by

Zita van Anzil Kulsen en die pôpo wat op pad is waaier toe

Januarie 22, 2009 in Sonder kategorie

 

Ek het ’n scoop belowe, en hier is dit: Daar is IEB-ouers wat kla oor Anzil Kulsen se Zita voorgeskryf is in matriek. Niemand anders nie as Fanie Olivier het my gebel en gesels oor die IEB se keuse. Hy is genader deur ouers wat baie ontsteld was daaroor.

Katrina het juis oor dié boek geskryf:

Ek lees en beleef jeugverhale in die klaskamer en miskien kyk ’n mens anders daarna as jy dit vanuit die perspektief van die tiener probeer oopbreek, amper asof jy jou indink hoe ’n tiener dit sou ervaar en dit vanuit hulle perspektief benader. Soos Zita, bv. wat hierdie jaar vir IEB matrieks voorgeskryf is.

Ek sou baie graag wil hoor hoe Katrina dit ervaar.

Fanie is besig om met die rolspelers te praat, so ek het min inligting. Die vraag is egter: Hoekom?

Ek is mal oor Zita. Regtig. Ek dink dis ’n wonderlike boek. In h’t korte handel dit oor ’n meisie wie se ma drie kinders by drie mans verwek het. Zita se pa was duidelik ’n Indiër en daarom staan sy bekend as die “koeliemeid”. Hulle woon in die armdorp. Haar ouma is permanent dronk van brandspiritus. En dan wen Zita ’n beurs om na die “wit skool” te gaan waar sy lank nie tuis voel nie.

Nou goed: Die Afrikaans is dalk uitdagend vir tweedetaalkinders. Ek stem saam. Fanie kon egter nie sê presies waaroor die klagtes gaan nie – hy was steeds besig om dit te ondersoek. Was dit die Afrikaans? Groot dele is in Platafrikaans en die mense vloek hard.

Is dit die feit dat Zita se ma so baie boyfriends had?

Of is die kinders gewoon gatvol vir nóg ’n storie oor ’n kind wat moet inpas?

Erger nog, het die kinders dalk van die boek gehou, maar die ouers nie?

Nou, goed. Die boek se karakter hét issues: Sy soek haar pa, sy wantrou die wit kinders, sy wantrou haar boyfriend se attensies … Is dit die rede?

Kyk wat sê Elizabeth jeugwerk:

Izak, ek dink tog enige boek moet geskryf word met ’n spesifieke teikengroep in gedagte. Sekere boeke sal altyd oorvleuel in hierdie verband, nes die genres, maar die intensie van ’n goeie skrywer behoort aspekte aan te raak wat byval sal vind by sekere ouderdomsgroepe. En beslis, vir tieners, niks wat prekerig klink nie!

Het Zita dus nie die teikengehoor getref nie? Sou Zita vir sommige prekerig klink?

Die Prinses sê byvoorbeeld oor Die verdrinking van Jousa van Eden:

Ek het dit ook onlangs gelees. Die eerste Afrikaanse “jeugboek” waarin daar nie ’n morele lessie opgesluit le nie. Ok, maar ek kom ook uit die donker eeue van jeuglektuur …

Ek pes ook prekerige boeke, dis hoekom ek saamstem met die prinses oor Josua van Eden. Ek weet egter die ouers gaan kla as daardie boek voorgeskryf word!

Kyk wat Willemien sê oor die uitdaging aan skrywers:

Ek dink om boeke te skryf spesifiek vir tieners is ’n baie moeilike taak, omdat die boek so geskryf moet wees sodat tieners kan “relate” sonder om “corney” te klink. Slang word gereeld verkeerd gebruik en dit sit tieners af. Ek stem saam met Prinses oor die sosiale kwessies, behalwe dat van die boeke te veel kwessies gelyk probeer aanspreek en gereeld klink of dit mense wil skok, wat vir my simpel is. Dis maar net wat ek dink:)

Ek glo nie Zita preek nie. Maar is ek nou een van die fuddy duddies wat nie meer in voeling is nie? Ek glo ook nie die plat Afrikaans is sleng nie. Maar is ek al te gekondisioneer?

Elizabeth dink wel dis moontlik om belangrike goed aan te spreek sonder om simpel te wees, kyk hier:

Die tendense wat in vandag se tienerletterkunde heers, bevat die moderne, sosiale kwessies. Lees Marita [van der Vyver – IdV] se Hanna Hoekom ook. Sy kry dit goed reg om vanuit die perspektief van ’n tiener te vertel. Die werklikheid van egskeidings, homoseksualiteit en politiek daarin lei jeugdiges na ’n beter begrip daarvoor. Op ’n komiese wyse.

En dis wat Martie Preller sê oor die probleme wat aangespreek word in tienerboeke:

Die “issue” in tienerboeke is dikwels “opsigtelik” omdat kinders direk daarmee deal of nie. Maar dit het ’n sterk direkte invloed, gewoonlik, in hulle lewens. Miskien oor kinders so “magteloos” is en afhanklik van ander? Maar die “issues” is in alle stories – dis gewoonlik net meer “versteek” omdat ons as volwassenes gewoonlik probeer “vergeet” of dit verwerk ens ens.

So, nou is ons terug by die probleem oor “jeugboeke” en “grootmensboeke”.

Willemien sê:

Ek en my maats het al daaroor gepraat en tot die gevolgtrekking gekom dat ons graag boeke gelees het waar die karakters net so bietjie ouer as ons was, want dit het ons iets gegee om oor te droom. Bv. in die laerskool het ons Reënboogrand-tieners gelees. Later in die hoërskool (so gr. 10) het ons “grootmensboeke” begin lees, soos Marita van der Vyver. En niemand van ons was eers in dieselfde provinsie op skool nie, maar het dieselfde tipe patroon gevolg.

Sou dit dus beteken ons moet liewers weer Toorberg voorskryf? Dis ’n goeie boek, maar is dit vir kinders?

Onse Prinses sê hieroor:

Beide [Francois] Bloemhof en [Carina] Hugo skryf uit die oogpunt van ’n tiener, maar skryf hulle werklik vir tieners? Ek dink nie so nie. Ek dink hulle skryf vir wie ookal dit ter harte sal neem, en dit is vir my great. Dit is immers waaroor volwaardige literatuur gaan.

Ek dink egter daar is wel kinders wat “late bloom”. Ek self het Griet gelees toe ek 14 was, maar daar is baie mense wat dit nooit sal of wil lees nie, oor hul iets anders soek in ’n boek. Meer aksie dalk, minder literêre mumbo jumbo… En ek dink dit is miskien wat Joshua is, ’n goeie storie, ’n ernstige element, maar gemik op ’n wyer leesmark – ernstige lesers, en mense wat lees vir die pret. Ek het ook gedink Joshua is ’n baie volwasse ou, maar dit sal interessant wees om te weet hoe tieners die karakters ervaar….

Ek dink Martie moet die laaste sê hê. Dis wat sy sê oor die gehalte van die werk wat voorgeskryf moet word:

’n Mens moet so goed skryf as wat jy kan – altyd! En of dit ’n lekker avontuur-/ liefdesboek is en of dit iets meer kompleks / gelaag wil wees, maak nie saak nie. Hulle kap êrens ’n boom af om jou boek te druk! Die boom gee sy beste – jy moet ook! 🙂

Ek stem saam, Martie.

Laat weet wat julle dink, veral as julle al Zita gelees het. Sou julle dit in ’n klas wil behandel?

18 antwoorde op Zita van Anzil Kulsen en die pôpo wat op pad is waaier toe

  1. ek geniet jou resensies… dankie

  2. tronkie het gesê op Januarie 22, 2009

    Ag dankie hiervoor Izak. Ek weet van ‘n seuntjie wat ‘n paar boeke hierdie jaar present gaan kry. Ek wonder wat my Matriek-seun van Zita gaan dink.

  3. Izakdv het gesê op Januarie 22, 2009

    Elza, ek geniet dit om hier te speel!

  4. Izakdv het gesê op Januarie 22, 2009

    Lulu, ek het nog altyd gehou van wat ek daar op jou blog gesien het, jong! Hoepel op!

  5. Izakdv het gesê op Januarie 22, 2009

    Tronkie, hy mag dit interessant vind, hoewel dit nie eerste keuse gaan wees nie.

    SUURLEMOEN van Jaco Jacobs en Die Verdrinking van Josua van Eden sou meer in sy smaak pas …

  6. Ceara het gesê op Januarie 22, 2009

    Ek het nie die boek gelees nie, maar as ek jou beskrywing so lees sou ek sê dit is die ouers wat kla eerder as die kinders.

  7. Ek het ongelukkig nie Zita gelees nie – dus kan ek nie ‘n opinie daaroor gee nie, maar dis interessant dat ouers by Fanie, ‘n skrywer wat bekend is vir sy oopkop boeke gekla het. ‘n Mens sou dink dat hulle dan eerder by die hoof, koerante ens sal kla. Kinders sou sekerlik by Fanie wou kla as hulle iets gehad het waaroor hulle wou kla. Maar nou ja -mense is vreemd – ons almal is vreemd!

  8. Ek het Zita meer as ‘n jaar terug gelees en dit baie geniet. Ek kan nie onthou of die taalgebruik so erg was nie. Ek glo nie.
    Seuns sal dalk nie soveel erg hê aan Zita as meisies nie omdat dit ‘n groot liefdeselement het. Alhoewel dit nie al tema in die boek is nie.
    Ek dink die probleem wat (blanke) ouers het, is die liefde oor die kleurgrens. Dit is ‘n probleem waarmee, as ek reg onthou, die karakter ook worstel.

    Ek weet van ten minste een skool wat eerder my boek Onderwêreld gaan gebruik. Onderwysers voel dis ‘n veiliger opsie – dis ‘n hedendaagse edgy verhaal, die taal is nie te erg nie, daar is nie eksplisiete seks in nie, seuns en meisies kan hulle verdiep in die verhaal, dit het ‘n lekker spanningslyn en natuurlik kan dit soos ‘n ui afgeskil word om by die verskillende vlakke in die verhaal uit te kom. ‘n Taalonderwyser se droom!

    Groete
    die ander Fanie

  9. sprokie het gesê op Januarie 25, 2009

    Sjoe, moeilike een. Outeurs moet getrou bly aan karakters, nie aan teikengehore nie. Boeke moet getoets word op tieners om te bepaal wat sal werk vir voorgeskrewe werke en wat nie. Ouers, ag hel, ek weet nie…

    Iets op my blog waar ek jou noem, sal graag wil hoor wat jy hieroor te se het.

  10. wild1 het gesê op Januarie 25, 2009

    Drie kinders by drie verskillende mans? Net nie dit nie! En dan is die een man nog ‘n Indier ook! Ek’s amper seker dis die ouers wat daaroor kla en nie die kinders nie.

    Ons het Luc en Libertine in matriek gedoen en alhoewel dit ‘n redelike goeie boek is, was die algemene gevoel in die klas dat almal moeg was dat rassekwessies in ons kele afgedruk word. So miskien voel die kinders dieselfde oor Zita, maar ek het dit nog nie gelees nie so ek weet nie of dit ‘n belangrike tema in die boek nie.

    Dankie hiervoor, Izak. Dis vreeslik interessant vir my!

  11. Izakdv het gesê op Januarie 26, 2009

    Lorinda, lyk my Fanie stem saam. En hy het die boek gelees!

  12. Izakdv het gesê op Januarie 26, 2009

    Suz, ek dink KRINGE IN DIE BOS word nog gelees, ek is nie seker of dit nog voorgeskryf word nie. (Dink so!)

    Ek stem ook saam oor BY FAKKELLIG. Ek was MAL daaroor, maar dit is dalk swaar. Bietjie soos TOORBERG.

    Dankie vir die heerlike kommentaar!

  13. Izakdv het gesê op Januarie 26, 2009

    Ek dink juis Fanie is die regte een om die paadjie te loop, Martie. Hy’t ‘n fyn oor en sal mooi luister. En hy’s oopkop.

  14. Izakdv het gesê op Januarie 26, 2009

    Fanie, ek skat jy’t ‘n punt beet. Party mense verstaan nie dat liefde kleurblind is nie.

    En bravo vir ONDERWêRELD! Dankie vir die inloer.

  15. Izakdv het gesê op Januarie 26, 2009

    Karma, dankie. Dis lekker om te hoor wat in die klaskamer gebeur. Dis ook goed om te hoor boeke soos Vaselinetjie kan lewens verander!

  16. Izakdv het gesê op Januarie 26, 2009

    Hallo Willemien, dankie vir die kommentaar. ZITA is nogal anders as LUC EN LIBERTINE. Ek dink jy sal dit geniet.

  17. Vanuit die oogpunt van ‘n hoogs ervare onderwyser wat Zita aan nie-moedertaalsprekers van alle kleure en geure moet “verkoop”, wil ek graag my stuiwer in die (w)armbeurs gooi:
    Die boekie is vir my ontoepaslik omdat
    1. die taal ongeveer 60-80% nie standaardafrikaans is nie. Nog minder is dit behoorlike Kaaps. Die verwronge sinskonstruksie maak al ons taallesse oneffektief omdat dit presies dít wat ons by ons leerlinge (“leerders”) probeer inskerp, ongedaan maak;
    2. die stereotipering skreiend en die skeldname soos “koelie” ongemotiveerd;
    3. ons in die T2-omgewing (EAT) reeds ‘n hewige stryd voer om die Engelsspekendes se meerderwaardige houding jeens die “rockspiders” en hul “taaltjie” te verander en ‘n roman waarin hierdie persepsies van die Boer as gevoellose onderdrukker versterk word, ons heldhaftige pogings kelder;
    4. die roman weinig, indien enige literêre meriete toon en baie min om die lyf het buiten die “liefde oor die kleurgrens”-cliché;
    5. die kitsoplossing hoegenaamd nie oortuigend of gemotiveerd is nie;
    6. die verontregte hoofkarakter wat veronderstel is om innerlike beskaafd te wees in weerwil van haar omstandighede, inderdaad kômmin en verwaand voorkom – bv. wanneer sy haar eetgerei aan tafel met die servet poleer as teken dat sy “beter gewoond is” (Emsie Schoeman, waar’s jy?)!

    … ens,ens,ens,ens. Ter afsluiting: Ons werk ons vrek aan vraestelle, skryfopdragte, navorsing, ens. gekoppel aan die voorgeskrewe roman. Die kool is bloot nie die sous werd nie. En vir die sogenaamde “uitkomste” van literatuurstudie soos uiteengesit in die dokumentasie, kan jy eenvoudig nie ‘n tabbertjie uit hierdie sog-oor knip nie (om Shakespeare se uitdrukking te misbruik).

  18. Izakdv het gesê op Januarie 28, 2009

    Onder-wyser, jou woorde is aan die groot klok gehang. Dankie.

Los ’n antwoord vir MartiePreller. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.