by

Een stad drie rooikoppe sewe dae

Julie 9, 2012 in Sonder kategorie

Te koop by Kalahari.

Ook as e-boek.

 

Ek het pas Een stad drie rooikoppe sewe dae deur Adeline en Lili Radloff verslind.

Wat ‘n heerlike verassing was hierdie boek nie. Dit is spannend, dis vrek snaak en die seks is goed gedoen. Die boek omarm boonop ‘n moderne Suid-Afrika volledig – met die goed en die kwaad van ons land wat oorvloedig aangebied word.

Nou kyk: ‘n Rooikopvrou het nog altyd my hormone so ‘n ekstra oemf gegee en hier is daar drie rooikoppe in een boek, almal is gewillig om die klere te laat waai… Hiert. Een stad drie rooikoppe sewe dae is wonderlik.

Gaan koop dit nou en GENIET dit.

Daar is genoeg aksie en drama (en seks) in die boek om ons manne gelukkig te hou, maar die sagte hand van twee vroue gee die boek daardie tikkie romanse waarvan my vrou baie sal hou. Ek het reeds vir haar gesê sy sal dit baie geniet. (Sy lees tans Tussen stasies deur Irma Joubert na al haar vriendinne gesê het sy moet; ek het ook al, maar sy luister eerder na ander 😉

Die drie rooikoppe in die titel bly almal in Kaapstad, baie naby mekaar en en hulle beleef in sewe dae iets wat klink asof Quentin Tarantino een oggend kom koffie drink het hier in Kaap en toe sy notaboekie in ‘n vrou se handsak gesteek het. Daar is een scene waartydens ‘n rooikop in ‘n bebloede motor deur Kaapstad jaag met ‘n lyk langs haar terwyl honderdrandnote deur die lug vlieg. Yihaa. Eat your heart out, Quentin.

Hierdie teks SMEEK om verfilm te word. Alles is daar: Kaal meisies, seks, bloed en die “gay boys” wat, soos hofnarre, kommentaar lewer op die samelewing. (Lees ‘n bietjie wat hulle vir mekaar sê oor Crocks.) Bring die kameras!

As ek meer van die storie gaan vertel, gaan ek dalk lesers se pret bederf, maar weet net: ons ontmoet die room van die Kaapse samelewing, so wel as die skuim van die onderwêreld.

Dis vet pret!

Is dit ‘n krimi? O, ja! Dit is. Dit voldoen aan al die vereistes van ‘n goeie krimi, maar dit is so lekker tong in die kies geskryf, dat ‘n mens nie anders kan as om opgewonde te wees oor mense wat bereid is om die reëls te buig nie. Nog eens, dink aan ‘n Tarintino-film.

Is dit ‘n liefdesroman? Mmm, wel, nee. Maar daar is ‘n paar oulike romanses vir mense wat dáárvan hou. Nog eens breek die outeurs die reëls, en bevestig sodoende die bestaan van reëls. Knap gedaan!

Ek het twee verdere opmerkings: a) Die boek is ‘n baie goeie voorbeeld van letterkunde wat ‘n moderne Suid-Afrika omarm en b) ek moet al hoe meer my renons in twee outeurs in een boek onderdruk, want dis ‘n baie goeie teks.

 

Die moderne Suid-Afrika

Een van die goed wat ek die meeste waardeer, is die manier waarop die outeurs werklik probeer om vandag se Suid-Afrika vas te vang met al die glorie en al die verderf wat hiermee saamgaan.

Geweld en misdaad is deel van ons land, maar dis ook nie nuut nie. En hierdie boek onderstreep daardie punt deeglik. Ten tweede is die geweld en misdaad sistemies en gebaseer op patriargale instansies wat vroue reduseer tot huishoudsters met gate tussen hulle bene. Die ware geweld in hierdie teks is dít wat mans teenoor vroue aanvang. Dít word egter subtiel (dog rou) ingewerk, terwyl die skop, skiet en donder met ‘n heerlike lagie strooisuiker besprinkel word.

Ek word gereeld gekonfronteer met skrywers wat kla dat die “nuwe” Suid-Afrika sleg is en beweer die “ou” Suid-Afrika kwansuis ‘n hemel was om in te woon. En, ja, ek het al talle kere gesê die ANC se vergype is ewe erg as die NP s’n, so moenie ‘n fout maak nie. Gesondheidsorg en onderwys is in hulle moer in, en dis waar dat wit mense meer blootgestel word aan die geweld wat te vore in “ander” se samelewings plaasgevind het. Tog is die sistemiese, onderliggende geweld wat Apartheid in die eerste plek laat ontstaan het, juis iets wat van binne die huisgesin kom, selfs van onder die lakens. En hierdie boek demonstreer dit hartlik. Meer as een (wit) man word tussen die bene geskiet, en met redes! Lees self.

Om die waarheid te sê, die een stukkie kritiek wat ek het teen die boek, is dat die wit ekstremis baie onsubtiel aangebied word – dit sou beter gewees het as daar ook meer nuanse in sy karakter sou kon wees.

Ek dink egter die twee skrywers is dapper om hulle leespubliek só deeglik, en redelik onsubtiel, in te lig, en uit te daag, rakende die sistemiese geweld in die land.

Ek hou ook daarvan dat die bendelede en die dwelmverskaffers méns word in die boek, wat ongelukkig nog eens die wit ekstremis se gebrek aan nuanse verder onderstreep.

Twee outeurs

Daar is nogal altyd iets in my wat wonder hoe twee outeurs aan een boek kan werk. ‘n Toenmalige voorsitter van ‘n maatskappy waar ek eens gewerk het, was van mening dat die toonsetting van die “Yellow River Concerto” die enigste keer in die wêreld se geskiedenis is waartydens ‘n komitee enige iets van waarde geskep het. Ek is mal oor die “Yellow River” en ek het onlangs ‘n paar boeke gelees wat my laat dink twee outeurs mag maar saamwerk:

  • Dink maar aan Jackie en Reinet Nagtegaal se In Limbo (Joho! 2009),
  • of Jean-Claude van Rijckeghem en Pat van Beirs se wonderlike Jonkvrou (Afrikaans deur Protea 2010),
  • en wat van die uitstekende Hellehonden, en ander in dié reeks, deur Jan en Sanne Terlouw (Nieuw Amsterdam 2011)?

Nou kan ek ook Adeline en Lili Radloff by hierdie lysie plaas. Dit werk. Ek weet nie hoe nie, maar dit werk.

7 antwoorde op Een stad drie rooikoppe sewe dae

  1. Agge ne man…om nou vandag se SA demokratiese verkose regerings gunstig te wil vergelyk met die Blanke Uber barbare van 20 jaar terug…wel…dit wys dat jou varkies dalk effe verward rondhol, wat weer twyfel werp op jou lofsange op die boek…dalk si dit regtig goed, maar met jou ubervolk babbelas, sal ek seker nooit uitvind nie…vergelyk jy bv Mandela met se maar Verwoerd of wat???

  2. TS het gesê op Julie 10, 2012

    Sal moet kyk

  3. Izakdv het gesê op Julie 10, 2012

    Francois, Verwoerd en Mandela staan apart omdat Mandela juis uitgestyg het bo persoonlike vergrype.

    Die probleem wat ek hier aanspreek lê op twee vlakke:
    a) Die sistemiese geweld wat steeds onder wit en swart voortduur: seksisme, rassisme, klassisme, anti-gay… ons kan aangaan.
    b) Die feit dat mense in die regering en staatsinstansies daar is vir hulleself, en nie vir ander nie.

    Albei gaan ewe rustig voort onder die ANC as onder die NP.

  4. Izakdv het gesê op Julie 10, 2012

    Ek dink jy sal dit geniet, Tina.

  5. avega het gesê op Julie 10, 2012

    Dankie vir die skrywe, wonder of dit ‘n e-boek is?

  6. TS het gesê op Julie 10, 2012

    Grinnik… dink jy hy verstaan?

  7. Izakdv het gesê op Julie 10, 2012

    Vega, net onder die prentjie het ek die skakel geplaas na die e-boek.

Los ’n antwoord vir TS. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.