by

Zita: Voorskryf of doodskryf?

Januarie 29, 2009 in Sonder kategorie

Ek het opsetlik nie kommentaar gelewer op die twee inskrywings gister nie. Nou wil ek egter my eiertjie lê.

Ten eerste is Zita ’n baie oulike boek en dit belig ’n deel van die samelewing wat ons, die ryk snobs, baie maklik afskryf. As jy tyd spandeer in die townships, kom jy agter Zita is nie ’n unieke wese nie. En, sou jy tyd spandeer met meisies en seuns wat, soos Zita, beurse gewen het om in duur skole te wees, dan besef jy hoe akkuraat die beskrywing is.

Ons samelewing het verskriklik gou ras vir klas verruil en ons diskrimineer tans weer heerlik – armes moet maar voertsek.

Op een punt moet ek sê dis ’n vreemde keuse vir ’n tweedetaalklaskamer: Die Afrikaans is moeilik. Ek het ’n gids gehelp skryf (wat te koop is) om Zita makliker te maak, en selfs ek het gesukkel met van die Afrikaans.

Maar, hier is my grootste probleem met wat nou losgebars het om die teks. Kyk wat skryf die Prinses, wat nog NIE die boek gelees het nie. Dis belangrik, want sy kwalifiseer dit self. Haar opinie kan net kom uit die standpunte van ander:

Maar tog, klink dit duidelik vanuit altwee se standpunte dat dit nie noodwendig die dimensie van Afrikanerkultuur is wat jy aan tweedetaalsprekers wil oordra nie. Ons weet al self ons is nie rockspaaiders nie, dalk is dit tyd dat die res van die reënboognasie dit ook agterkom.

Wie is die Afrikaner? Moet jy in Sandton bly en ’n 4×4 ry? Moet jy in Rondebosch bly en jou kind na ’n Engelse skool stuur?

Ek is nie besig om die Prinses af te kraak nie, maar juis omdat ek haar altyd so ’n vars briesie vind, gaan ek hierop kommentaar lewer:
– Het geen Afrikaanse meisie al kinders by meer as een man gehad nie?
– Is daar geen Afrikaanssprekendes wat in sinkhuisies bly en spiritus drink nie?
– Is Afrikaanse meisies nie soms regte klien bitche met hulle maatjies nie?
– Moet ons alle literatuur oor arm Afrikaners nou maar afkeur en weggooi?

Wat Zita so wonderlik maak, is dat dit ’n deel van die Afrikaanssprekende samelewing belig wat nié stem het in die glanstydskrifte nie. Hulle is te arm. En kyk vir Zita self, kyk hoe sý keer vir haar wickets as die mans attensies maak. Oral om haar raak kinders verwagtend. Sy wil nie. Sy wil nie ’n tweede Zita maak nie.

En dink julle dus bullshit dat Afrikaanssprekende meisies swanger raak op skool? Dink julle dis onwaar dat meisies daar in die klein dorpies geen toekoms het nie, en dus hulle genot nóú wil hê?

Dink julle dat daar geen Afrikaanssprekende meisies is wat nie weet hulle pa is nie?

Nee, magtig mense. Een van die doelwitte van die letterkunde is om aan die klein mensie, die stemloses, stem te gee.

Lees Zita, dis ’n pragtige, hartseer boek wat jou uiteindelik baie goed sal laat voel.

Kyk weer wat sê Katrina:

Kommin? Nee, ek kyk nie neer op haar nie en dit is wat ek ook aan die leerders probeer oordra. Die boek is nou eenmaal voorgeskryf en ons moet dieper grawe om dit in perspektief te plaas sodat ons leerders daaruit kan leer.

Wat meer is, Zita is losweg op Anzil Kulsen se eie verhaal gebaseer. Dit het min literêre waarde, maar dit maak minstens dat sy weet waaroor sy skryf.

Die vraag is egter: Voorskryf? Kyk wat sê Katrina:

Maar: of dit Afrikaans as sodanig bevorder of enigiemand ‘n liefde vir die Afrikaanse literatuur sal laat kweek, is ‘n ope vraag. Na alles moet lg. tog die doel van literatuurstudie wees.

Ek wil sê dat die grootste probleem van die voorskryfmark júís die voorskriftelikheid is. Ek glo nie een boek kan ’n hele land se kinders opgewonde maak nie.

Ek sou beslis wou sien dat Zita vir baie lank nog op die lys van boeke moet wees vir leerders om te lees. Ek dink egter ons moet ophou om een boek voor te skryf en dit alleen te dek. Gee leerders keuses, en gee hulle die geleentheid om wyd te lees.

Laastens wil ek sê: Lees Zita. Dis ’n besondere teks. Julle sal armer wees as julle nog nie die koue Noord-Kaap in ’n sinkkaia deur haar oë beleef het nie.

16 antwoorde op Zita: Voorskryf of doodskryf?

  1. aixo het gesê op Januarie 29, 2009

    boeke ‘verklap’ nie die pen se ink nie …..

  2. ek stem saam daarmee dat die doel agter literatuustudie moet wees om ‘n liefde vir die taal te kweek. En dit is wat verkeerd gaan in ons skole. Die meeste onderwysers sien taal as net nog ‘n vak wat geleer moet word. Leerlinge word so belaai met allerlei reels en moets en moenies, dat hulle die taal eerder begin haat as ‘n liefde daarvoor kweek. Vra enige Afrikaanse kind wat is die vak waarvan hy/sy die minste hou, en die antwoord is Afrikaans. Voorgeskrewe boeke kan help dat hulle nie die taal sien as ‘n plig nie, maar ‘n plesier. Net so met gedigte. Eie interpretasies met die ontleding daarvan moet aangemoedig word, in plaas daarvan dat die kind voel asof hy/sy op die ‘spot’ geplaas word, en minderwaardig moet voel oor sy spesifieke invalshoek.

  3. sprokie het gesê op Januarie 30, 2009

    hi izak, sjoe, ek het myself hopeloos verkeerd uitgedruk. ek het eintlik verwys na die rassistiese terme wat Katrina genoem het, en die ongemaklikhede wat dit veroorsaak. Met rockspaaider het ek eintlik verwys na wit rassiste. Ek is nie seker of ‘n tweedetaalspreker so maklik so ‘n konteks sal begryp nie, en kan dan moontlik weer negatiewe aannames maak heens die houding van die wit afrikaanses. Maar ok, ek is bietjie uit my diepte hier, het nie die boek gelees nie, so kan myself nie eintlik uitspreek nie.
    wil maar net ‘n wanpersepsie regstel, ek is nie heeltemal so ignorant nie 😉

  4. ezile het gesê op Januarie 30, 2009

    Hello Izak, jy het my nou geinspireer om die boek te gaan soek – ek wil dit beslis lees.
    Oor wie of wat Afrikaners is – ek wens ons kon dit in ‘n neutedop vasvang. Ek dink dis juis ons diversiteit wat ons ‘n nasie maak. En dat ‘n ware Afrikaner sy Afrikaansgeit in sy maag voel – daar diep waar hy nie sy vinger kan lê nie.

  5. gidivet het gesê op Januarie 31, 2009

    Izak, dankie vir hierdie gesprek. Ek begin nou wonder waar ek al hierdie Afrikaanse boeke gaan in die hande kry, tensy iemand kom kuier met ‘n tas vol van hulle.

  6. Izakdv het gesê op Januarie 31, 2009

    Jy’s ‘n diep mens, Pruimtwak!

  7. Izakdv het gesê op Januarie 31, 2009

    Politiek is die mens, Maankind. Dis hoe ons dit hanteer wat die verskil maak.

  8. Izakdv het gesê op Januarie 31, 2009

    Elizabeth, ek hou van wat jy sê. Ek het goeie onnies gehad, maar hulle was so gekniehalter deur voorskrifte dat voorgeskrewe werk vir my nie atyd lekker was nie. Ek het dit juis meer geniet as ons vryheid gegun is!

  9. Izakdv het gesê op Januarie 31, 2009

    Prinses, ek het dit aangespreek in die volgende blog – ek dink nie jy’s ignorant nie.

  10. Izakdv het gesê op Januarie 31, 2009

    Suz, dalk moet ons eers vrede maak!-)

  11. Izakdv het gesê op Januarie 31, 2009

    Jy sê dit, ezile!

  12. Izakdv het gesê op Januarie 31, 2009

    Kom kuier, gidivet!

  13. Hey Izak, die eerste keer wat ek jou blog besoek. Ek geniet dit baie. Groete

  14. Izakdv het gesê op Februarie 3, 2009

    EmpressII, baie dankie!

  15. Haai Izak, sien toe jy is die outeur van die studiegidsie oor Zita. Geen wonder jy besing die boek se meriete nie – “singing for your supper, Tommy Tupper?

  16. Izakdv het gesê op Februarie 9, 2009

    Was maar ‘n klein supper, tommy tupper!

Los ’n antwoord vir Izakdv. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.