Jy blaai in die argief vir 2009 Januarie.

by izakdv

Waarom so wit?

Januarie 7, 2009 in Sonder kategorie

Nou pas weer ’n paar wonderlike oomblik beleef.

Knaap en die oorbure se seuntjie is omtrent ewe oud. Hulle speel oor en weer. Soms verdwyn knaap vir ure, of die jongeling kom speel hier.

Die oorbure het ons nou net genooi om die familie uit Australië te kom ontmoet. Knaap was reeds daar en daar is woes gespeel. Die klein Australiërtjies het saamgespeel en daar was ’n paar nefies en niggies ook.

Die Australiër werk as ’n kartonpakker vir 20 uur per week, en die res van die tyd spandeer hy, teen betaling, om mense se karre te “dokter”. (Dink warm maak / mooi maak / blink maak, dink stywer koppelaars en laer suspensie, dink spuitverf…)

Hy doen goed vir homself. Omdat hulle Moslem is, is die kinders in ’n privaatskool. Hulle word betaal omdat hulle kinders het. (Dis waar, die Australiërs betaal mense om kinders te kry.)

En hulle vertel verder. Die goeie hospitale. Die groot salarisse. Die gebrek aan misdaad. Hoe veilig dit is vir die kinders.

Hoe ook al. Net daar raak die ou heel nostalgies. (En onthou, geen alkohol nie. Een van dié teenwoordig is baie bekend in die hogere Moslemkringe.)

Hy sê: “Maar jy weet, ons kinders kan nie speel soos hier nie. Daar is nie genoeg van ons nie. Die kinders speel met Turke en Oosterlinge. Ek en jy verstaan mekaar. Jy’s wit, ek nie. Ons verstaan mekaar. Ons is van Suid-Afrika.”

Ensovoorts. (Hy praat nog vlot Afrikaans.)

Die wonderlikste deel van die aand was egter toe my knaap ingehardloop kom en vra (in Engels, want dis wat die maatjies praat): “Dad, why am I so white?” En hy wys na sy handjies se palms. (Onthou, my knaap se velletjie orals anders die kleur van baie donker sjokolade.)

“Jy’s so gebore,” sê ek.

“O,” sê knaap en draf na die maatjies. “Daddy says I was born like this!”

Lank lewe die nuwe Suid-Afrika.

by izakdv

Lig die rok liefs nie hoër nie

Januarie 6, 2009 in Sonder kategorie

My vrou is nie gemaklik daarmee dat ek die ou tannie wat vanoggend oorlede is, “out” nie (sien my inskrywing oor die dood van ‘n drag queen vroeër vanoggend). Daar is nog kinders, en daarom gaan ek my geliefde se wense respekteer. Geen name, dus nie. (Sy was nie bekend nie, julle sal haar nie in die koerant raakloop nie, dis deels hoekom ek haar wou besing).

Wel kan ek die volgende vertel, sonder om iemand te na te kom, is:

– Die tannie is as man gebore.

– Sy wou altyd ’n vrou wees.

– Sy was ’n student in Engeland toe die tweede wêreldoorlog uitbreek, en die oorlog het haar karnuffel.

– Sy wou baie graag ’n geslagsveranderingsoperasie ondergaan. Daar was vriendelike dokters in daardie tyd, maar dinge vat lank voor hulle by ’n punt kom, verskoon die woordspeling. (Kyk gerus die film Trans America as julle meer wil weet.)

– Haar behandeling is egter wreed onderbreek deur minder simpatieke dokters.

– Sy is later getroud (as man), met ’n vrou.

– Daar is kinders uit die huwelik gebore. (Lees Philip Liebenberg se boek as julle meer oor sulke sake wil weet.)

– Veel later het sy na Suid-Afrika gekom en was ’n suksesvolle musikus. Klaarblyklik het sy hier as vrou haarself uitgeleef.

– Oor die jare het sy egter nooit regtig ingepas nie.

Ek het haar baie na aan die einde van haar lewe leer ken. Sy was nie meer identifiseerbaar as van enige geslag nie.

My vrou het goed bevriend geraak met haar, en dis hoe ek haar ontmoet het.

Wat my egter opgeval het van haar situasie, is hoe alleen sy geword het: Verstoot deur haar eie gesin, het sy oud geword en alleen gebly. Vir haar pa kon sy nooit die seun was wat hy wou hê nie, vir sy (haar) vrou, kon sy nooit die ware man wees nie, en as pa vir die kinders het dit klaarblyklik ook gesukkel.

En nooit had sy die kans om werklik vrou te wees nie.

Was dit nie vir twee aparte kerkgemeenskappe nie, sou sy niemand gehad het nie. Die Goodhope MCC se mense het baie vir haar omgegee. Sy het ook soms gaan inloer by ’n ander gemeente, net om mense om haar te hê.

Daar is organisasies wat baie doen vir transgendermense in ons land en daar is ’n hele paar mense wat ons land se vryheid en menseregte benut. (Terloops, geslagsveranderingsoperasies is in die ou Suid-Afrika ook gedoen. Ek het in die tagtigs al mens geken wat suksesvol van geslag verander het.)

Van julle het nou al my storie, “Transgressie”, gelees. Ek het geraap en geskraap en mense se stories gesteel, toe verwerk en het so die name en plekke verbloem.

Dus, laat die res fiksie bly, dis dalk beter so.

Mag die engele vir haar ’n helder rooi rok gee as sy daar bo aankom.

by izakdv

Ezile sê Byna Liefde is soos ’n fotoalbum

Januarie 6, 2009 in Sonder kategorie

Ezile is een van die groot storievertellers hier ten blogge. Sy het die vermoë om ’n eenvoudige gegewe in ’n heerlike narratief te omskep.

Nou’t sy Byna liefde gelees en haar vertelkuns op my boek losgelaat. Dis iets om te aanskou!

Luister hier:

Om Izak se boek te lees is soos om skelm deur iemand se baie private fotoalbum te kyk. Jy glimlag as jy na sekere kiekies kyk, sien die patos in ander en voel die trane loop as jy ‘n baie mooi moment of besondere hartseer oomblik in iemand se lewe raaksien.

En daar is nog. Maar lees self!

Dankie, Ezile!

by izakdv

Nog ’n ou drag queen daarmee heen

Januarie 6, 2009 in Sonder kategorie

Poppie se inskrywing oor mense wat nie van geweet word nie, dwing my nou om ’n kort inskrywing te maak.

’n Baie besondere, maar baie sad mens is vannag om 02h30 oorlede.

Ek sal later meer oor haar sê, maar hier is die sinopsis: dis iemand wat as man gebore is, maar haar hele lewe lank ’n vrou wou wees.

En uiteindelik het sy gesterf sonder om ooit volledig te behoort.

My feite is tans te karig. Ek gaan eers, met my geliefde se hulp, meer uitvind voor ek meer sê. Maar, soos Poppie sê, en soos Henk sê in Etienne van Heerden se 30 nagte in Amsterdam: IEMAND MOET SOMS PRAAT OOR HULLE WAAROOR NOOIT GEPRAAT WORD NIE.

by izakdv

Droomkind se probleme met Byna Liefde

Januarie 5, 2009 in Sonder kategorie

Droomkind het ’n baie interessante stuk geskryf op haar blog waarin sy haar probleme met Byna liefde deel met ons. Ek dink julle moet dit lees!

Ek pas kleinman op. Dan is daar die werk ook (Byna liefde verkoop nie so goed dat ek voltyds kan skryf nie), so my tyd is nou min.

In skooltyd is die roetine beter, dan kom ek darem laataand by die blog uit.

Wat my bring by een van Droomkind se probleme: Ons leer mekaar so goed ken hier op die blog, dat ek julle mis as ek ’n paar dae nie hier was nie. Ek was eers skepties oor die bloggerasies, maar dis lekker om soveel interessante mense te leer ken. Eintlik sou ek graag meer van julle in die oë wou kon kyk!

Dankie vir almal!

En dankie, Droomkind, vir die heerlike skrywe oor Byna liefde. En, terloops, in antwoord op jou vraag oor die kêrel op die agterblad, mm, nee, ek weet nie. Ek ken iemand wat nogal so lyk, hy is Presley Sutherland, die plaaslike (gay) dominee van die gaykerk (die Goodhope MCC.) Presley is vreeslik nice, maar hy het ’n boyfriend.

Sommer net omdat jy so nice is, hier is ’n onlangse kiekie van my (deur Awie Badenhorst). Ek het gesit en wag vir Johny Clegg om te sing, toe skiet Awie dié ou sielvolle kiekietjie van die uwe. Die baard moet seker nou maar weer waai, ander lyk ek dalk soos Ludwig, en hoe gaan julle dan weet wie om te glo?

by izakdv

’n Royal resensie van Byna Liefde

Januarie 1, 2009 in Sonder kategorie

Mense, ons eie bloubloed, Prinses van die Ertjie, het ’n wonderlike resensie van Byna Liefde geplaas op haar blog.

Sjoe, dankie, Prinses!

by izakdv

Byna Liefde op die Bergrivier?

Januarie 1, 2009 in Sonder kategorie

Ek het dié tweetjies afgeneem op die oewer van die Bergrivier. Dit was verbrands vinnig en alles was oor. Praat van ’n quickie!

Daar, ’n klipgooi van die Bergrivier se monding, het ek Etienne van Heerden se 30 nagte in Amsterdam gelees. WOW. Daar is ’n paringsdans in daardie boek wat julle na julle asem sal laat snak.

As ek meer tyd het, sal ek meer breedvoerig berig oor Etienne se roman. Lees dit. Bliksem, dis kragtoer.