by

Zita: ’n Onnie deel klagtes

Januarie 28, 2009 in Sonder kategorie

Uiteindelik was daar iemand wat die moed gehad het om na vore te kom en te sê waarom sy/hy ’n probleem het met Zita. ’n Annonieme onnie het die volgende op my blog geplaas; ek plaas dit net soos dit aan my gekommunikeer is:

Vanuit die oogpunt van ’n hoogs ervare onderwyser wat Zita aan nie-moedertaalsprekers van alle kleure en geure moet “verkoop”, wil ek graag my stuiwer in die (w)armbeurs gooi:
Die boekie is vir my ontoepaslik omdat
1. die taal ongeveer 60-80% nie standaardafrikaans is nie. Nog minder is dit behoorlike Kaaps. Die verwronge sinskonstruksie maak al ons taallesse oneffektief omdat dit presies dít wat ons by ons leerlinge (“leerders”) probeer inskerp, ongedaan maak;
2. die stereotipering skreiend en die skeldname soos “koelie” ongemotiveerd;
3. ons in die T2-omgewing (EAT) reeds ’n hewige stryd voer om die Engelsspekendes se meerderwaardige houding jeens die “rockspiders” en hul “taaltjie” te verander en ’n roman waarin hierdie persepsies van die Boer as gevoellose onderdrukker versterk word, ons heldhaftige pogings kelder;
4. die roman weinig, indien enige literêre meriete toon en baie min om die lyf het buiten die “liefde oor die kleurgrens”-cliché;
5. die kitsoplossing hoegenaamd nie oortuigend of gemotiveerd is nie;
6. die verontregte hoofkarakter wat veronderstel is om innerlike beskaafd te wees in weerwil van haar omstandighede, inderdaad kômmin en verwaand voorkom – bv. wanneer sy haar eetgerei aan tafel met die servet poleer as teken dat sy “beter gewoond is” (Emsie Schoeman, waar’s jy?)!

… ens,ens,ens,ens. Ter afsluiting: Ons werk ons vrek aan vraestelle, skryfopdragte, navorsing, ens. gekoppel aan die voorgeskrewe roman. Die kool is bloot nie die sous werd nie. En vir die sogenaamde “uitkomste” van literatuurstudie soos uiteengesit in die dokumentasie, kan jy eenvoudig nie ’n tabbertjie uit hierdie sog-oor knip nie (om Shakespeare se uitdrukking te misbruik).

Graag wil ek egter noem dat Zita juis NIE clichématige Kaapse Afrikaans bevat nie. Baie mense besef nie dat Noord-Kaapse Afrikaans baie anders is as sogenaamde “Capey” nie. Dis ’n mite dat daar net twee tipes Afrikaans is: Trônsvôlse Stôndôrd en Capey. Selfs in die Kaap wissel die “Kaapse” dialek baie.

Maar goed, juis omdat Zita Noord-Kaaps gebruik, kan ek goed verstaan dat dit soms moeilik “vertaalbaar” is in ’n tweedetaalklas.

Hoe ook al: Dis ’n behoorlike skrobbering wat hierdie onnie vir Zita gee. Stem julle saam?

Skryf, asseblief! Ek hoor graag wat julle dink.

5 antwoorde op Zita: ’n Onnie deel klagtes

  1. katrina het gesê op Januarie 28, 2009

    Hallo Izak – gaan woes hier aan die begin van die jaar. Zita! Aspekte wat die anonieme onnie hier genoem het stem ek mee saam, met ander nie. Zita sou ‘n uitstekende boek gewees het in ‘n ander milieu, dink ek, maar dis beslis ‘n turksvy wanneer ‘n mens voor ‘n klas staan, soos ek, waar ‘n mens alle kulture het. Iemand het iewers gese dat ‘n mens nie die volwassenheid van tieners moet onderskat nie, wat inderdaad so is, maar daar is sekere kwessies wat groot ongemak veroorsaak. Ek het reg aan die begin probeer om aan die seuns (dis net seuns!) te verduidelik waarom ‘n sekere boek waarskynlik voorgeskryf word, naamlik om hulle bloot te stel aan ‘n wereld wat hulle vanuit hulle bevoorregte perspektief nie ken nie. Maar, dit versag nie woorde soos ‘koelie-gevreet’ nie en elke keer wat ek dit lees, is daar ‘n onderstroming, al probeer ek dit so neutraal moontlik hou en binne konteks van die boek plaas. Die Noord-Kaapse Afrikaans is inderdaad heeltemal anders as Wes-Kaapse Afrikaans, wat dus jou les in ‘n vertaalsessie laat ontaard om te probeer verduidelik. En ja, die boek help nie om goedgesindheid teenoor die taal te bevorder in die politieke klimaat waarin ons leef en met die agtergrond van skuldtoekenning op grond van taal nie. Dit is egter nie nuut in die klaskamer nie en ‘n mens leer om dit te hanteer. Ek sou nie se^ dat die roman nie literere meriete toon nie. Wat ek egter wel dink, is dat wie ook al dit voorgestel het, nie werklik nagedink het oor die samestelling van die leerders nie. Dit sou beslis beter vir Eerste Taal gewerk het. Ek het nie ‘n probleem met Zita se wereld en haar vlak van beskaafdheid nie – sy het immers in Kieriekroek grootgeword en leer om haarself in ‘n nuwe wereld te moet handhaaf. Kommin? Nee, ek kyk nie neer op haar nie en dit is wat ek ook aan die leerders probeer oordra. Die boek is nou eenmaal voorgeskryf en ons moet dieper grawe om dit in perspektief te plaas sodat ons leerders daaruit kan leer. Maar: of dit Afrikaans as sodanig bevorder of enigiemand ‘n liefde vir die Afrikaanse literatuur sal laat kweek, is ‘n ope vraag. Na alles moet lg. tog die doel van literatuurstudie wees. Die gebreke is egter nie ‘n vrypas om martelaar te speel nie – ag nee, ek hoop my kollega sien iewers vorentoe lig in die tonnel! Trek maar die wa deur die drif, al is dit met kreun en steun.

  2. Izakdv het gesê op Januarie 28, 2009

    Dankie Katrina! Word baie waardeer!

  3. Izakdv het gesê op Januarie 29, 2009

    Suz, ek dink jy’s reg op baie punte. En, onnies het ‘n harde tyd in die klaskamer.

  4. Haai, wat vertel jy my nou Katrina?
    Die debat oor Zita bly zoem oor die rassekwessie en hoe jammer ons die arme Zita behoort te kry. Stel jou nou vir ‘n ooblik voor dat jy ‘n tweedetaal-matriekklas se elementêre Afrikaans moet verbeter aan die hand van hierdie boek: elke sin moet vertaal word – nou tweekeer aangesien jy dit ook van Noorkaaps na standaarafrikaans moet omskakel. (Gelukkig kan jy lekker redigeringsoefeninge by die honderde daaruit haal!)
    Goed, die arme Zita kry swaar en goed, sy kan nie help dat sy nie standaardafrikaans besig nie. MAAR hoe verduidelik ek aan my arrogante Engelse leerlinge dat die storie dat ‘n arme bruin meisie haar kamer aan ‘n witte moet afstaan, eenvoudig nie oortuigend moontlik is nie? (Anzil was self nooit in ‘n nie-rassige of “wit” skool nie en dit wys.) Die debat loop op twee spore: die een argument is of dit ‘n “lekker”/”oulike” “skattige” boek is wat vir die oningewyde ‘n kykie in die lewe van Kieriekroek bied. Die ander, belangriker debat is of die roman geskik is vir T2-matriek indien ons in ag neem dat die idee van literatuurstudie op skool is om die T2-kind se taal en woordeskat te verbeter én hom bekend te stel aan literêre konsepte en konvensies.
    Ten slotte: natuurlik sal ons die wa deur die drif trek. … Maar sal dit in hierdie geval ‘n verskil maak of ek die vrag eers afgooi?

  5. Izakdv het gesê op Januarie 31, 2009

    Dankie Onder-Wyser!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.