by

Stuur groete aan Mannetjies Roux – Kunstekaap-teater Kaapstad

Junie 30, 2011 in Sonder kategorie

(Foto van Laurika verskaf deur Computicket)

Jip, ek het dit toe gaan sien, en dit boonop baie geniet.

Ek het die stuk om twee redes gaan kyk. Ten eerste is ek ’n groot liefhebber van Laurika Rauch en Christopher Thor se musiek, ten tweede ken ek vir Johan Badenhorst, die vervaardiger.

Dit kon dus òf puik, òf ’n teleurstelling wees. Dit was toe werklik genotvol. Die musiek was puik en die storie was bo verwagting goed.

Johan, die reisiger met die domineestem, is ’n baie wydbelese musiekkenner. Laurika se stem is soos warm heuning en Christopher Thor is eenvoudig fantasties. Hoekom was ek dan benoud? Wel, ten eerste is Laurika ’n wonderlike sanger, maar sy’s nie gemaklik op ’n kabaretverhoog nie. Ek het haar al sien optree en in intieme ruimtes is sy net nie so gemaklik soos Ziets of Amanda Strydom nie. Die goeie nuus is, op só ’n verhoog soos die Kunstekaap-teater s’n, en met honderde mense voor haar, kom Rauch tot haar reg; hier kan sy spog waarmee sy goed is: toneelspeel en sing.

Daar is ’n tweede rede waarom ek benoud was: haar musiek is baie bekend en iemand moes al hierdie liedjies só vervleg dat hulle steeds sin maak. Verder ken almal nou al die Mama Mia-resep … Om alles te kroon is ek nou ook nie ’n grootse rugbyman nie. Ek geniet ’n goeie wedstryd, maar ek is nie fanaties daaroor, soos die meeste van my taalgenote, nie.

Maar dit werk! Die storie, wat ek nie gaan weggee nie, is baie netjies saamgevleg, die toneelspel is oorwegend goed (hoewel ek gevoel het Isadora Verwey in die moeilike rol van Tante Koba het dalk soms te stereotiep voorgekom) en die musiek is regtig baie goed gedoen, want dis ’n puik ensemble wat hulle daar op die verhoog het.


Gaan heen en geniet dit. Stuur groete aan Mannetjies Roux wérk.

’n Klein bietjie meer detail

Die storie is heeltemal nuut, vars en selfs oortuigend.

Baie van ons ken die liedjies. “Stuur groete aan Mannetjies Roux”, “Toemaar die Donker Man”, “Op Blouberg se Strand”, “Die Gang” en selfs “My Ou Tante Koba” word deel van die verhaal.

Die stuk speel af in die Karoo. ’n Skoolmeisie (Engela) gaan besoek haar oom en tannie daar op die plaas, Dwarsbult. Soos baie Karooplase maar is, loop daar eienaardige karakters rond tussen die klippe.

Een van hulle, wat op vreemde wyse Toemaar gedoop word, begin bou aan ’n muur, en dan kom besoek die buurseun elke dag die muur om Engela te sien. (Julle kan nou al klaar die liefdesverhaal sien gebeur.)

Laurika, wat op die verhoog verskyn en dan weer verdwyn, speel die ouer weergawe van die skoolmeisie (Engela). Omdat dit ’n musiekstuk is, kan die ouer en die jonger karakters egter soms teenoor mekaar staan en bewus wees van mekaar. Hierdie wonderlike meta-element, gekoppel aan ’n tikkie van die bonatuurlike, maak uiteindelik van Stuur groete aan Mannetjies Roux iets wat selfs ’n siniese blikskottel soos ek kon waardeer.

Dis vet pret!

Die spelers

Engela Sr: Laurika Rauch*, met Nicole Holm as die dubbelspeler

Oom Frans: Deon Lotz* of Eben Genis

Tante Koba: Isadora Verwey

Engela Jr: Kika Smit of Elizca Coetzer*

Katie: Ilse Klink*, met Gilé Motshwane as dubbelspeler

Toemaar: Elton Landrew

Hanna Karina: Steffie le Roux

Anton: Kyle Grant

* Dit is die mense wat gespeel het toe ek gaan kyk het.

 

Die musikante

Orkesleier, dirigent en klawerbord: Clinton Zerf

Dromme: David Nilsson

Kitaar: Michael Bester

Baskitaar en kontrabas: Werner Spies

Dit was lekker om te sien hoe Zerf die hele vertoning aanmekaar hou; ek het by tye na die monitor sit en kyk om sy aksies te volg, want ek kon dan met die hoek van my oog die spelers sien reageer.

 

Agter die skerms

Vervaardiger: Johan Badenhorst

Skrywer en komponis: Christopher Torr

Regisseur: Paul Eilers

Musiekregisseur: Janine Neethling

Stelontwerp: Kosie Smit

Kostuumontwerp: Sarah Roberts

Beligtingsontwerp: Mannie Manim

Choreograaf: Aletha Williams

 

Spesiale vermelding moet verleen word aan Nina Torr wat “Maandag”, die donkie, lewendig gemaak het.

 

Die stuk word finansieel ondersteun deur Momentum, Rapport, Sarie, kykNET en OFM.

8 antwoorde op Stuur groete aan Mannetjies Roux – Kunstekaap-teater Kaapstad

  1. Modigliani het gesê op Junie 30, 2011

    Het jy toe al vir Johan gevra van die Chillies?

  2. Neander het gesê op Junie 30, 2011

    Ek het ook al met Clinton gespeel en ek tree self op in die DVD van My ou tante Koba.
    Paul Eilers en Janine Neethling is baie professioneel.

  3. Izakdv het gesê op Junie 30, 2011

    Hy gaan nou MOET antwoord! Ek sal hom e-pos en vra dat hy my laat weet!

  4. Izakdv het gesê op Junie 30, 2011

    Liewe aarde, wat kan jy NIE doen nie?

  5. Modigliani het gesê op Junie 30, 2011

    Sê vir hom dat as hy jou nie vertel nie, ek dit vir die hele Litnet gaan vertel op my blog 😉

  6. Izakdv het gesê op Junie 30, 2011

    Gotcha!

  7. Neander het gesê op Junie 30, 2011

    Izak, helaas, jack of all trades…

  8. bloukaap het gesê op Junie 30, 2011

    ek was nooit ‘n Laurika fan nie ….. totdat iemand my een Vrydag middag Tuks toe gesleep het (1988) om haar te gaan sien. sy het my elke sintuig oorwin.

Los ’n antwoord vir Modigliani. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.