by

Martie gryp die handskoen

Januarie 21, 2009 in Sonder kategorie

Ha! Ek het gewens iemand wil die guts hê om my aan te pak oor jeugliteratuur, en niemand anders nie as Martie Preller het die handskoen opgetel, die rapier gelig en geskryf!

Ek gaan meer as een inskrywing afstaan aan haar gedagtes.

Ten eerste: Wat lees tieners? Dis hoe Martie hierdie vraag beantwoord:

Wat lees tieners? Daar was destyds so ‘n simposiumding in Pietersburg daaroor. En die bevinding? Tieners lees alles (nes ons). Een kind het dit so mooi gestel – sy het begin lees met die rillers en daardie tyd was sy besig met Lord of the Rings. En natuurlik lees hulle almal Engels ook – vir die gretige leser is daar net eenvoudig nie genoeg Afrikaanse boeke nie. Later was daar nog ‘n simposium in die Kaap. Tieners was daar om self te praat. Thomas van der Walt van UNISA het gereël. Tieners lees alles! Na die tyd het ek vir een gevra, toe ek by haar verbyloop, of sy soms soos ‘n alien voel? Sy het my so gekyk, geknik en ja geantwoord. Al troos wat ek kon gee, was dat meeste van ons so voel en dat die gevoel nie weggaan nie 🙂

Dit was die een rede hoekom ek soos ‘n maniak gelees het as kind. Almal rondom my het gelyk asof hulle presies weet wat hulle doen, behalwe ek! Dus is ek ‘n alien 🙂

Maar in boeke was mense wat nes ek gevoel het. Wat ook verward ens ens was. Sjoe – dit was salig om daardie mense te kry. Later het ek tot my ontsteltenis agtergekom dat ander weer dink EK weet wat ek doen – hie hie. Menswees is nie maklik nie. Nie vir sissies nie. 🙂

Oor die idee van “tienerlektuur” is daar baie gestry.

Elizabeth sê:

Izak, ek stem glad nie saam met die term “tienerlektuur” nie. Dit is volwaardige letterkunde. Ek dink die probleem kom in dat volwassenes wat dit skryf, vandag se tieners se intelligensie en ondervinding onderskat. Om werklik jou te kan indink, en dan te skryf as tienerkarakter, vat baie. En die wat dit wel die beste regkry, is die mense wat eerlik is oor die lewe, sonder om doekies om te draai. Ons wil ons kinders dalk te veel probeer beskerm teen realiteite, maar hulle sien dit tog in hul eie huise. En daarom het hulle, net soos ons, ontspanning ook nodig. Maar op ‘n vlak van letterkunde wat nie onderskat moet word nie. Want is die tiener wat lees, nie tog op soek na drome, eiewaardigheid en ontvlugting nie? En bowenal – om dalk ‘n antwoord te kry. En hierdie antwoord moet eerlik en realisties wees. Hulle kan nie gefop word nie.

Martie se antwoord hierop is:

“Tienerboeke” is maar net boeke met “jonger” karakters in, ens. Dit word so gebruik vir bemarkingsdoeleindes. As jy vir tieners vra wat hulle van ‘n boek dink sal jy soveel verskillende antwoorde kry as wanneer jy vir “grootmense” vra wat hulle dink van ‘n boek! Sg. “jeuglektuur” is maar net ‘n “genre” want elke ouderdomsfase het sy/haar eie universele menslike uitdagings. Gebeure soos egskeiding sal byvoorbeeld (moontlik) ‘n groter impak he op ‘n “kind” van 12 as ‘n “kind” van 30 wat dalk al eie kinders het. Of nie? Karakters kom maar almal êrens vandaan nes ons. Hulle het ook ‘n geskiedenis wat ‘n invloed op hulle gehad het, nes ons. As die karakter wat jou beetkry ‘n kind is, is dit ‘n “kinderboek”. Maar skrywers mag nie ‘n vervelige boek vir sy/haar lesers van ENIGE ouderdom skryf nie! 🙂

Sieltjie sonder sorg het egter ’n waar ding gesê:

Ek lees nou vir die eerste keer Dinge van ‘n kind van Marita vd Vyver en wonder hoe tieners dit nou ervaar, want dit speel mos in die 70’s af.

Meer as dit, niemand het ooit, selfs destyds nie, dit ’n tienerboek genoem nie. Was dit omdat dit oor tieners gegaan het wat tieners was toe óns tieners was?

Blackeyedsuz sê oor die dilemma van die verskillende genres:

Het al baie oor die gewonder, want as volwassene kan ek steeds nie wag vir Francois Bloemhof se boeke (watter genre ookal) om te verskyn nie. Ek was gaande oor Zita, en Joshua van Eden.

Barrie Hough het my nog altyd geroer, en hoewel sommige mense gekant is teen die “lessies” wat Barrie soms ingegooi het was sy skryfwerk relevant, toe én nou. Vir grootmense en tieners.

Ek dink ek verkies dalk die term “jeugboeke”, want ek is oud maar steeds baie “jeugdig” in die hart.. 🙂

Hierop het Martie geantwoord:

Hallo Blackeyedsuz. Jislaaik, ja. ‘n Mens lees mos wat jy wil – dis die lekkerte van boeke! En daarby is ek ook oud (amper antiek) maar my hart is baie jonk – so jonk dat ek kinderboeke skryf – nie omdat ek antwoorde het nie, maar omdat ek ook wonder! Nes kinders 🙂

Ek is nog nie klaar nie, want ek het intussen ander, lekker sappige inligting ingewin. Word vervolg.

21 antwoorde op Martie gryp die handskoen

  1. katrina het gesê op Januarie 21, 2009

    Wat ek met my twee vind (hulle’s 14)is dat hulle nogal baie hou van fantasieverhale. Sou mens dit as jeuglektuur kon beskou? Aan die ander kant is daar Lord of the Rings, wat ook deur oud en jonk gelees word. Iets soos Jozua van Eeden is beslis ‘n jeugverhaal, met die verteller ook ‘n tiener. Maar Carina het ook gese sy hou nie daarvan om vir grootmense te skryf nie. Soms is dit ‘n volwasse verteller van ‘n kind of tiener se verhaal, dan’s dit beslis nie ‘n jeugverhaal nie. Ek lees en beleef jeugverhale in die klaskamer en miskien kyk ‘n mens anders daarna as jy dit vanuit die perspektief van die tiener probeer oopbreek, amper asof jy jou indink hoe ‘n tiener dit sou ervaar en dit vanuit hulle perspektief benader. Soos Zita, bv. wat hierdie jaar vir IEB matrieks voorgeskryf is. Maar beslis met ‘n dieper boodskap.
    Aan die ander kant – kyk na animasies en die humor daarin – ek as grootmens geniet dit amper meer as kleintjies en lag saam met my kinders daaroor. Asterix is al jare ‘n gunsteling! Dalk te doen met ‘the eye of the beholder”? En o ja, Barrie Hough se boeke – jeugverhale wat ‘n volwasse leser ook op ‘n dieper vlak beleef.

  2. tronkie het gesê op Januarie 21, 2009

    Izak – dis baie interessant – ek wil graag jou volgende inskrywing sien. Dammit, ek sukkel om my seuns aan die lees te kry.

  3. Izakdv het gesê op Januarie 21, 2009

    Katrina. Ware woorde. Ek hoop om binnekort meer oor Zita te sê. Ek sal later terugkom van van die ander goed wat jy aanraak, want ek dink dis baie geldig: Daardie vertellerstem is werklik belangrik.

  4. Izakdv het gesê op Januarie 21, 2009

    Tronkie. Daar is nie toorstokkies nie. My vrou lees verwoed, haar twee sussies glad nie. Weet nie hoe dit werk nie.

  5. Die tendense wat in vandag se tienerletterkunde heers bevat die moderne, sosiale kwessies. Lees Marita se Hanna Hoekom ook. Sy kry dit goed reg om vanuit die perspektief van ‘n tiener te vertel. Die werklikheid van egskeidings, homoseksualiteit en politiek daarin lei jeugdiges na ‘n beter begrip daarvoor. Op ‘n komiese wyse.
    Ek sien uit na jou nuwe inligting.

  6. NARITHA het gesê op Januarie 22, 2009

    More, lekker dag vir jou.
    ((((HUGS))))

  7. wild1 het gesê op Januarie 22, 2009

    Wanneer was hierdie simposium in Pietersburg en hoekom het niemand my ooit genooi nie?

    Ek en my maats het al daaroor gepraat en tot die gevolgtrekking gekom dat ons graag boeke gelees het waar die karakters net so bietjie ouer as ons was, want dit het ons iets gegee om oor te droom. Bv. in die laerskool het ons Reënboogrand tieners gelees. Later in die hoërskool (so gr. 10) het ons ‘grootmens’ boeke begin lees soos Marita van der Vyver. En niemand van ons was eers in dieselfde provinsie op skool nie, maar het dieselfde tipe patroon gevolg.

    Ek dink om boeke te skryf spesifiek vir tieners is ‘n baie moeilike taak, omdat die boek so geskryf moet wees sodat tieners kan ‘relate’ sonder om ‘corney’ te klink. Slang word gereeld verkeerd gebruik en dit sit tieners af. Ek stem saam met Prinses oor die sosiale kwessies, behalwe dat van die boeke te veel kwessies gelyk probeer aanspreek en gereeld klink of dit mense wil skok, wat vir my simpel is. Dis maar net wat ek dink:)

  8. Hallo! Ek sien nou eers die heerlike potjie lees en menings wat jy hier aan mekaar kom slaan het, Izak. Almal se weer reaksies is baie sappig en interessant en waardevol. Ek is bly ek het die handskoen opgetel! (en raak gelees) Ek dink dit was in 2000 rond, Willemien. Hulle het seker plaaslike kinders gevra om te kom deelneem – ek weet nie. Was jy daai tyd daar rond? Al die geselse en Suz se wonderlike vertel van die ouma het my laat dink aan hierdie aanhaling.

    There is a vitality that is translated through you into action. And because there is only one of you in all time, this expression is unique, and if you block it, it will never exist through any other medium and it will be lost.

    Martha Graham

  9. Hoe om jou kinders aan die lees te kry: Doen self en deel jou opgewondenheid en die lekkerte van lees met ander lesers waar die kinders moontlik kan afluister. Insinueer (baie subtiel) dat net grootmense eintlik mag lees … Moet nooit maar nooit vir ‘n kind sê dat lees “goed” is vir ‘n mens nie .. 🙂 🙂 Izak is reg – daar is nie toorstokkies nie.

  10. Izakdv het gesê op Januarie 22, 2009

    Dankie, Elizabeth.

  11. Izakdv het gesê op Januarie 22, 2009

    Hallo Beertjie!

  12. Izakdv het gesê op Januarie 22, 2009

    Dankie, Willemien! Ek hou van jou idees.

  13. Izakdv het gesê op Januarie 22, 2009

    Ek ook, SwartoogSuz!

  14. Izakdv het gesê op Januarie 22, 2009

    Martie, ek is mal oor die aanhaling. Dankie!

  15. 🙂 Suz – ek moet eers klomp goete klaarmaak en FOKUS hier. Ek sien hierdie blog-ding is baie verslawend. So baie stukkies mens-stories om te lees. Sjoe.

  16. wild1 het gesê op Januarie 24, 2009

    Martie, ja ek kom van Pietersburg af. Was Gr. 8 in 2000, miskien was ek te klein:)

  17. Hi Willemien – 🙂 Nee. Ek dink nie jy was te “klein” nie. Mens voel mos soms so “onsigbaar” – gelukkig kon jy hier jou mening gee. ‘n Boek sit my ook baie af as die “issues” te opsigtelik lyk asof die skrywer BAIE hard probeer het om te skok, byvoorbeeld. Dan voel ek gemanipuleer en wil nie verder lees nie. Een van die beste boeke wat ek ooit gelees het was Steinbeck se Grapes of Wrath – ek onthou toe ek begin, dog ek jislaaik, maar die spul karakters is effe silly vir my, maar ek lees aan … en aan die einde het ek gedink hulle is GREAT en HULLE het niks verander nie – EK het! Die skrywer het op die een of ander manier dit reggekry om my persepsie van die karakters te verander. Ai nou ja – Goeie dag daar vir jou.

  18. Izakdv het gesê op Januarie 26, 2009

    Ek stem, Suz!

  19. Izakdv het gesê op Januarie 26, 2009

    Martie, dis deur te blog dat jy mense soos Willemien en Suz ontmoet.

  20. Ja, Izak. Die blogs en die lewe is vol great mense en dis baie lekker om iets van hulle lewens en en hulle opinies te lees.

  21. Izakdv het gesê op Januarie 27, 2009

    Inderdaad, Martie, inderdaad.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.