by

Hoe doen blindes dit?

September 14, 2010 in Sonder kategorie

Dit is soms baie goed om net ’n slag te stop en te dink oor iets – iets so alledaags soos blindheid.

Ek het blerrie goeie oë en geniet dus boeke, fotografie en voëlskyk. (En dink net wat ek alles sal kan sien op Sandy Bay wanneer die weer mooi is!)

Ek het die ander dag verwys na Dr Wilhelm van Deventer. Daar was ’n berig oor hom in Sondag se Rapport. Kliek hier om die berig te lees.

Wilhelm probeer baie hard om mense te laat síén dat daar rede is om aan gestremdes te dink – dis hoekom hy hierdie veldtog voer.

En, snaaks, dink was presies wat my knaap die ander dag gedoen het.

Sondagoggend vra knaap:

“Pappa, hoe staan blinde mense op?”

“Hoe trek blinde mense aan?”

En toe: “Maar as hulle wil cool lyk, hoe weet hulle watter klere om aan te trek?”

Baie goeie vraag. Ek wonder hoeveel van julle weet?

Ek het op universiteit ’n blinde vriendin gehad en het baie by haar geleer.

Dis nou vir my egter vreemd om te dink hoe min van my vriende een of ander gestremdheid het. My een nefie het Downs. ’n Goeie vriendin het twee ouers wat albei doof is. ’n Ander het ’n stiefpa wat doof is. ’n Eks-kollega se man lei aan dieselfde kondisie as Wilhelm.

En?

Gestremdheid raak my dus nie. En dis erg, want, soos Wilhelm gesê het, daardie oorgang tussen gestremdheid en gesondwees is soms net ’n paar oomblikke. Vra vir Matthys Roets. Ek het so ’n maand gelede by ’n restaurant ingeval waar hy ook was. Dit was goed om te sien hoe goed hy regkom ver van die publiek se oë. (Ek het hom herken; hy weet natuurlik wie ek is nie.)

Praat van oë: Ek vra toe vir my seun of ek dalk een oggend sy oë moet toebind, dan kan hyself ’n bietjie voel hoe dit is om te moet opstaan, klere uitsoek en aantrek as jy nie kan sien nie.

Hy het ’n kort rukkie gedink en gesê: Nee, liewers nie.

3 antwoorde op Hoe doen blindes dit?

  1. UNPOCO het gesê op September 14, 2010

    Dis goed as mens oor hierdie dinge dink en nuwe empatie kweek vir die mense wat gestremd is. Ons aanvaar ons “gawes” goedsmoeds en vergeet maklik van diegene wat blind, doof of kreupel is. As jy egter ouer begin word en jou gesondheid neem af en jou sig gaan mettertyd agteruit neem jy deeglik kennis van wat jy gehad het.

  2. UNPOCO het gesê op September 14, 2010

    Dis goed as mens oor hierdie dinge dink en nuwe empatie kweek vir die mense wat gestremd is. Ons aanvaar ons “gawes” goedsmoeds en vergeet maklik van diegene wat blind, doof of kreupel is. As jy egter ouer begin word en jou gesondheid neem af en jou sig gaan mettertyd agteruit neem jy deeglik kennis van wat jy gehad het.

  3. Dit lê my na aan die hart en dit laat my elke oggend net nog bietjie meer dankbaar opstaan..

Los ’n antwoord vir monicahaddad. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.