Jy blaai in die argief vir 2009 Januarie.

by izakdv

Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom

Januarie 20, 2009 in Sonder kategorie

 

Martie Preller het ’n paar goed op my blog geskyf wat ek graag stuk-stuk aan die groot klok wil hang.

Ten eerste het sy hierdie boek aanbeveel: Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom, ’n gids tot die Afrikaanse kinder- en jeugboek. Dit is deur Maritha Snyman en Gretel Wybenga saamgestel en deur Lapa uitgegee.

Dit is wat Lapa self hieroor sê:

Hierdie gids vervul ’n wesenlike leemte ten opsigte van oorspronklike navorsing by resente tekste en genres oor Afrikaanse kinder- en jeugboeke op alle vlakke. Dit is geskik vir die vakspesialis soos biblioteekkundiges, navorsers op die terrein van kinder- en jeugliteratuur en voor- en nagraadse studente aan tersiêre inrigtings, maar ook vir die algemene leser soos ouers, onderwysers en ander belangstellendes.
  Die boek is verdeel in ’n afdeling met artikels oor die kinderboekillustrasie, kindertydskrifte, bekronings, die vertaalde boek en reeksboeke, sowel as ’n poësie-, prosa-, en toneeloorsig. Die tweede afdeling bevat 123 outeursprofiele, alfabeties gerangskik.

En dit is wat Boekevat, daar uit Europa, oor die boek sê:

Ek gebruik bitter gereeld Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom dit is inderdaad ‘n uitstekende gids.
Van die boeke in die Engelse literatuur wat as jeuglektuur geskryf is maar uiteindelik vir volwassenes en kinders (dikwels met verskillende stofomslae) bemark is, is Holes, The boy in the striped pajamas en The curious incident of the dog in the night-time my gunstelinge!

Daarop antwoord Martie toe:

Ja, ja, Boekevat. En Catcher in the Rye en To Kill a Mockingbird en Lord of the Flies. ‘n Mens sal seker nooit weet nie, maar ek is amper doodseker nie een van daardie boeke is geskryf “as ‘n boek vir kinders/jongmense” nie. Dit was net ‘n storie – ‘n mensstorie. Kinders is ook mense 🙂 Tieners ook. Soms het mense nogal blykbaar die idee dat “tieners” (veral) ‘n spesie op hulle eie is en eers “mense” word as hulle 18 is? 🙂 En as mens groepe mense so sien as ‘n homogene groep – dan IS jy dalk geneig om te wil “preek”. Daar is min boeke in Afrikaans in vergelyking met Engels, dus is ons dalk meer in staat om te “kategoriseer” – ook omdat die hoofmark vir “tienerboeke” die skole is.

Martie is reg oor die skoolmark. Ek maak ’n lewe uit die onderwysdepartement. Helaas.

Dankie, julle. Ek is besig om deur die res van die kommentaar te werk en sal binnekort meer daaroor vertel.

by izakdv

Dip ‘n Ouma!

Januarie 20, 2009 in Sonder kategorie

Blackeyedsuz het die volgende op my blog geskryf:

Izak, my ouma het op 70 nog gesê sy voel bloedjonk … en sy het nie geskroom om met haar grote lyf te skinny dip saam met haar kleinkinders om dit te bewys nie! Sy was nog altyd een van my rolmodelle wat die “lewe” aanbetref. Juis oor haar ewige jeugdigheid!

Dís nou ’n rolmodel!

Dankie Suz!

(Soveel anders as mý ouma De Vries. Dié ou tannie het trots gesê haar man (sic) het haar nooit kaal gesien nie. Sy het darem twaalf kinders gehad by hom! Praat van die kat in die donker knyp.)

by izakdv

Afrika

Januarie 20, 2009 in Sonder kategorie

Hallo julle

Ek het ’n goeie dag gehad, dankie.

Dankie vir almal oor die wye wêreld wat my dag spesiaal gemaak het.

Kleinman het nou eers tot rus gekom, die geliefde slaap al, so ek kom gou hallo sê.

Martie Preller is besig om wonderlike goed te sê by die inskrywing oor Die verdrinking van Josua van Eden, en ek skuld haar ’n antwoord, maar ek is nou te vaak om slim genoeg te wees.

Daarom wil ek iets aanroer oor ’n vraag van die Prinses, oor Afrikakulture. Ek gaan nie nou haar vraag beantwoord nie, maar ek wil eerder vra: Hoeveel weet ons werklik van ons eie kontinent?

Een van my medewerkers, Lynne Smit, was onlangs in Mali.

Kyk hoe vertel sy van die manier waarop die jakkalse die geestelike leiers help om antwoorde te kry op mense se vrae.

Jare gelede, in Kom slag ‘n bees, het ek ook ‘n storie vertel oor ‘n man gehelp is deur ‘n sangoma.

En weet julle wat ’n Toguna is? Dis ’n plek waar mans ontmoet, en moet buk om in te kom. Lynne noem dit ’n “remedy for arrogance” en sê:

Every village, no matter how small, has one. Its a place of meeting. It a place where the village elders pass down their pronouncements and decide in disputes. Its the place where the men congregate in the evenings.

Tog let sy op dat vroue nie soheentoe gaan nie. Sy wonder, effens tong in die kies, of die vroue nie nodig het om van hulle arrogansie afstand te doen nie?

Lees ook gerus hoe sy opgegradeer is na die presidensiële suite na die hotelbestuurder haar op TV gesien het.

’n Goeie vriend van my was onlangs gereeld in Timbaktu. Wie van julle kan dit op ’n kaart kry, of sou kon raai wat ’n senior ingenieur gereeld daar gaan doen?

Prinses. Dis nie ’n antwoord op jou vraag nie, wel ’n soeke na ’n antwoord wat ek al lank oor gewonder het: Wie is Afrika?

Kyk op die blogs om julle. Orals is stukkies Afrika, selfs in die woorde van ons Prinses, Lorinda of Boekevat.

by izakdv

Bestek op 18 Januarie 2009

Januarie 18, 2009 in Sonder kategorie

Met apologie aan Johan Myburg*

praat netnou met myself
wat môre veertig word, kyk
in ’n spieël. my lyf, dis duidelik,
verdik. oë fokus goed, maar melanome

skryf in donker ink norse memo’s
in morsekode onder vel. geheue maak
knope los, vergeet ontkopings.
wat het ek teen veertig bereik?

pruttel ek. die gesig van die wêreld
verander? moenie glo nie! ek is nie eens
’n moesie op ’n wang nie! onbeduidend.
wat het ek om te wys? wel ’n kind

koffers, dus, uitgepak
in huis paleis gesinspondok. dis al.

L’ envoi

soos gemeld nie eens ’n digter nie, gesteelde
vers vir blog. want kleinman eet
tyd. dus? DANKIE, julle
vir die reise sonder tas, sonder pas.
(wanneer dit kleinman pas)

*Johan Myburg se oorspronklike vers, “bestek”, verskyn in Kamermusiek, uitgegee deur Lapa.

(Die afgelope paar dae was gek. Ek sal my bes doen om meer gereeld hier te kom inloer.)

by izakdv

Sieltjie se skakels

Januarie 13, 2009 in Sonder kategorie

Sieltjie sonder sorg, wat yskaswoorde pleeg, wil weet hoe om ’n hyperlink te maak.

Nou, Sieltjie, ten eerste is dit belangrik om die skakel te kry. As jy ’n spesifieke inskrywing wil hê, kliek op kommentaar en highlight dan die hele skakel (dis die ding heel bo). Die skakel lyk dan so:

http://litnetblogs.24.com/ViewComments.aspx?mid=cccf36fb-2194-40fd-b8d2-3309d23d32fb&blogid=82895bd8-b71c-46ed-8298-9905026cf3e2

Maak seker die skakel is gekopieer (copy dit) en highlight die gedeelte wat jy wil onderstreep:

Kliek nou op die knoppie wat die skakel aandui.

Die volgende gaan verskyn:

Vee die http:// uit en plak (paste) die hele skakel daar. Dit sal nou so lyk.

Kliek op OK.

Jou skakel sal daar wees. Geluk!

by izakdv

Min woorde, groot storie

Januarie 13, 2009 in Sonder kategorie

Kyk ’n bietjie hier. Cindy vertel met enkele reëls ’n storie oor byna liefde / ware liefde / liefde.

by izakdv

Die verdrinking van Josua van Eden

Januarie 12, 2009 in Uncategorized

9781415200650

Josua se naam is nie verniet Josua nie. Sy Bybelse eweknie waak mooi oor hom. En hy mag Van Eden wees, maar teen die einde van die boek vat hy ’n happie uit ’n kaal vrou en sy onskuld is vir altyd verby.

Jip. Daar is effens meer om die lyf in Carina Diedericks-Hugo se Die verdrinking van Josua van Eden as wat jy sommer sal optel as jy woerts lees. Danté se Goddelike Komedie is ’n sterk interteks, en van die karakters lees selfs filosofie.

Is dit dus ’n moeilike boek? Beslis nie.

Lees dit maklik? Ja.

Het Izak dit geniet? Ja.

Sal hy dit aanbeveel? Ja, maar dan moet jy weet wat jy koop.

Dis belangrik om te besef ek het lekker gelees aan die boek, want ek het enkele stukkies kritiek wat ek later sal deel. Voor ek hulle egter deel, moet ek eers iets sê oor die probleem wat ek, oor die algemeen, met literatuur het wat vir tieners geskep word.

Is daar iets soos “tienerboeke”?

Ek sukkel nog om te glo in tienerboeke. Kom ons neem die Harry Potter-reeks. Dis hoegenaamd nie kinderleesstof nie. En grootmense is ewe mal oor die boeke, want hulle is goed geskryf.

Die Fritz Deelman-reeks, Suid-Afrika se eie, was eweneens gerig ’n mark wat kon strek van laerskoollesers tot volwassenes.

Daar was boeke soos Chris Barnard se Danda en Danda op Oudeur wat heerlik gelees het, maar, juis, dit was blerrie lekker boeke wat ook deur volwassenes gelees is. Of wat van Jan Rabie se Seeboek van die Sonderkossers? Lekker!

Natuurlik was daar besondere reekse, soos Trompie, Die Uile, Die Buiter, Die Maasdorp-reeks en die Keurboslaan-reeks. Die probleem is dat ek hierdie boeke reeds teen standerd vier kisgeloop het, en toe maar oorgeskakel het na Engelse boeke vir volwassenes.

Daarteenoor het daar in die vorige eeu ’n hengse beweging ontstaan, wat “jeuglektuur” genoem is, waarmee ’n klomp volwassenes toe probeer het om kinderangst aan te spreek. Die resep van daardie boeke was eenvoudig:

– Die ouers was geskei, of die ouers was op pad om te skei.

– Die tiener is moerig, maar omdat jy nie vloek in Afrikaans nie, praat hulle keurig Afrikaans.

– Omdat Afrikaanse kinders nooit aan seks dink voor hulle trou nie, was hormone nooit in die prentjie nie.

Kortom, “jeuglektuur” in die ou Suid-Afrika was nie altyd suksesvol nie. Wie wil nou wroeg as jy Hammond Innes, Wilbur Smith en Dick Francis het?

En so het ek begin glo dat dit ’n mite is dat daar nooit ’n goeie “tienerboek” geskryf gaan word nie.

My kontensie was (is?) dat jy kinderboeke kry, en dan, daarna, goeie leesstof wat deur intelligente jongmense, of volwassenes, gelees gaan word. Selfs die werk wat deur NB en die Sanlamprys vir jeuglektuur gekies is, het dit moeilik gemaak om van dié standpunt af te sien.

Waar pas Barry Hough in? Streng vir kinders? Ek weet nie. Ek glo egter nie.

Kyk wie lees Marita van der Vyver se jeugboeke – laerskoolkinders. Wat lees hoërskoolkinders? As hulle lees, lees hulle Marita se boeke vir volwassenes.

Meer onlangs het mense soos Fanie Viljoen (Breinbkliksem) en Francois Bloemhof (Liefs nie vir kinders nie) dié idee begin uitdaag, maar, ek vrees, nie alle tieners was mal oor Bloemhof se boek nie. En Viljoen? Ek ken baie volwassenes wat sy boek baie geniet het.

Lapa-uitgewers het my egter bekendgestel aan ’n paar baie interessante boeke.

Een van die heerlikste boeke wat ek in ’n moewiese lang tyd gelees het, is Suurlemoen van Jaco Jacobs. Dís fantasties en ek weet jong tieners verslind dit.

Toko, van Leon de Villiers, is ook ’n grootse teks. Ek wonder wat tieners daarvan sal dink? Dis ’n bietjie soos Lord of the flies. Ek is mal daaroor, en intelligente (volwasse) tieners sal ook wees.

Verder is Anzil Kulsen se Zita reg in die kraal van tienermeisies.

Die punt is egter dat al drie Lapa-boeke wat ek hier genoem het, wel deur grootmense ook geniet sal word. En hoekom sou Kulsen se Zita vir tieners wees en Irma Joubert se Tussen stasies net vir volwassenes? Is dit net omdat Kulsen se boek dunner is en die hoofkarakters tieners is? Joubert se vrouekarakter is baie onskuldiger as Kulsen s’n.

So, die vraag bly: Is daar werklik tienerlektuur, of is dit ’n mite? Is alle goeie tienerlektuur nie dalk alreeds “cross-over lit” nie?

Ek dink dat dit eerder onnies is, wat bang is om oor seks te praat, wat die idee van “tienerstories” aanhang.

En dis juis daar waar Toko en Zita so uitstekend die bordjies verhang. In albei is daar verkragting en word openlik gepraat oor seks. Die feit is egter dit word baie fyn, en baie netjies, hanteer.

Ek moet ook op dié stadium dit duidelik maak dat ek deel is van die “conspiracy” omdat ek Lapa gehelp het met die saamstel van onniegidse by van hierdie boeke. Ek is dus geensins teen hierdie soort boek nie, inteendeel.

Tog, is dit werklik vir tieners?

Lapa adverteer self Suurlemoen met die teken 13+, hoewel ek weet dat vele intelligente jonger kinders dit wel baie gaan geniet. En ek sou ook nie té veel plusse aanlas nie, veral as jy dit in klas wil hanteer. Graad 8 (standerd 6), of net daarna, sal werk vir díe boek. As jy met ’n addisioneletaalklas werk, kan jy nog na graad 10 toe gaan. Maar, dís al redelik ver geplus.

Die Thomas-reeks

Carina Diedericks-Hugo sal onthou word as die skrywer wat vir ons aan Thomas bekendgestel het. Dis ’n prettige reeks en ek het elke boek gekoop soos hulle verskyn het. Later het ek ook onniegidse gehelp skryf vir ’n hele aantal van hierdie boeke.

Lapa adverteer hulle as 11+. Ek stem saam. Ek dink dat addisoneletaalklasse hulle tot en met graad 8 kan lees, dalk graad 9, maar nie verder nie.

Waarom werk die Thomas-reeks? Die Thomas-dude werk, want sy stiefma is oulik en sy pa is nice; hulle is dus normaal. Duh. Geen geskeide ouers wat mekaar verneuk nie. Die ouens speel met rekenaars, hulle het selfone, hulle loer na meisies, hulle … (asem op) … soen selfs teen die einde van die reeks ’n paar meisies. In die tweede laaste een wat verskyn het, is daar ’n suggestie dat die wilde meisie dalk, wel, jy weet, um, hoe sal ek nou sê, um, nogal tyd spandeer in die geselskap van mans, ag jy weet …

Maar dis dit. Iewers is daar ’n suggestie dat Thomas so snaaks voel toe Alex hom soen, maar … nee, nee, niks meer nie.

TERLOOPS: Ek is verlief op Alex. Daai girltjie kan, as sy sestien is …

 

Verder moet ons ook sê dat elkeen van Thomas se boeke tjokvol spanning is. En dís hoekom kinders van Thomas hou. Hy is die tipiese buurkind, en die spanning is uitstekend. Wat meer is, die skurke is olierig en lelik, die goeie ouens is goed. Daar is verassings, soos in die geval van Aqua.net, maar oor die algemeen is dit nie moeilik om kwaad van goed te onderskei nie.

Leesbaarheid en tieners …

Ek dink die ding wat Lapa se jeugboeke so suksesvol maak, is dat hulle juis so toeganklik is. Hulle lees vinnig en maklik. Dit is beslis so van die Thomas-reeks.

Toko is egter ’n moeiliker boek en Zita is nie maklike leesstof nie (en die mense vloek dat die biesies bewe). Tog, albei is dunner, en die hoofkarakters is tieners.

In die Thomas-reeks is die karakters nie almal altyd “volrond” nie (dis ou term, maar dit werk hier). Dit maak egter nie saak nie, want dis vir jonger kinders geskryf. Hoewel ek weer sê, as julle Alex se adres het…

Zita, Kunsel se hoofkarakter, is egter volledig geskets, en Toko, De Villiers se karakter, is baie, baie sterk geteken. Lees ook weer Jan Rabie, Chris Barnard en George Weideman se verhale, dan sien jy dat verhale oor tieners nie minder karaktersketse hóéf in te hou nie. Lees ook gerus Naomi Meyer se Ruik jy die filmster. Daai meisiekind groei nogal in die loop van die boek.

Oor die algemeen, egter, sou Thomas vir die spanning onthou word, nie vir die karaktersketse nie.

Terug na Josua van Eden

Dalk is Thomas Josua se grootste vyand. Ek kon nie help om Thomas te hoor praat terwyl ek Josua gelees het nie. Ek kan dink dat Thomas so sal uitdraai as Alex hom sou los.

Verder voel ek ook dat nie een van die karakters wérklik duidelik genoeg geskets is nie.

Maak geen fout nie. Die verleidingstoneel is pragtig. En meisie is werklik oulik. (Sy sê vir die eens onskuldige Josua dat hy moet vat wat hy kry, want daar was al mans voor hom, en daar sal ander na hom wees.)

Dêmit, dís die ding. Dis ’n meisie wat soms met die stem van ’n vrou praat, en dan sit en Purity eet. Okay, ek weet, daar is redes voor, en Carina spel hierdie redes duidelik uit. Tog …

Soos gewoonlik is haar uitbeelding van tieners baie raak, ook van tieners as seksuele wesens. En dis hier, net hier, waar ek gekierang gevoel het. Ek sou meer wou weet.

Dalk het Carina dit uiteindelik reggekry om die ware tienerboek te skryf. Die stem breek, die hormone bruis, die gedagtes is werklik interessant, maar … ’n deel van die lyf is nog jonk.

Lees dit. Veral as jy iets van tieners wil weet. As tieners jou egter irriteer, sal die boek ook.

Ek het die boek geniet, maar ek sien ook uit na Carina se eerste GROOTMENSBOEK. Ek dink dit kan wonderlik wees.

by izakdv

Klarisabet lees Byna Liefde

Januarie 12, 2009 in Sonder kategorie

Klarisabet lees Byna Liefde. Sy’s halfpad, en sy’t jollie interessante, skerp goed te sê daaroor.

Hierdie mens is self een wat die poorte van die lewe elke nou en dan oopstoot in haar vertellings en wat weier om skynheilig te wees. Of sy nou in rooi sportmotors rondry, en of sy oor ‘n kakiegoud mazdatjie vertel, sy praat reguit.

by izakdv

B word Bernadine

Januarie 12, 2009 in Sonder kategorie

Katrina het die groen deur oopgestoot en ‘n wonderlike stuk geskryf oor ‘n man wat vrou geword het.

Asseblief, lees dit.

by izakdv

’n Prinses oor ’n Prinses

Januarie 8, 2009 in Sonder kategorie

Ons bloubloed, Prinses van die Ertjie, het ’n baie mooi ding geblog oor die tannie wat die ander aand oorlede is. (Ek skat sy sal weet!)

Ek wil ook deel wat hutton sê oor my opmerking dat die engele vir haar ’n rooi rok moet reghou: And a pair of shoes and a handbag to go with it 😉