon dit by die boer gehoor het. Maar die heavy daarvoor laat hom klink soos ‘n Afrikaanse tiener van ‘n paar jaar gelede en sy milieu laat hom nie toe om noue kontak met ‘n sodanige spesie te hê nie. Dit sou beter gewees om neutrale merkers te gebruik: “Daardie jaar het dit swaar gereën…” Veral as jy later besef dat dit ‘n alwetende vertellerstem is wat Fish se storie vertel.

Maar goed, ek is nou puntenerig, want ek het die boek geniet.

 

Ter opsomming

Dis nie ‘n maklike boek nie. Ek het sommige aande nie kans gesien om dit bed toe te neem nie, maar ek hét tyd gemaak om te lees, want ek wóú weet.

Soos reeds vermeld, is die beste deel van hierdie boek die menslikheid waarmee Bogaards sy karakters, ook die skurke en dwelmslawe, skets. Hierdie aspek maak reeds dat ek sy boek ten sterkste aanbeveel. Die feit dat dit ‘n baie spannende storie is, maak die aanbeveling nog sterker.

6 antwoorde op Tussen middernag en dagbreek

  1. CBL1979 het gesê op Julie 26, 2012

    Sjoe, ek is sommer lus om die boek te lees! Dankie.

  2. TS het gesê op Julie 26, 2012

    Ek hou nie baie van boeke waar skelms die helde is nie…

  3. Izakdv het gesê op Augustus 5, 2012

    Dis ‘n baie interessante boek.

  4. Izakdv het gesê op Augustus 5, 2012

    Dan is die een nie vir jou nie – hoewel die skelms eerder antihelde is!

  5. Izakdv het gesê op Augustus 5, 2012

    Dankie, Wrong

Los ’n antwoord vir CBL1979. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.