by

Strange nervous laughter

Desember 20, 2008 in Sonder kategorie

 

Gou vir julle van ’n heerlike, Suid-Afrikaanse roman vertel. Strange nervous laughter, deur Bridget McNulty, is iets soos chicklit met ’n helse klomp breinselle. Dis liefdesverhale, dit gaan oor mense wat liefde soek, verloor, weer vind en weer opneuk. Uiteindelik is daar ook diegene wat ware liefde vind en dan slim genoeg is om te hou wat hulle het.

Strange nervous laughter is intelligente, ligte leesstof. Ek glo nie ek het al ’n boek gelees wat presies só is nie.

Dis amper of jy Bernhard Schlink met Gabriel Garcia Marquez gekruis het en toe gesê het, skryf iets vir die ligte mark in die styl van Louis de Bernièrs. Schlink skryf intelligente liefdesverhale, terwyl Marquez en de Bernièrs die grense van die realiteit toets. Nie een van hierdie here skryf egter ligte leesstof nie.

Bridgitte McNulty het ’n ligte, Suid-Afrikaanse boek geskryf wat jy met groot gemak vir ’n vriendin kan gee vir Kersfees. Om die waarheid te sê: Dis die ideale geskenk vir ’n vriendin wat reeds alles het (veral as Byna liefde onder “alles” tel!)

Die boek lees ontsettend maklik en die stories is baie pret om te volg, maar daar is geen twyfel nie dat die outeur baie genot gehad het om haar lesers elke keer so effens wakker te skud, net om seker te maak ons raak nie té vasgevang in die storie nie.

In Strange nervous laughter word die skeiding tussen werklikheid en die bonatuurlike opgehef op ’n besondere manier. Wanneer Beth gelukkig is, sweef sy. Letterlik, haar voete raak nie grond nie.

Harry het weer ’n voorliefde vir gebreekte goed en gebroke mense is daarom ook aangetrokke tot hom. Waar hy ook al gaan, kom gesels gebroke mense met hom, en alle gebreekte objekte in die omgewing (koppies, pierings, wat ook al), kom na hom toe aangeskuifel en vergader aan sy voete. G’n wonder hy is ’n vullisverwyderaar nie, hy staan sommer op die trok, dan kom die goed aangevlieg na hom toe.

So, op ’n taalvlak speel McNulty met jou kop, sonder om die storie te bederf.

Mdu kan byvoorbeeld met walvisse praat.

En so kan ons aangaan.

Wanneer twee van die karakters op mekaar verlief raak (ek gaan nie sê wie nie), gaan hulle op reis deur die land en oral waar hulle gaan, strooi kanferfoelieblommetjies hulleself agter dié paartjie aan. (Ja, die blommetjies verskyn sommer net.)

Die agterblad sê:

An intriguing blend of lyricism, whimsy and wit, Strange Nervous Laughter is about love and friendship and relationships – and sex and food and Durban – and odd ways in which we sometimes behave.

Vir ’n verandering dink ek die agterblad som die boek baie goed op. Dit ís ’n sexy boek, maar in besonder goeie smaak. My ma sal die boek net soveel geniet as ek.

Strange nervous laughter is een van die lekkerste boeke wat ek in 2008 gelees het.

5 antwoorde op Strange nervous laughter

  1. Ek het net vandag haar blog ontdek…omdat sy ons dorpie besoek het en ek ‘n ‘alert’ op het vir ons dorpie se naam….moet jou se…haar blog lyk interessant…nou gaan ek haar boek soek. Haar blog is ook “Strange Nervous Laughter.”

  2. Izakdv het gesê op Desember 20, 2008

    Johanna
    Ek lees haar blog baie graag, dis hoe ek haar boek ontdek het.
    Oulike girl!
    izak

  3. Ceara het gesê op Desember 20, 2008

    Baie dankie hiervoor, dit lyk ineteressant. (mens sou beslis nie ‘n boek kan oorslaan wat ‘n kruis tussen Schlink en Marquez is nie!).

  4. Izakdv het gesê op Desember 21, 2008

    Ek is ook bly, Maankind. Die boek is veel beter as wat ek verwag het!

  5. Izakdv het gesê op Desember 21, 2008

    Lorinda, kyk of jy saamstem? Dis ‘n ligte boek, maar wragtie goed!

Los ’n antwoord vir Joanna Graham. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.