by

30 nagte in Amsterdam deur Etienne van Heerden

Februarie 27, 2009 in Sonder kategorie

As julle nog nie van Connie Braam gehoor het nie, sou dit julle die moeite loon om ’n bietjie oor haar te lees voor, of na, die lees van 30 nagte in Amsterdam deur Etienne van Heerden.

Etienne noem haar, en haar boek, Operatie Vula: Zuidafrikanen en Nederlanders in die strijd tegen apartheid, agter in sy baie deeglike stel erkennings.

Zan de Melker is nie Connie Braam nie. Geensins. Tog is daar ooreenkomste. Een van Connie Braam se truuks was om die swart insypelaars “gewoond” te maak aan wit mense. En waar beter as binne in ’n wit vrou? (Haarself.)

Maar, Connie Braam sal veral onthou word vir die vermommings wat sy verskaf het aan die ANC se insypelaars. Sy kon enige iemand in iemand anders verander.

Julle het waarskynlik al resensies gelees oor 30 nagte in Amsterdam, so ek wil nie alles herhaal wat reeds gesê is nie. Ek sou graag ’n paar goed wil aanstip om julle nuuskierig genoeg te maak om die boek te lees, of te herlees.

Daarom wil ek op net twee aspekte van die boek konsentreer: Die diep interessante intertekste wat ons hier raakloop oor die sterk vroue en swak vaders, en die rol van die klein mensie in die groot geskiedenis (dalk selfs Geskiedenis met ’n hoofletter.)

Kom ons begin by laasgenoemde. Kan julle die wonderlike fliek Forrest Gump, van Robert Zemeckis, kan onthou? Die film is gebaseer op die gelyknamige roman deur Winston Groom. Indien julle dit gesien het, is julle al ’n hele entjie ver in die verstaan van 30 nagte in Amsterdam.

Die klein mensie se storie

Gump was ’n vaal seun en glad nie iemand wat voor in die ry was toe IK uitgedeel is nie, máár ten spyte daarvan was hy kwansuis ’n belangrike dryfveer in belangrikste dele van die Amerikaanse Geskiedenis (let op die hoofletter). Om maar twee te noem: Gump het vir Elvis geleer hoe om daardie heupe van hom te swaai (die pelvic movements waarvoor hy so bekend was) en Gump was verantwoordelik vir die val van Nixon deur Watergate te laat gebeur – aldus die film.

Waarom is Forrest Gump so ’n belangrike film in die Amerikaanse arsenaal? Amerika was nog altyd trots daarop dat die gewone mens in die VSA ook kan deel in die “American Dream”. (Dink ook aan iets soos The Jazz Singer van Richard Fleischer waarin Neil Diamond die hoofrol gespeel het.)

Wat Forrest Gump aan die “gewone mense” gesê het, is: Julle kan ook. Kyk, ek, Forrest kan, julle het ook die vermoë. Of, belangriker nog, Forrest Gump se boodskap was dat Amerika se grootsheid afhang van die bydraes wat gewone mense maak.

In 30 nagte in Amsterdam doen Etienne van Heerden iets baie soortgelyk. Hy gee Zan de Melker krediet vir die bekende Outspan-boikot, waartydens Suid-Afrikaanse vrugte geboikot is in die buiteland, en, word ons vertel, Zan was ook voor in die koor toe die anti-apartheidsbeweging Zuidafrika-Huis bestorm en talle ou boeke in die grag gegooi het.

Ek gaan nie te veel meer hieroor sê nie, want ek wil nie die storie weggee nie. Dis egter taamlik gou al duidelik dat Zan de Melker, die epileptiese Karoodogter, vir groter dinge bestem sou wees. Vind ook gerus uit hoe Zan haar lyf gebruik in die struggle. Lees self!

Die vraag is egter hoekom? Waarom van Zan ’n onbekende heldin maak, soos Connie Braam destyds was? Die antwoord lê in die ongemak wat 30 nagte in Amsterdam toon met die huidige bestel. Daar is ’n spul diknekke in die ANC wat die land en rykdom vir hulleself opeis omdat hulle in die “struggle” was. Moerse. Van Heerden se 30 nagte in Amsterdam vra: En wat van al die ander?

Die probleem met ons bloulig-bling-bling-brigades is dat hulle die indruk skep, of dit sommer sê, dat hulle geregtig is op die bling, omdat hulle eendag lank gelede iets vir die land gedoen het. Die punt is egter dat daar talle ander, baie eenvoudige mense is wat geweldig baie gedoen het, en nooit vermelding gekry het nie, nooit genooi is om in bling-konvooie rond te jaag nie, en ook nooit ryk geword het, of vrouens opgeëis het, soos Showerhead en sy crowd nie.

Zan de Melker word ’n ikon vir die klein mensie wat óók deel was van die bevryding, maar nooit eervol vermeld sal word deur die vetgatte wat vandag beheer verloor het oor die ANC nie. Daar is talle van hulle.

Soos Forrest Gump (die karakter), word Zan de Melker ’n metafoor vir al die ander wat op ’n manier onder die veiligheidspolisie deurgeloop het, of gehelp het, maar nooit medaljes sal kry nie.

Sterk vroue

Etienne maak melding dat die huise wat in 30 nagte in Amsterdam voorkom, weerspieëlings is van ’n aantal huise uit sy lewe. Tog, sê hy baie duidelik, dat die mense in die teks glad nie verwar moet word met sy eie gesin, of familielede, nie.

Dis dan goed so. Ek wil graag die rol wat die afwesige vader in hierdie teks vir ’n oomblik toelig.

Henkie woon by sy ouma. Henkie se pa is ’n senuweebol wat in die gestig beland.

Dít is interessant, want hierdie vader trek baie sterk op Etienne se ander struggle-roman, Kikoejoe. Lees gerus Kikoejoe weer en kyk hoe na hierdie twee vaders aan mekaar is.

Van Etienne se eie pa weet ek min, en dis ook nie belangrik nie. Die baie duidelike intertekste, en die hunkering na die Karooplaas as wrede idille is wél belangrik.

Saam met die swak vaders, staan die vroue in Van Heerden se werk gewoonlik baie sterk. Let ook op die rol wat die aristokratiese ou tannie speel in Asbesmiddag, daardie roman oor Skelmbos. Kyk hoe sterk is OumaOlivier ook in hierdie teks.

’n Mens sou ook na Seamus Butler, die neuroot en dié se pa (en seun) kon verwys in Die Stoetmeester, asook die rolle van die sterk vroue in húlle lewens. Reeds in Matoli is die plaas, die sterk vroue en die klein mensie se opstand al aanwesig.Selfs in Casspirs & Campari’s is dit die sterk vroue ágter Erwin wat hom bystaan deur dik en dun, wat maak dat hy kan volhou.

’n Mens kan geensins uit hierdie tekste aflei dat Van Heerden hier oor eie familie skryf nie, maar aangesien hy groot dele van sy oeuvre wei aan die sterk vroue, kan ’n mens nie help om die patrone raak te sien nie.

Persoonlik vs politiek

En só versterk Van Heerden die boodskap dat die stryd om geregtigheid nié behoort aan die enkele mans wat hulleself verryk deur die proses nie. Nee, kyk na die land se sterk vroue, maan hierdie tekste, húlle wat nooit geroem word nie.

Etienne van Heerden skryf nie borrelgom nie. Van sy tekste is selfs moeilik. Ek dink egter dat 30 nagte in Amsterdam een van sy meer toeganklike tekste is en dat hierdie karakters van sy sterkste is.

Dit is ook baie interessant om te sien hoe die klein mensie besing word in die teks en in die land se geskiedenis.

Net so terloops: Lees gerus in die geskiedenis hoe ’n jong Etienne van Heerden amok gemaak het op kampus met sy linkse idees. Kyk ’n bietjie wie het met die ANC onderhandel, lank voor die Broeders bereid was om hulle nekke uit te steek.

En kyk dan aan wie hy hierdie boek, en talle van die ander romans, opdra.

Sommer net interessant.

(Wat meer is, as julle een van die mooiste én tegelyk hartseerste paringsdanse ooit wil raaklees, gryp dan 30 nagte in Amsterdam.)

18 antwoorde op 30 nagte in Amsterdam deur Etienne van Heerden

  1. Dankie, Izak.

    Ek is hoeka besig met dié boek.

  2. Izakdv het gesê op Februarie 27, 2009

    Great! Geniet dit Maankind.

  3. Izakdv het gesê op Februarie 27, 2009

    Lekker, nie waar nie, Berwick?

  4. Izak.. wat is jou mening.. “WAAR IS Al die SKRYWERS HEEN? Woordfees bespreking..

  5. Izak, ja.

    Maar ek dink my gunsteling-boek van hom is Kikoejoe.

  6. Izakdv het gesê op Februarie 27, 2009

    Karoodonkie. Dis iets wat ‘n Karoomens baie sal geniet.

  7. Izakdv het gesê op Februarie 27, 2009

    Reg rondom jou, Elza… Kyk na al die nuwe boeke wat verskyn.

  8. Izakdv het gesê op Februarie 27, 2009

    Dis ‘n interessante een, Kelly.

  9. Izakdv het gesê op Februarie 27, 2009

    Dis makliker as van die ander, Murphy.

  10. Izakdv het gesê op Februarie 27, 2009

    Sê jy, Doekvoet, sê jy.

  11. Ek sal `n punt daarvan maak om dit aanteskaf. Lekker aand.

  12. Izakdv het gesê op Februarie 27, 2009

    Jy sal dit geniet, Penguin.

  13. Izakdv het gesê op Februarie 27, 2009

    Berwick. Het jy die pa’s vergelyk in die twee boeke?

  14. ‘n Bietjie ja, Izak. Maar ek’s nog nie ver met 30 Nagte nie.

  15. Izakdv het gesê op Februarie 27, 2009

    Hi Therina, dankie. Sal met die kleinman speel!

  16. Izakdv het gesê op Februarie 27, 2009

    Okay, Berwick, dan gaan ek niks meer sê nie!

  17. Izak, dankie vir die belangstelling. Die eerste onderhoud het goed verloop. Noumoet ons maar duim vashou vir opvolgonderhoude.

  18. Izakdv het gesê op Februarie 28, 2009

    André, my duime is STYF vasgeknyp!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.