Jy blaai in die argief vir 2008 Desember.

by izakdv

Bush, eet my vellies

Desember 18, 2008 in Sonder kategorie

Ek is in ’n ikonoklastiese bui, soos julle kan sien.

Ek hoop julle het almal die wonderlike video gesien van Muntazer al-Zaidi wat sy skoene na George W Bush gegooi het terwyl hy skree: “It is the farewell kiss, you dog.”

Nou sit Zaidi in die tronk, en wêreldwyd word protes aangeteken teen die feit dat hy aangehou word.

In Indië het mense foto’s van Bush se gesig met skoene geslaan.

In Bagdad het mense skoene op Bush se foto’s gelos voor die VSA se ambassade.

In Afghanistan word ’n komedie gemaak waarin die skoengooiery afspeel, behalwe dat hulle dié keer gaan seker maak dat “Bush” raakgegooi gaan word.

Ek, ’n eenvoudige blogger, plaas hiermee my steun vir Zaidi met ’n foto van my twee Suid-Afrikaanse vellies op Bush se bakkies.

by izakdv

Manto verstaan nie

Desember 18, 2008 in Sonder kategorie

Manto, die knoffel wat gedink het Vigs bestaan nie, vlieg deesdae die wêreld vol. Net die ander dag nog praat ek met ’n projekbestuurder wat haar moes te woord staan oor ’n reuse kultuurerfenisprojek. Die ou was nog al die jare taamlik pro die regering, maar hy sê haar onvermoë om enige iets te verstaan, is skrikwekkend.

Nou het sy dit self gesê. Toe haar vliegtuig ’n noodlanding op Lanseria moes doen, het sy nie die loodse geprys nie. O, nee, sy het ’n oomblik lank uit haar newels opgestaan en gesê: “I was scared and it was devastating, I didn’t understand what was happening,” aldus die Mail & Guardian.

Ek vrees dié woorde som haar hele termyn as minister op.

(Ek is bly die loods is ongedeerd!)

Dat die ANC sulke inkompetente mense kan aanhou …

by izakdv

Kite Runner bou ’n skool

Desember 17, 2008 in Sonder kategorie

Khaled Hosseini se twee romans, The Kite Runner en A Thousand Splendid Suns, het verskriklik goed verkoop. (Meer as 6 miljoen kopieë van eersgenoemde is in die VSA alleen verkoop.)

So iets is natuurlik ’n uitgewer se droom.

Maar, wat maak uitgewers met al daardie geld? Penguin (VSA) het besluit om van die wins wat hulle uit hierdie twee boeke gemaak het, te skenk aan die VN se vlugtelingagentskap.

Daardie geld is toe gebruik om ’n skool te bou in Afganistan, so ongeveer 240 km van die hoofstad, Kabul, af. Vandag het 270 Afgaanse kindertjies ’n skool met ses onnies (waarvan vier vrou is), alles danksy lesers wat boeke gekoop het.

Wonder of Lorinda ’n hand hierin gehad het?

As julle meer wil weet, hier is die volledige persverklaring.

by izakdv

Starbrite – a lekker local musical for Christmas

Desember 16, 2008 in Sonder kategorie

Mense, Saterdagaand het ek en die gesin nou pret gehad. Ons het na Janice Honeyman se Starbrite – a lekker local musical for Christmas gaan kyk. Knaap het dit ewe veel geniet as pa en ma.

Die storie is bekend. Gabriël (Elton Landrew), ’n vreeslike camp engel met ’n Capie-aksent, kom sê vir die beeldskone Maagd Mary (Zukiswa Tsewu) dat sy ’n baba gaan kry. Mary is opgewonde, maar jy kon die skindertonge tot oorkant die Stille Oseaan hoor klap toe daai pens begin stoot. (Die pens is ’n opgestopte voorskoot wat die Engel vir haar omgebind het.)

Natuurlik is Joseph (Marvine Kernelle) hoogs die moer in toe sy pragtige jong bokkie begin stoot. Joseph is gelowig, sien, hy dra die fez en die lang, wit klere van ’n tradisionele Moslem. Ma’, moenie worry nie pêllie, Gabriël kom tune hom een aand om nie so ongelowige te wees nie, en toe kom vra onse Joseph nie net vir Mary nie, maar sommer vir die gehoor ook, om verskoning oor hy so lelik was.

En so gaan die storie aan. Ek kan nou nie elke rol in detail beskryf nie, maar dit was puik.

Die stel was eenvoudig, maar treffend. Dit was ’n Kaapse Township-scene. Die ster (wat deur die camp engel rondgeswaai is, was ’n Toyota-wieldop vol kiersversierings. Herodus (King Herod in die stuk), is weer gekies en aangetrek om op ’n druppel water soos Julius Malema te lyk. En julle kan dink hoe lekker hy, en die gehoor, gekry het toe hy begin sing van “Kill”.

Die meeste volwasse rolle is vertolk deur lede van die Kaapse Opera, so die musiek was uitstekend en dit het gewissel tussen tradisionele Kersliedjies, Negro Spirituals en ’n verskeidenheid Afrika-liedere, waaronder ’n Yerobo-halleluja. (Herodus, aka Malema, is bekendgestel met “Big Spender”.)

Zacharia (Nkosana Stimela) en Elizabeth (Charmain Ncqulana) was eweneens puik.

Om ’n lang storie kort te maak – as dit volgende jaar naby julle wys, gaan heen en gaan geniet dit.

Ons is bevoorreg om sulke stemme en sulke talent in ons eie land te hê.

by izakdv

Philip Liebenberg vir straight mense (en gays)

Desember 14, 2008 in Sonder kategorie



Hieronder praat ek met gay mense, maar eers …


 

 

… wil ek eers sê dat dít ’n boek is wat vir talle gelowiges iets sal beteken, ook al is hulle straight. Daar is ’n gay pastoor in my kop beskryf in die eerste plek ’n reis deur Philip Liebenerg se baie diep, en duidelike, soeke na God se wil vir sy lewe. Tydens hierdie soektog kom Philip agter dat vele aspekte van die kerk dit uiters moeilik maak vir mense om eerlik te wees. Om die waarheid te sê, Philip beweer dat die kerk mense leer om uiters goed te lieg.

 

Ek ken talle mense – straight, gay, skeef of sommer net weird – wat graag wil behoort aan ’n gelowige gemeenskap, maar wat nie kans sien vir die voorskrifte waarbinne hulle groot geword het nie. Ek dink húlle sal Philip se boek geniet.

 

Die voordeel van Philip se boek is dat hy egter steeds van binne die kerk skryf. Soveel mense wat deur Kerkhel is, verlaat die kerk en skryf dan met bittere haat oor hulle ervarings in die kerk.

 

Nie Philip nie.

 

Philip is baie eerlik oor die foute wat die kerk maak, en hy is gou om te sê ons moet versigtig wees om nie elke klein profeetjie, of elke nuwe stroming in die kerk, aan te gryp nie. Hy het ook harde woorde vir die voorvatters in die kerk wat soms liefdeloos optree, tog bly hy in die kerk. Sy eie soeke na liefde, en selfliefde, dwing hom telkens nader aan sy skepper.

 

Ek dink werklik mense wat sukkel om hulle lewens met hulle kerk te versoen, maar wat steeds in die kerk wil bly, moet Philip se boek lees.

 

Wees egter gewaarsku, dis nie ’n boek wat korte mette maak die godsdiens nie, so as jy kwaad is vir mense wat openlik hulle lewens binne ’n Jesusbeskouing wil leef, moet jy nie probeer lees nie, dan gaan dit jou verveel, of kwaad maak.

 

Ook vir gays!

 

Jip, so tong in die kies wil ek sê dis nie net straight mense wat sal baat by hierdie boek nie. Philip se eie reis na selfaanvaarding sal ander gay gelowiges help om die kerkdeure oop te stoot en die boeie van fundamentalisme af te skud.

 

Philip vertel hoe hy óók deel was van die gelowige anti-gaybeweging, juis omdat hy so bang was dat ander sal uitvind hy droom oor ander mans se lywe.

 

Philip was ook getroud – by tye het dit selfs goed gegaan in hulle huwelik. Tog, al die jare het hy daardie leuen in hom rondgedra.

 

Dit is sý storie die. Moet dus nie ’n selfhelpboek, of ’n dik stuk filosofie verwag nie. (Die laaste paar bladsye van die boek is wel ’n kort opsomming van Philip se (taamlik behoudende) teologie.)

 

Omdat die boek so sterk op een persoon se ervaring handel, en, juis omdat Philip so sterk die Jesusbeeld najaag, sal die boek sommige irriteer. Ek kan byvoorbeeld verstaan dat Joan Hambidge nie veel van die boek gehou het nie. (Haar resensie in Die Burger was nie baie positief nie.) Julle weet nou al dat ek en Joan mekaar al by geleentheid raakgeloop het, ook dat ek dink sy’s nogal smart, maar ek sou nooit vir Joan genader het om oor hierdie boek te skryf nie. Dis eintlik presies die soort boek wat jy níé vir Joan wil gee om te lees nie.

 

Dus, moet asseblief nie Philip se boek aan mense present gee in die hoop dat jy hulle weer vir die kerk gaan werf nie. Dit gaan nie werk nie.

 

In Byna Liefde vra ek byvoorbeeld vrae oor die wat die kerk doen met buitekerklikes (julle sal sien Laurie Gaum was effens ongemaklik oor van die aspekte), daarteenoor kom Philip en hy gee antwoorde. En dís belangrik. Philip het baie lank na antwoorde gesoek, en hy het dit gekry. Nou deel hy daardie antwoorde. En hoekom nie?

 

Daar is ’n gay pastoor in my kop is ’n boek wat geskryf is vir gelowiges deur ’n baie gelowige mens. Gelowige mense wat worstel met die “gayvraagstuk” móét Philip lees. Straight, gelowige mense wat self sukkel met geloofsvraagstukke sal eweneens die boek van waarde vind.

 

Daar is natuurlik ’n hele aantal tekste geskryf wat met dié een in gesprek tree:

 

  • Pieter Celliers se ’n Kas is vir klere (Human & Rousseau, 1997) is waarskynlik die sterkste interteks. Pieter was ’n dominee in die Hervormde Kerk toe hy uit die kas geklim het, maar Pieter het toe die bediening verlaat.

 

  • Lidia Theron se Jy bly my kind (Hemel en See Boeke, 2005) het al talle gelowige ouers gehelp om hulle gay kinders te aanvaar.

 

  • Voorts het ons Carel Anthonissen en Pieter Oberholzer se Gelowig en gay? (Lux Verbi, 2001), maar dis taamlik teologies.

 

  • Die immerversoenende Biskop David Russel het ook ’n klein monografie geskryf oor die saak, maar ek kan nie nou my hand daarop lê nie.

 

  • Gordon Isaacs end Brain McKendrick se Male Homosexuality in South Africa (Oxford University Press, 1992) is daarteenoor suiwer akademies.

 

  • Hierteenoor is André Carl van der Merwe se Moffie suiwer fiksie en geensins godsdienstig van aard nie. (Ek ken vir André Carl, hy is ’n diep gelowige mens.)

 

Genoeg geklets. Daar is ’n gay pastoor in my kop sal vir gelowiges baie beteken, ook vir diegene wat nog twyfel, maar steeds hunker na ’n veilige plek binne die kerk. Ek sou dit nie aanbeveel vir die kerkloses nie.

 

by izakdv

Naamgewing sonder ’n eksterne God

Desember 14, 2008 in Sonder kategorie

Ek was vandag by ’n baie interessante
naamgewingseremonie. Die egpaar het, om verskeie redes, gevoel dat hulle nie ’n
tradisionele doop wou hê vir hulle dogtertjie nie, maar hulle wou ’n ritueel hê
om haar in die kring van welwillendes te verwelkom.

 


Kevin Light, hierbo, het die diens gelei.

 

Kevin is ’n toenmalige Metodistedominee wat
deesdae sy bediening doen onder diegene wat graag ’n vastigheid in hulle lewe
wil hê sonder om vasgevang te word in die ideologieë van die wêreldgodsdienste.
Hy doen ook berading.

 

Kevin het drie gebede gedoen wat na poësie
geklink het, maar hy het nooit direk na ’n “eksterne God” verwys nie (sy woorde
in ’n gesprek na die tyd).

 

Ek is besig om te vra om meer op die blog te
sit, maar ek kan uit die aard van die saak nie ander mense se persoonlike goed
deel sonder toestemming nie.

by izakdv

Die dag toe ek my hare losgemaak het

Desember 13, 2008 in Sonder kategorie



Nee, ek het nie hare om los te maak nie. Ek het die ander dag Willemien Brümmer se
kortverhaalbundel, Die dag toe ek my hare losgemaak het, op die vliegtuig sit
en lees, en het dit uiteindelik vroegoggend in my hotelkamer klaar gelees.

 

Ek is regtig beïndruk.

 

Daar is twaalf kortverhale in dié bundel, maar
elkeen vertel (in chronologiese volgorde) die storie van Mia – vanaf haar
kleindogtertjiejare, tot haar eie verstaan van ma-wees.

 

Sy gaan veel verder as wat ek met Byna Liefde gemaak het – haar boek draai
werklik volledig om die enkele karakter, Mia, se lewe. Tog is dit nie ’n roman
nie, dis werklik twaalf verhale wat elkeen sterk op hulle eie staan.

 

Ek wil ook sê, Willemien Brümmer onderspeel en
grawe in die psige. Waar ek opsetlik die grense na die tydskrifverhaal en die
“liefdesverhaal” probeer oopbreek het, kom Willemien en toon hoe ’n meer
tradisionele kortverhaal terughou, tart, en nooit heeltemal alles uithaal en
wys nie.

 

Ek dink sy doen dit bitter goed.

 

Daar is heelwat seks in die verhale, maar dit
word óók onderspeel. Wat egter telkens oopgeskryf word, is die intense krag van
gesinsbande en die gepaardgaande krag van die stories wat ons mekaar vertel.

 

Bigbigjoe, dis ’n moet vir jou. Daar is
heelwat verwysings in na die menslike psige, en die goed wat soms padgee in jou
gemoed. Wees gewaarsku: My vrou het die verhale ontstellend gevind. Sy is ook
’n medikus en …

 

Dis nie maklike verhale nie, maar ek het
lanklaas ’n bundel verhale gelees wat so netjies saamwerk, so fyn waargeneem
word, en so subtiel jou skene onder jou uitskop.

 

As jy wil sien hoe die tradisionele
kortverhaal werk, koop die bundel.

 

André Brink stem saam, kyk hier na sy resensie
in Die Burger..

 

Verder kan julle gerus hierdie gesprek op LitNet lees. (Daar is ook skakels na baie positiewe resensies in Beeld en Volksblad onder aan die gesprek.)

by izakdv

Byna Liefde op LitNet geresenseer

Desember 12, 2008 in Sonder kategorie

Daar het pas ‘n baie mooi resensie van Byna Liefde, deur Elbie Adendorff, op LitNet verskyn. Kyk gerus hier.

by izakdv

Izak op die Sarie se voorblad

Desember 11, 2008 in Sonder kategorie

Nee, regtig. Kyk hier, as jy my nie glo nie. Of,
soos Nataniël gesê het: “Koop net die blerrie ding.”

 

My vrou kom ewe opgewonde by die huis en sê:
“Izak, jy het gearriveer. Jou naam is op die voorblad van die Sarie!”

 

Oukei, oukei, hulle het nou wel besluit om
Cindy se foto te gebruik (dit was glo ’n moeilike keuse ;-), maar my naam is
darem op die voorblad van die Sarie.

 

(Kassie se vrou se kommentaar: “Moet ’n mens die Sarie haal om
te arriveer? Duidelik is boeke skryf nie genoeg nie.”)

by izakdv

Ons trap spore

Desember 11, 2008 in Sonder kategorie

Dié maand se GaySpeak is uit, en daar is
interessante skakels in wat julle sal waardeer:

 

Die 100-boeke-projek maak ’n groot deel uit
van hierdie uitgawe, geluk aan Leon (Kites) en Maankind (Trissa).

 

En dan het Laurie Gaum ’n baie oulike resensie
geskryf oor Byna liefde.

 

Gaan kyk gerus: http://www.gayspeak.co.za/