by

Somewhere on the border

Maart 12, 2012 in Sonder kategorie

Nota: Dié stuk bevat sterk taal, want dit handel oor die mekka van sterk taal.

Foto verskaf deur die Baxter

 

Somewhere on the border is ’n baie goeie drama. Ek beveel dit sterk aan. As jy ’n klomp how could you­-liberals ken, vat hulle saam. As jou vrou, lover of ma nog nooit kon verstaan wat jy nou eintlik daar gedoen het nie, neem haar (of hulle) soheentoe.

 

My vrou het van hierdie stuk gehoor, en besluit ek moet gaan. Ek was aanvanklik nie lus nie. Die vet weet. Ek was daar, het die T-hemp al lankal weggegooi en wil net gewoon aangaan. (Ek het weggebly van aktiewe grensdiens, maar ek het die hele saga meegemaak. Gelukkig kon ek die range oortuig dat ek meer werd is in die HK.) Ek is deur opleiding en het twee volle jare gemors – al was daar ook goeie tye, soos die drama uitbeeld.

 

So, met lang tande is ek na die Baxter toe – net om baie aangenaam verras te word.

 

Die stuk handel oor ’n jong, Engelse seun wat glad nie lus is vir die weermag nie. Hy het swart vriende en weet Apartheid is op pad uit. Wanneer hy egter wou weier, loop hy hom in die militêre polisie vas. Uiteindelik besluit hy om te oorleef, sy diensplig te doen (dit soos ’n man te vat, sou hulle sê) en lewendig ander kant uit te kom.

 

Die probleem is natuurlik dat baie van ons gelukkig was om lewendig uit te kom, maar nie sonder letsels nie. As jy (soos ek en van die karakters) nie saamgestem het met die beleid nie, moes jy maar baie van jou eie beginsels sluk.

 

En dit is presies wat ek wil sê oor hierdie stuk. Ek dink alle Suid-Afrikaners wat NIE diens gedoen het nie, moet dit sien. Ons keuses was beperk. Ja, daar was mense soos Charlie Bester wat tronk toe is. Ek ken Charlie baie goed en is steeds baie trots op hom. (Ek weet egter ook beter as vele ander hoeveel letsels hý oorgehou het.) Ek wou nie tronk toe nie. Ek wou net onder die radar vlieg en klaarmaak. Ná twee jaar en een kamp het ek wel aktief die stelsel begin uitdaag, maar is ’n ander storie.

 

Hel. Hier skryf ek al weer oor myself. Maar dis die punt. Ek was verfokkendomp weer terug in die tent. Ek het sit en sweet daar.

 

Gaan kyk dit. Nie as jy steeds aan erge post-traumatiese stres ly nie. Nee. Maar stuur dan jou gesin om jou te probeer verstaan.

 

Ek wil weer sê: Almal wat nie daar was nie, moet hierdie stuk gaan sien.

 

Die stelinkleding is puik, en realisties. Die stuk is baie goed geskryf, met slegs enkele goed waaroor ek ’n vraag sou wou vra (maar nie een het ’n beperking op die gang van die stuk nie).

 

Toe my pa my afgelaai het daardie dag, het hy werklikwaar gesê: “You will be a man, my son.”

 

Min het hy geweet.

 

Die akteurs is gewoon puik.

 

Charles Bouguenon, as Bombardier Kotze was fokKEN goed. En, ja, die vloeke is belangrik. Daar is niks so fokken hopeloos soos ’n opgfokte fokken PF-korporaal wat al 15 jaar in die stelsel sit nie. Ek het van hulle geken. (In die artillerie staan ’n tweestreep bekend as Bombardier, nie as Korporaal nie, maar die rang is dieselfde.)

 

Dylan Horley (as Doug Campbell, die rebel) oortuig volledig. André Lötter (as Hennie Badenhorst, die p()sbef#kte, getroude man) is presies soos die een ou wat langs my in die tent was. Glen Biderman-Pam (as die Jood, David Levitt) het die probleem van Jood-wees in die SAW mooi opgesom – hy is wit genoeg om te help skiet, nie Christelik genoeg om aanvaar te word nie.

 

Luan Jacobs (as Trevor Mowbray) en Kaz McFadden (as Paul Marais) speel die twee stiller outjies in die tent op só ’n manier dat hulle nie verdwyn nie.

 

Ndino Ndilula moet ook vermeld word. Hy speel gewoon “the black actor”. Sy karakters is aktante – werkers en voetsoldate. As swart karakter in ’n kraal vol gebreinspoelde rassiste, wissel sy rolle boonop tussen kruiperige onderdaan óf hofnar. (Teen die einde speel hy ook ’n belangrike ander aktant.) Ndilula speel hierdie rolle met oortuiging.

 

Somewhere on the Border is geskryf deur Anthony Akerman. Regie is deur André Odendaal behartig. Joanne Borton is die verhoogbestuurder. Kosie Smit is die vervaardiger en ontwerper.

 

Daar word gevloek soos net goeie Christene kan in die SAW. Voor my het ’n Afrikaanse tannie gesit wat vreeslik lekker gegiggel het vir die banale grappe en die vloekwoorde. Vir my was dit dé ja vu.

 

Gaan heen en ondersteun die groep. Hou mense met erge PTS weg, maar alle ander sal baat vind deur vir 90 minute in ’n weermagtent te sit. Daarna kan jy gelukkig terugkeer na civviestraat.

 

Die stuk speel tans in die Baxter.

3 antwoorde op Somewhere on the border

  1. Vetjan het gesê op Maart 13, 2012

    Dankie vir die heads up, sal my dogter vat.

    maar tog… bommies en kpl’s was gewoonlik 1 jaar ouer of miskien maybe 3 jr max ouer as die troepies en in die vegtende korpse is Jode presies dieselfde behandel as almal.

  2. Izakdv het gesê op Maart 13, 2012

    Hallo Petrus, die probleem met PFs sonder matriek is dat hulle soms gesukkel het om deur die range te klim. Ek het een geken – hy was ‘n dôner en ‘n hartseer figuur. In die PF-het range langer geneem om aan te leer.

    Maar, jy sal ander klein goedjies ook raaksien wat skaaf. Inderdaad. Die storie bly egter goed, al is daar sekere punte waar ek so wou verander.

    Oor die Jode: Ek vrees ek het ook gesien hoe medetroepe soms ernstige goed teen Jode en Porras sê. Ek was ‘n Seiner, en ons het talle ouens gehad wat snaakse tale gepraat het. Maar AMPTELIK is daar nie teen hulle gediskrimineer nie, dis heeltemal waar. Die stuk suggereer dit ook nie. Dis die interpersoonlike goed wat ter sprake is.

  3. Vetjan het gesê op Maart 13, 2012

    Hier is ‘n voorbeeld – op my eerste kamp het die PF sammajoor die rabbi laat kom – die een Jood was ortodoks en wou kosher eet, hulle het nuwe potte en panne gaan koop, die rabbi het gebid, en die ortodokse ou het die chef geword synde dat daar nie ‘n kosher chef was nie.
    Die ander Jode sê toe dis okay,hulle sal ook maar kosher eet. Een Joodse korporaal was op die spesifieke kamp ‘n groot maat van my.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.