by

Die Bybel: Gerda de Villiers lees dit

Mei 13, 2009 in Sonder kategorie

Gerda de Villiers het ’n baie interessante stuk geskryf oor ons tradisionele siening van Die Bybel. Sy sê:

Van kindsbeen af leer ons dat hierdie Boek anders is as ander boeke, en selfs namate ons grootword, lees ons dit anders as wat ons enige ander roman, gedig, brief, of traktaat sal lees. Die Bybel beklee ‘n ander status as ander literêre werke, en word ook beoordeel volgens ander kriteria. Waarom? Want ons is so opgevoed.

Haar artikel se naam is “So glo ons…” Dit handel oor die tradisies waarmee ons grootword; en die invloed van hierdie tradisies op ons lees daarvan.

Dit is die verwsyingsraamwerk waarmee ons na die Skrif toe gaan, en dit is ook die bril waardeur ons die Skrif lees. Ons koester ons tradisie want dit is deel van ons en dit help ons glo.

Die mooi van die tradisie skep egter probleme ook. In haar eie woorde: “Kan iets wat kosbaar is, dan gevaarlik wees?”

Sy antwoord haar eie vraag soos volg:

Ja: rooi ligte flikker wanneer sekere Skrifbeskouings positiwisties en fundamentalisties verabsoluteer word. Wat word hiermee bedoel? Sosio-kulturele en politieke omwentelinge in ‘n samelewing skep meestal groot onsekerheid veral as ‘n gevoel van magsverlies ervaar word. Hierdie onsekerheid word nog groter as ‘n ‘n geloofsgemeenskap voel dat sy teologiese basis ook nog bedreig word. Dié basis word gesien as die ‘kern’ – daardie ononderhandelbare ‘iets’ waarby geloof staan of val. Vervolgens ontstaan ‘n dringende behoefte aan vaste en laaste sekerhede wat dikwels aanspraak maak op historiese sekerheid, historiese betroubaarheid en historiese foutloosheid wat absoluut en sekerlik waar is.

Maar dit gaan nog verder. Ter ondersteuning van die argument word teruggeval op die Bybel – maar slegs sekere geïsoleerde teksverse word buite verband en buite konteks aangehaal.

Lees gerus self. Die Bybel bly een van die belangrikste verwysings in ons letterkunde en leefwêreld.

7 antwoorde op Die Bybel: Gerda de Villiers lees dit

  1. klarisabet het gesê op Mei 13, 2009

    Amen. Ek net eendag lank lank gelede daaroor geblog. Waarop dit vir my as Christen neerkom, is dat ek die Bybel lees, nie as Wetboek en Riglyn vir ‘n Foutlose Lewe nie; nie as Historiese Handboek nie; nie as Die Laaste Woord oor Sosiale en Maatskaplike Vraagstukke nie, maar as deel van my persoonlike, intieme verhouding met die Lewende God. (Hoe’s daai vir flukse gebruik van hoofletters *grin*)

    Ek glo nie daarin om ander mense met Bybelversies te probeer oorweldig nie, want as ek dan glo dat God self met my gepraat het en vir my iets uit die Bybel beantwoord het, glo ek met net soveel vertroue dat Hy ook met iemand anders, vir wie Hy nie minder lief het as vir my nie, sal praat op dieselfde manier. Ek hoef dit nie namens Hom te doen nie.

    But that’s just me…

    Lekker dag vir jou!

  2. Izakdv het gesê op Mei 13, 2009

    Lekker antwoord, dankie Klarisabet.

  3. avega het gesê op Mei 14, 2009

    Dankie vir hierdie inskrywing Izak. Ek wens almal van SeNet kon die goeie, kort en bondige artikel lees. Boonop was ek baie bly om weer iets te lees van ‘n vriendin wat ek jare laas gesien het. Vega

  4. Izakdv het gesê op Mei 18, 2009

    Dankie vir die inloer, Avega.

  5. sprokie het gesê op Mei 18, 2009

    Dis baie waar wat sy se. Ek self glo dis belangrik om die Bybel te lees bloot vir die literere waarde wat dit inhou. Soos sy se, is dit deel van westerse kultuur, en ek dink om westerse literere werke beter te verstaan is Bybelse kennis baie noodsaaklik. Jy moet bietjie kyk wat willemien en tronkie vandag oor geblog het. ek het ook ‘n link gepos op my blog, dit is baie langdradig, maar scan et bietjie daardeur as jy tyd het. ek vind konteks to geskrifte altyd uiters interessant….

  6. sprokie het gesê op Mei 18, 2009

    dit is lekker om sulke woorde van ‘n skrifgeleerde te hoor tannie Klarisabet…

  7. Izakdv het gesê op Mei 19, 2009

    Dankie Hoogheid, het Tronkie raakgeloop, sal nou by jou inloer.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.