by

Toevallige tekens

Oktober 5, 2010 in Sonder kategorie

Pragtig en stil: Dis hoe ek my kollega, Martjie Bosman, se tweede digbundel, Toevallige tekens, sou beskryf. Dalk moet ek háár woorde laat praat (uit “Meent”):

en jou kan wys hoe die byvreters een dag

uit die mis opdaag om vroeë reën aan te meld

en oor rooi vere van die loerie wydoop lag

Hulle wat jou dié mooi goed verwoord, is die vroue “in die voue van ’n kopdoek of ’n verslete sak”. Dié vroue van die meent, verstaan Afrika:

Hulle lees die tekens van die gemene besit

op allemansgrond, gebied onder koningsgesag.

Hierdie eenvoudige vroue wat só fyn waarneem vanuit hulle gemeenskaplike bestaan, vorm beide ’n metafoor én ’n jukstaposisie van skrywende instansie. Hoe so?

Toevallige tekens is ten eerste ’n pragtige ode aan die natuur. Die somer word só besing (in “Bosveldvisvanger”):

Weer en weer sal ek daarvoor waag,

die terugkeer van die visvangers

vroeg in November, om hul kariljon

oor die dorpserf te hoor rinkel

en in die digte krone van somerbome

– witstinkhout, soetdoring tipuana –

te soek na die oopvou van turkoois vlerke,

die rooi flits van snawels en silwer borsvere,

so mooi, so mooi dat jou hart inkrimp.

Daar is egter verdieping, dis nie net mooi beskrywings nie, want sy weet dat dit nodig is om nou

alle vensters oop te moet maak

om in die woonhuis van die sinne

die kortstondige geilte te behou.

Die beskrywings van voëls, van die herfs, die winter en die lente is pragtig, maar die bundel bly nie hier vassteek nie. Die skrywende, waarnemende instansie is uiters sosiaalbewus. Sy lewer dikwels baie akkurate kommentaar op die samelewing en veral oor die lot van armes. Nooit word dit egter prekerig nie; inteendeel, daar is deurgaans ’n bewustheid dat hierdie waarnemings gemaak word van binne “my klein huis van klinkersteen” (sien “Huis”) waaruit diefwering dié mense, waarvan sy so bewus is, probeer hou (sien “Venster”).

Hoe sierlik die wering

van die klein siersteenhuis

se vreesbevange vensters;

hoe probeer die wering

met kartels versier en verbied;

hoe probeer dit afweer

dié wat die ruit wil breek.

Die woede oor die armes en hulle lot word ook dus gejukstaponeer met die skrywende instansie se eie vrese, se eie onvermoë om die natuurskoon te beleef sonder vrees, of sonder om self ’n slagoffer te word (sien byvoorbeeld die gedigte “Die skreeu” en “Handsak”).

Telkens is daar egter nóg verassings: Daar is veel woede oor grypdiewe wat ’n handsak steel, maar die gedig “Grondeis” handel oor peste wat die tuin wil opeet en die spreker wat “reeds listig guerillataktiek” bedink om hulle eise af te weer.

Uiteindelik is dít wat hierdie bundel vir my definieer: Die uiterste sug na ’n private ruimte gekoppel aan ’n ewe sterk sosiale bewussyn. Wanneer hierdie wêrelde bots, ontstaan sterk poësie, want die fyn waarnemer is dikwels magteloos teen die wêreld, maar tog só pynlik bewus daarvan; soos wanneer sy aan “die rand van die dorpie” die seun ontmoet wat op hulle wag “om dringend te praat oor die sere aan sy been”. Die dilemma, tipies van Afrika, is dat die sere simptome is van ’n veel groter euwel, want “Sy ma het nie werk nie, hy g’n pa nie”. So bitter graag wil verteller dan ’n bonatuurlike mantra oproep:

Maar hierdie seun se singende siSwati

is hulpeloos teen die groter siekte.

Verleë draai ek my oë van hom weg.

Die verteller se enigste verweer teen hierdie hulpeloosheid, is om te dig daaroor. Tálle gedigte speel in op die sosiopolitieke situasie. Hierdie direkte aanspreek en oopskryf van politieke kwessies sluit aan by Antjie Krog se poësie, maar ook by dié van ons swart landgenote wat al jare lank die poësie bedryf om óóp te praat.

Gedigte soos “Shongwe Mission Hospitaal”, “Die dokters van die WGO”, “Monument van ’n volksmoord” en die drieluik “Mosambiekse Vlugteling” I, II en III word byna-byna prosaïs aangebied. Hulle werk egter júís omdat hulle so fyn inspeel op die ander gedigte se bewustheid van kuns, kleur, klank en tekstuur. Tussen hierdie meer tipiese strugglegedigte, staan woordpalette soos “Mutilados”, wat bloot name klankmatig aan die leser bied, welwetende dat die titel en die subtitel ’n boodskap uitdra wat geen verdere uitpraat nodig het nie, en “Die kind van Kigali” wat ’n gesprek is met Ingrid Jonker se ikoniese gedig.

Die openingsgedig “Op die spoor” waarsku al klaar: “Wildernis is nie eenvoudig nie.” Die verse ook nie, al lees hulle maklik, al is die beelding soms prentjiemooi.

Ek het nog altyd gehuiwer om ’n digbundel te resenseer, te meer nog van iemand met wie ek saamwerk, maar Martjie se vermoë om in die gebroke wêreld ’n “toevallige teken” raak te sien (“Eendagskroon”), haar sosiale bewussyn en die “so mooi, so mooi” beskrywings van die natuur, maak dat ek wíl sê: Sy gaan nie opdringerig raak en sê “Koop my” nie. Martjie is te privaat daarvoor. My bek is egter groot, dus: Koop Toevallige tekens en geniet dit.

Haar eerste, Landelik, is met die Ingrid Jonker-prys bekroon. Toevallige tekens is ’n waardige opvolger. Toevallige tekens se ISBN is 978-1-86919-400-0.

14 antwoorde op Toevallige tekens

  1. TS het gesê op Oktober 5, 2010

    Sal die moet gaan opsoek.

  2. shlwanjan het gesê op Oktober 5, 2010

    Sal dit defnitief in die hande kry.
    Klink asof sy verwoord wat ek maar alte dikwels voel.

  3. Izakdv het gesê op Oktober 5, 2010

    Hallo Tina. Baie lekker om jou weer raak te lees! Dis ‘n mooi bundel, ek dink jy sal dit baie geniet!

  4. Izakdv het gesê op Oktober 5, 2010

    Snaaks, dis presies hoe ek gevoel het toe ek die gedigte gelees het!

  5. Izakdv het gesê op Oktober 5, 2010

    Dit is. Jy sal mal wees daaroor.

  6. jeanihess het gesê op Oktober 5, 2010

    LOVELY:)

  7. jeanihess het gesê op Oktober 5, 2010

    Hello Lo; het oor Ashley Kriel geblog:))

  8. rolienv het gesê op Oktober 6, 2010

    Baie lief vir gedigte, sal dit gaan soek.Resenseer jy ook ander se gedigte en boeke?

  9. Murph_R het gesê op Oktober 6, 2010

    Shot Izak. Geluk ook aan Martjie!

    Vertrou als gaan uitstekend daar.

    Groetnis,
    Murph

  10. Izakdv het gesê op Oktober 7, 2010

    Gelees!

  11. Izakdv het gesê op Oktober 7, 2010

    Hulle is.

  12. Izakdv het gesê op Oktober 7, 2010

    Hallo Thandi, ek resenseer graag, ja.

  13. Izakdv het gesê op Oktober 7, 2010

    Inderdaad! Ons het mekaar lank laas raakgeloop.

  14. Izakdv het gesê op Oktober 7, 2010

    Jy sal hulle geniet, Ghaap.

Los ’n antwoord vir Murph_R. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.