by

Kleinsus en Kopenhagen tref dieselfde snaar

Desember 8, 2009 in Sonder kategorie

Twee, nee drie, totaal onverwante artikels het my opgeval in Maandag se koerante. Kom ons lys hulle, dan vertel ek julle hoekom hulle al drie in my blog te lande gekom het.

Die eerste is ’n stuk wat in Die Burger verskyn het onder die opskrif: Kleinsus is óók die bliksem in.

Die tweede is ’n redaksionele hoofberig wat vandag in 56 koerante in 44 lande verskyn het. Jip, al ses en vyftig koerante het dieselfde berig gedra: Maak erns met die aarde se klimaat.

Derdens ’n artikel oor ’n nuwe Bentley wat minstens R1,4 miljoen kos en slegs 4 km per liter brandstof kry.

Nou vra julle: Wat de ongeluk?

Wel, kom ons begin by Kleinsus. Sy sê vir die Boetmanne: Julle het vir die NP gestem. Kyk mooi om julle rond. By elke verkeerslig is ’n Buti. Buti is lankal gatvol vir arm wees. Buti soek werk. Buti kan ’n AK kry en, sê Kleinsus, Buti gaan dit nie teen sy eie kop druk nie.

Sinies?

Ek is mal oor siniese mense.

Waarom dan opgewonde raak oor Kopenhagen? Enige sinikus sal jou sê dis ’n spul warm lug daardie. (Ek sal in ’n ander blog die kwessie van aardverwarming aanraak – dis ’n hele kwessie op sy eie.) Die belangrikste aspek is egter dat Kopenhagen handel oor ryk lande wat hulle rykgatinwoners so ver moet kry om minder te mors. Niks anders nie.

Dan vra ek jou, waarom sal Bentley hulle kar groener maak deur die verdomde ding op biobrandstof te laat loop? Biobrandstof is een van die grootste euwels wat ons kon uitdink, want dit vat kos uit die armes se monde. Waar eens mielies vir kos geplant is is, word nou mielies en peule vir olie geplant.

’n Buti sonder kos het nie tyd vir ’n Bentley wat sy mielies eet nie – dankie Kleinsus.

 

Ken julle Simon Geer se boek? Die titel is: Going Green: 365 Ways to Change Our World.

 

 

Simon sê boeke en stories, dis ’n begin. Lees vir jou kind stories en jou lewe sal al klaar baie minder morsig wees.

 

5 antwoorde op Kleinsus en Kopenhagen tref dieselfde snaar

  1. palamino het gesê op Desember 8, 2009

    Daar is ‘n kortverhaal: “The man who planted trees”…ek kan nou om die dood nie onthou wie die skrywer is nie, maar dis een van die beste, mees opvoedkundige stories oor hoe om die aarde op te pas. Ken jy dit dalk?

  2. palamino het gesê op Desember 8, 2009

    ag, daarsy! Dankie Anha! Bly om te sien jy ken dit ook…dis so ‘n wonderlike storie!

  3. zephur het gesê op Desember 10, 2009

    Indien ek jou misloop op die blogs die volgende paar dae…wil ek net nou sê, geniet die verlof (indien enige) en beleef ‘n wonderlike fees tydperk. Mag die Kersfees ‘n baie spesiale tyd wees vir jou en familie.

    So met tyd gaan Blogville nou stil loop, soos almal hul karretjies pak…mag ons almal weer veilig terugkom en aan almal ons ervarings en ondervindings kom deel…onthou die fotos.

  4. Izakdv het gesê op Desember 13, 2009

    Dankie aan julle albei! Ek gaan dit lees.

  5. Izakdv het gesê op Desember 13, 2009

    Hallo Zeppie
    Vir jou ook ‘n mooi tyd!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.