by

Tyd om weer te sê wat ander sê

Januarie 31, 2009 in Sonder kategorie

Kyk ’n bietjie wat skryf Droomkind oor die onnie se rol in die klaskamer: sy lei deur ’n voorbeeld te stel.

Dan moet ek ook die Prinses se kommentaar oor my vorige inskrywing verbatim aanhaal:

hi izak, sjoe, ek het myself hopeloos verkeerd uitgedruk. ek het eintlik verwys na die rassistiese terme wat Katrina genoem het, en die ongemaklikhede wat dit veroorsaak. Met rockspaaider het ek eintlik verwys na wit rassiste. Ek is nie seker of ‘n tweedetaalspreker so maklik so ‘n konteks sal begryp nie, en kan dan moontlik weer negatiewe aannames maak heens die houding van die wit afrikaanses. Maar ok, ek is bietjie uit my diepte hier, het nie die boek gelees nie, so kan myself nie eintlik uitspreek nie.

wil maar net ‘n wanpersepsie regstel, ek is nie heeltemal so ignorant nie 😉

Prinses, ek het nie gedink jy’s ignorant nie. Ek het eerder gedink jou inskrywing wys hoe maklik die debat om die teks verkeerd verstaan kan word.

Ek wil ook noem dat dit ontstellend is om te hoor hoe “mense van kleur” mekaar uitvreet. Dis erg. Dis ongelukkig waar ook. In die laer klasse vind ons dit steeds in die townships. In die hoër klasse doen mense dit weer met opset. Prof Pete Mtuze, van wie ek al boeke uitgegee het, sal byvoorbeeld in ’n vergadering sy hande oplig en sê: “Ja, sulke kafferhande breek ook alles.” Hy is ’n wonderlike oubaas, maar hy weet ook hoe om mense onkant te vang op die regte tyd!

Dit sal beslis een van die redes wees waarom mense Zita verkeerd kan verstaan.

Dit bring my by ons anonieme onnie se volgende inskrywing:

Die debat oor Zita bly zoem oor die rassekwessie en hoe jammer ons die arme Zita behoort te kry. Stel jou nou vir ‘n oomblik voor dat jy ‘n tweedetaal-matriekklas se elementêre Afrikaans moet verbeter aan die hand van hierdie boek: elke sin moet vertaal word – nou twee keer aangesien jy dit ook van Noorkaaps na Standaarafrikaans moet omskakel. (Gelukkig kan jy lekker redigeringsoefeninge by die honderde daaruit haal!)

Goed, die arme Zita kry swaar en goed, sy kan nie help dat sy nie Standaardafrikaans besig nie. MAAR hoe verduidelik ek aan my arrogante Engelse leerlinge dat die storie dat ‘n arme bruin meisie haar kamer aan ‘n witte moet afstaan, eenvoudig nie oortuigend moontlik is nie? (Anzil was self nooit in ‘n nie-rassige of “wit” skool nie en dit wys.) Die debat loop op twee spore: die een argument is of dit ‘n “lekker”/”oulike” “skattige” boek is wat vir die oningewyde ‘n kykie in die lewe van Kieriekroek bied. Die ander, belangriker debat is of die roman geskik is vir T2-matriek indien ons in ag neem dat die idee van literatuurstudie op skool is om die T2-kind se taal en woordeskat te verbeter én hom bekend te stel aan literêre konsepte en konvensies.

Ten slotte: natuurlik sal ons die wa deur die drif trek. … Maar sal dit in hierdie geval ‘n verskil maak of ek die vrag eers afgooi?

Dankie, onnie. Ek het wel simpatie met van jou standpunte. Kan ek net een ding noem wat julle in die klas móét hanteer? Ons sien die storie deur Zita se oë. Zita hét ’n heilige wantroue in hierdie wit kinders – en dit kleur haar insig (sic). Kyk hoe sy dit self ontdek, én hoe Waldo dit aan haar uitspel.

Zita is ’n klein bitch, maak geen fout nie. En, ek wat al met sulke kinders gewerk het, weet hoe raak Zita (die teks) se beskrywing is van mense soos Zita (die karakter) wat skielik in so ’n situasie instap. Moenie die rassis in Zita misken nie, want dan misken jy ’n groot deel van die storie. Die teks gaan juis oor haar aanvaarding – van haarself. Kyk hoe lieg sy oor haar komvandaan. Eers as sy haarself (begin) aanvaar, kan sy die ander (begin) aanvaar.

En moenie ’n fout maak nie. Daar is baie Zitas wat vandag in die parlement sit en steeds ewe wantrouig is teenoor wit mense. Ek ontdek hulle ook in middelbestuursposte. Netso is daar ook die wit mense wat altyd sal kyk na die Zitas en sê: Affirmative action …

Die probleem is dat Zita ’n klein bitch is soos enige ander tienerdogter. Het jy al Hanna Montana gekyk, of die boekies gelees? Ek dink dis verpligte lees- en kykstof vir enige een wat Zita behandel. Ons is gou om Hanna as “tipies tiener” te beskryf, maar Zita is bloot rassisties.

Zita is uiteindelik ’n mikrokosmos van Suid-Afrika.

Maar goed. Sterkte. Ek hoor wat jy sê.

Vanaf rassisme na snobisme. Kyk ’n bietjie wat sê die Prinses oor mense soos ek … (dit dra ’n ouderdomsbeperking.)

Op ’n ernstiger noot: Droomkind en die Prinses het albei stories oor ware mense wat jou hart laat punt trek, juis omdat hulle buitestaanders is. Droomkind vertel van ’n meisie wat in die steek gelaat is deur haar ouers. Die Prinses vertel van ’n man wat my baie laat dink aan ’n karakter in JM Coetzee se Youth.

4 antwoorde op Tyd om weer te sê wat ander sê

  1. more Izak…moes gou kom inloer…hoop dit gaan goed…

  2. Izakdv het gesê op Januarie 31, 2009

    Hallo Ben, jip, dankie! En daar?

  3. sprokie het gesê op Januarie 31, 2009

    Was mal oor Droomkind se storie… Dankie hiervoor, ek is nou baie nuuskierig, ek moet defnitief vir Zita in die hande probeer kry. En jy is reg oor hoe nieblankes ook mekaar kan uitvreet, ek het ‘n kleurlingvriendin wat ek eintlik wil opsoek. Sy het ‘n skripsie gedoen oor iets wat jy sal waardeer, sal hoor of sy vir ons ‘n abstrak wil stuur 😉 Ek is skaam om te se ek het nog glad nie JM Coetzee gelees nie. Gelukkig is hy baie populer, en die biblioteek hier het sy boeke. Sal dit gaan soek sodra ek tyd het. Lekker dag!

  4. Izakdv het gesê op Januarie 31, 2009

    Mooiloop, Hoogheid, hoor graag wat jy sê oor daardie vriendin van jou.

Los ’n antwoord vir laslobos. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.