by

Michael Rands se Praise Routine number 4

Februarie 21, 2009 in Sonder kategorie

Micahael Rands is, net soos André S. Kamer, ’n komediant. As julle iets van komedie af weet, dan weet julle tydsberekening is alles. Ek was self al op die verhoog en ek weet dat jy elke aand anders speel, juis omdat ’n gehoor jou lei.

Skrýf jy egter humor, lees jou leser dit eers veel later. Jy moet dus bitter skerp wees om daardie sinne, die tye en die oomblikke net lank genoeg uit te rek, nie te gou te los nie, en ook nie te lank uit te rek nie. (My eie komiese skryfdebuut was in Alles goed en wel.)

Ritme en tydsberekening is alles.

Michael Rand se Praise Routine number 4 is nie ha-ha-humor nie; nee, dis donker humor hierdie.

Praise Routine number 4 begin met ’n jazzerige ritme; jy is nooit heeltemal deel van die beat nie.

’n Goeie jazzdrommer is nie ’n metronoom nie, inteendeel. Met jazz is dit die vermoë om die ritme so effens te klits, te meng, mee te speel en rond te gooi wat ’n goeie drommer van ’n swak een onderskei.

Praise Routine number 4 gaan nie oor musiek nie. Dit gaan oor ’n ou wat ’n onpaar voete het; ’n sewe en ’n elf. Hy moet dus altyd twee paar skoene koop. Behalwe nou as hy werk in daardie duur restaurant waar hy die Engelse pryssanger is wat die Xhosatekste vertaal. Daar dra hy diervelle en praat hy die Xhosavoorsanger na. Hy is ook kaalvoet as hy werk.

Die probleem is, hy haat sy werk. En omdat hy sy werk haat, rook hy te veel dagga.

Iewers tussen die newels ontmoet hy ’n beeldskone meisie wat hom wil afneem. En dan vra sy hom om sy klere uit te trek … en skielik is hulle ’n item. (Sy voete, nou ja, sy sien dit raak en steek dit nie weg op die foto’s nie.)

Sy trek in by huis wat hy van sy pa geërf het; sy maak skoon en sy koop vir hom skoene (twee paar).

Ongelukkig rook ons knaap hom heeltemal uit sy werk uit. En eendag, na ’n reenbui sy daggaplante ook verniel, kom hy op ’n been in sy tuin af. Hy glo, heel beneweld, dat die been vir hom baie geld kan inbring en hy probeer dit verkoop op ’n gemeenskapsmark.

Niemand koop die been nie, maar die opgrawing maak die instinkte van ’n entrepreneur wakker; dié besluit onse werklose hoofkarakter se huis is die ideale plek vir ’n jeughostel. Sy bied hom ’n deel van die wins aan, en trek in. Sy neem ook oor.

Teen hierdie tyd het die onsigbare drommer / skrywer spoed opgetel. Hy’s nie meer saggies in die agtergrond nie. Nee, hy sit en sweet soos hy die solo wil-wil oorvat. Die ritme is hitsig, dit wil oorslaan na iets uit die Suide van Amerika. Veral as ons vriend tydelik die dagga los en werklik die fotograaf begin geniet. Dan raak dit sexy. Vir ’n oomblik wil-wil jy ’n salsa begin hoor. Die ritme klop. Dit pols. Jy wil weet. Ons held hou op rook. Hy ontdek die wêreld weer. Weg is die dromerige jazz.

Maar iewers, en ek kan nie presies sê waar nie, kaap die drommer die stuk en begin harde rock en roll slaan. Nou kyk, in rock en roll is die drommer die ou wat alles aan mekaar hou. Hy sit nie verniet op agsteman nie, die drommer beheer die spel; dink metronoom. Kyk wat doen Roger Taylor (Queen) daar op nommer agt. Of David Grohl (Nirvana), veel later …

As dit ’n film was, sou ’n mens kon dink dat Woody Allen moes plek maak vir Quentin Tarantino. Alles verander. Die off-beat humor verval in harde, lawaaierige holderstebolder scénes waar rewolwers gesteel word, daggaplante gekweek word, junkies op krukke praat met ’n junkie wat glo hy was al op die maan… Die gek entererpeneur (of is sy slim?) neem oor in ons vriend se huis. Sy sleep hom selfs bed toe. Intussen blaas die hoofkarakter sy laaste geld op ligte wat sy daggaplante sal laat groei. Maar ook dít word stelselmatig van hom af weggeneem.

Teen dié tyd loei die elekrtiese kitare en die dromstel stamp ’n verwoede ritme uit. Ons is nou iewers tussen acid rock en heavy metal.

Met ’n .45 in sy hand stap ons held met ’n helder kop vol bravade op sy nemesis af, maar kan hy die pas volhou?

Heel subtiel laat die skrywer die klankbaan nog eens verander. Met die gesteelde pistool in sy hand, neem die held nog eens ’n behoorlike zol op, en stadig, ritmies, tik, tak, tik, tak loop ons vriend sy lot tegemoet.

Dit moet kom.

Praise Routine number 4 is tragikomies. Dele is vrek snaaks. En tog is daar ’n voortstuwende sin vir doem. Jy hoop die hele tyd die bliksem wil die wêreld aan die hand gryp, maar helaas. Teen die einde, op die heel laaste paar bladsye hoor jy dit: ’n marche de la mort. Die kitare is weg. ’n Makabere stel koperblasers het oorgeneem.

Dis nie ’n moeilike teks nie. Dit lees maklik en vinnig. Tog is dit ook nie ’n ligte briesie nie. Júís omdat Rands die “likable rogue” so goed skets, is hierdie teks iets om te lees.

As jy al dagga gerook het, weet jy: Die eerste deel is amazing. Later skop die bravado in, en dan… dan kom die duh gevoel die volgende dag. Praise Routine number 4 neem jou deur hierdie stappe.

Rands is ’n jong outeur, maar dis ’n baie sterk stem hierdie. Sy werk trek sterk op dié van Ivan Vladislavic: ongenaakbaar, sterk geskets en nie bang om heerlik vir sigself te lag nie.

9 antwoorde op Michael Rands se Praise Routine number 4

  1. Izakdv het gesê op Februarie 21, 2009

    Dankie Sietltjie!

  2. sjoe doef doef my hart nou, net deur jou skrywe te lees… gaan definitief ierdie boek kry… so gou moontlik.

  3. sjoe doef doef my hart nou, net deur jou skrywe te lees… gaan definitief ierdie boek kry… so gou moontlik.

  4. Izakdv het gesê op Februarie 21, 2009

    Geniet dit, Elza

  5. hutton het gesê op Februarie 21, 2009

    LOL!

  6. hutton het gesê op Februarie 21, 2009

    LOL!

  7. Izakdv het gesê op Februarie 22, 2009

    Suz met die swart ogies, Ben Elton is een van die GROOTmeesters. Stunning.

  8. Izakdv het gesê op Februarie 22, 2009

    Hallo Hutton!

  9. Izakdv het gesê op Februarie 22, 2009

    Doen dit, Lo-Ammi

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.