Jy blaai in die argief vir 2008 November.

by izakdv

Die reg om te sterf

November 12, 2008 in Sonder kategorie

Boekevat het nou weer ’n ding oopgekrap op
haar blog. Lees gerus self. Ek wil ook daardie boek waarvan sy praat, graag
lees.

 

’n Domineevriend van ons het die ander dag my
vrou gebel en gesê hy moes gaan help na ’n ou oom besluit het die enigste
manier om klaar te maak, is om met sy motor in ’n muur vas te jaag.

 

Ai tog.

 

Ken julle die stunning Kanadese fliek Les Invasions barbares deur Denys Arcand,
of te wel The Barbarian Invasions,
soos dit in Engelssprekende lande bekendgestel is? Neem dit uit en kyk dit. Dit
is werklik ongelooflik.

 

En, as julle ooit Dancing with Mr D, deur die Nederlandse skrywer Bert Keizer
raakloop, koop dit.

 

Nou die ander dag was ek by ’n ete waar ’n
paar interniste so oor die saak gepraat het. Dit kan gebeur, al is dit
onwettig. Ook heel interessant om te hoor hoe húlle eendag sou wou gaan as die
einde naby is.

 

Terloops, jare terug het ek ’n kortverhaal oor
genadedood geskryf. Toe bel ek ’n klompie mense en vra raad: Hoe om vinnig te
sterf? ’n Hele paar het nogal benoud geraak toe ek met hulle daaroor uitvra, en
talle het geweier om te antwoord. (Ek het uiteindelik die verhaal geskryf, maar
nie die resep gepubliseer nie.) Die verhaal “Op die lewe” is destyds in Kom slag ’n bees opgeneem. (Die
verwysing kom, terloops, weer Byna Liefde
voor, vir diegene wat bereid is om verby die tepels te lees 😉

 

by izakdv

Pornografie of erotiek?

November 11, 2008 in Sonder kategorie

Ek tob nou al ’n hele ruk oor die verskil,
indien enige, tussen die erotiek en pornografie.

 

Vir mý is die verskil taamlik duidelik:
Pornografie is enkelvlakkig, en dis dood eenvoudig ingestel op die kortstondige
bevrediging van behoeftes.

 

Erotiek is veel meer. Erotiek vra vrae, dit
bevredig nie altyd nie, dit laat soms selfs die leser met ’n prikkelende sin
van onvergenoegdheid.

 

Erotiek transendeer dus seks.

 

Ek wil julle verwys na Maangodin, of te wel
Annelise, se heerlike Maanvrug. Dié
van julle wat die teks al gelees het, sal weet dat dit allerlei vrae vra oor
die soort godsdienstige wêreld waarin ons grootgeword het. Maanvrug daag uit. Dit laat die leser ongetwyfeld na binne kyk.
Baie van ons het groot geword met die waardes wat gedeel word deur die
hoofkarakters in Maanvrug.

 

Maar, en hier is die wonderlike polariteit in Maanvrug: Die hoofkarakter is
gefrustreerd, en sy droom allerlei koorsagtige drome oor die wildste, en soms
selfs gewelddadigste seks. En dis hiér, in hierdie drome, waar ek voel die teks
glip soomloos oor in die pornografiese “quick fix”.

 

Is Maanvrug
dus pornografies? Geensins. Bevat Maanvrug
pornografiese passasies? Ek dink beslis so.

 

Die mooiste voorbeeld van die onderskeiding
tussen hierdie twee wêrelde is die volgende: In die droomwêreld is daar geen
kondome nie, geen wroegings nie en geen harde woorde tussen die getroudes oor
hierdie wilde seks nie. In die roman se “werklikheid” ís daar kondome, daar ís
spanning, woede en baie angs. Kortom, een van die goed wat Maanvrug baie mooi toon, is dat die liefde sigself nié laat vaspen
in die klein, guitige verbeeldingsvlugte van ’n gefrustreerde geliefde nie.

 

Dus? Ek kan vele ander voorbeelde noem, maar
ek het juis by Maanvrug begin omdat
die spel so maklik verduidelik kan word in Annelise se boek.

 

Pornografie is dus nie per se sleg nie. Dit is ook nie (noodwendig) ’n waarde-oordeel nie.
Ek dink Fanny Hill, or Memoirs of a Woman
of Pleasure
, deur John Cleland, ís pornografie. Elke cliché word ondersoek
en mee gefoeter. Dit is egter ook ’n wonderlike boek wat verdien om gelees te
word. (Ek het dit al vir vriendinne geleen wat dit tot hulle tone geniet het.)

 

Is Kennis
van die aand
pornografies, soos in my jeug beweer is? Nee. Dis ’n keiharde
boek oor menslike verhoudings. En seks is déél van daardie verhoudings.

 

En Magersfontein,
o Magersfontein
? O, genade nee. Ek het dit in standerd agt gelees en kon
glad nie verstaan waaroor die bohaai gaan nie. (Die boek was toe nog verban.) Ek
het veel erger goed in Wilbur Smith, Hammond Innes en Dick Francis gelees.

 

Maar, kom ons gaan kyk na Henry and June, daardie pragfliek deur Philip Kaufman oor Anaïs
Nin se dagboek: Dis wonderlik. Dis hartseer. Dit ondersoek soveel vlakke van
die liefde, ook die seerkry van die liefde. Die ontstellendste deel van die
fliek is egter die begin. Daar waar haar uitgewer haar eenvoudig opeis, net
omdat sy erotiek skryf. Niemand kla daaroor nie. Hulle kla wél oor die feit dat
Henry en Anaïs op mekaar verlief raak.

 

In Se,
jie
(of Lust, Caution soos dit in
Engelse lande verskyn het), deur Ang Lee, is daar ’n afgryslike scène waar Yee
die jonge Wang Jiazhi aanrand, en basies verkrag. Dit is veral ontstellend
omdat dit kom na ’n uur van sieldodende niks.

 

Pornografie? Daardie stukkie dalk, want dit
was suiwer manlike varklikheid. Hard core, dus? Ek dink so. En die fliek? Kyk
dit, dis een van die ontstellendste liefdesverhale wat jy nog gesien het,
gebaseer op ’n verhaal deur ’n vrou geskryf. Dis wonderlike fliek wat ek sterk
aanbeveel.

 

En so kan ek aangaan.

 

Ek dink egter WWF Smackdown moet ’n 2-18
ouderdomsberking kry en verban word tot middernag. Dís nou ontstellende,
gewelddadige snert. En dit leer kinders totaal verkeerde waardes.

 

Ek weier dat my seun dié gemors kyk.

 

Wanneer hy egter my boekery gaan begin invaar
aanvaar (wat reeds begin gebeur, al lees hy nog prentjies), sal daar nie ’n
enkele boek wees wat ek sal verbied nie.

 

Wonder wat julle dink?

by izakdv

Seks!

November 10, 2008 in Sonder kategorie

O hemel. Nou is die gort gaar! Riana Scheepers
het besluit sy trek alles uit in haar resensie oor Byna Liefde.

 

Julle kan gerus haar heerlike, rowwe,
opruiende en tong-in-die-kies resensie lees.

 

Wat meer is, Die Burger wil hê julle moet deelneem aan die debat.

 

Hier is die skakel.

by izakdv

Kom ons sit sommer by die tafel

November 9, 2008 in Sonder kategorie



Kom sit gou hier by die blog dat ek julle kan
vertel van ’n verstommende boek wat ek pas klaar gelees het. Erns Grundling,
eens van LitNet, het die manuskrip gelees en gesê: “Absoluut mind-blowingly befok”. Ek glo nie ek kan dit beter stel
as Erns nie. Al wat ek dus kan doen is om oor die boek,
Kom
ons sit sommer by die tafel
,
een ander te sê.

 

André le Roux is ’n joernalis wat sy strepies
verdien het voor die internet. Vandag kan joernaliste in Washington sit en heel
gemaklik stories skryf oor die oorlog in Irak. Of, nog meer vulgêr, hulle sit
in Irak, veilig in die Groen Zone, en stuur al die snert wat die army dikteer
terug huis toe: “At the front” se agterent.

 

Kyk net wat Zapiro met hierdie moderne soort joernalistiek doen. Die Amerikaners noem dit “embedded journalism”.

 

Nou, kyk. As jy moeg is vir hierdie soort
joernalistiek, dan is Kom ons sit sommer
by die tafel
vir jou. André le Roux vertel ons van die “
been there, saw it, smelled the blood”-tipe joernalistiek wat ons ook in die semenale boek, The Bang-bang Club van Greg Marinovich
en Joao Silva, gesien het.

 

Die verskil tussen is egter dat Le Roux ons op
’n fiktiewe reis neem deur die lewens van ’n hele aantal mense. En dan gooi hy
harde, feitelike geskrifte tussen in om kommentaar te lewer op sy stories.

 

Die
boodskap word nooit gesê nie.
Show, don’t tell, is
wat vele jong skrywers gereeld hoor. Hulle kan Le Roux se boek lees as hulle
wil weet hoe.

 

Die boek wissel tussen tonele van eksplisiete
seks, totale, morose niksseggendheid in die gesprekke van dronkies in kroeë,
tot die kil metodes van marteling en die manier waarop die martelaars daarmee
saamleef. George Bush het marteling weer mode gemaak, en só lewer hierdie teks
op vele vlakke kommentaar: Dit wat was, kom weer. Dit sal ook weer kom, want
die mens is ’n anderste een.

 

Ons word geneem na Mandraxhole, opehartoperasies,
die binnekamers van prostitute, die werkplekke van martelaars, vuil
plattelandse kroegies, stinkende selle van verbeteringskole … Kortom, ons
síén die beats wat die joernalis loop.

 

Ek dink Kom
ons sit sommer by die tafel
is een van die jaar se groot gebeurtenisse. En
die feit dat dit soomloos ’n bundel van twintig jaar gelede, naamlik Sleep vir jou ’n stoel nader, kon
opslurp en weer vars aanbied in 2008? Wel, die wêreld draai stadig en die mens
verander min. Wat meer is, goeie boeke bly voorwaar aktueel!

 

Koop dit as jy ’n goeie joernalis wil sien
werk.

by izakdv

Dagga en diesulkes

November 8, 2008 in Sonder kategorie

Dagga en diesulkes

 

Hoeveel van julle het Cicero se blog gelees
oor die dagga en die windowshopping wat sy in Amsterdam se Walletjesbuurt
gedoen het?

 

Ek wonder nou sommer hoe ander bloggers voel?

 

Moet ons dagga wettig in Suid-Afrika? Ek dink
dit sal die dealers tussen die bene tref as die onwettige mark verval.

 

My vriend Tienie Swanepoel, ’n sosioloog, dink
egter anders daaroor: Hy sê die huidige stand van sake pas eintlik die ouens
daar in die berge wat die goed verbou. Wettig dit, dan gaan die boere met die
John Deeres die geld maak.

 

Goed, dekriminaliseer dan?

 

Op Cicero se blog is daar ook iemand wat
duidelik sê hy is verslaaf aan dagga. Hy waarsku dus daarteen.

 

Ek het self vriende wat uit hulle werk en
huwelike is omdat hulle nooit wou afkom aarde toe nie – dagga!

 

Tog, alkohol is wettig, en alkohol is hoogs
verslawend.

 

Ek is mal oor ’n glas rooiwyn, maar is nie
afhanklik nie. Ander weer, hulle is.

 

Kyk, ek het self al dagga gedoen in my jeug (onwettig) en
dis lekker. Waar trek mens die streep?

 

Baie goeie vriende van my is deur Tik. En *$#!
mense, dis hel. Dis hel, dis hel. Ons het soos toeskouers langs ’n rivier gestaan
en kyk hou hulle see toe dryf. (Albei is nou skoon, maar dit was maande in
rehab om so ver te kom.)

 

Verder het ander goeie vriende se kinders heroïen
gedoen. Eina. Dis op die vlak van tik.

 

Ek dink dus, en wonder wat ander dink, dat ’n mens
liefs vir kinders moet sê:

-Alhohol: Binne perke

-Dagga: Binne perke (maar jy kan tans tronk
toe gaan, so asseblief dink twintig keer)

-Kokaïen: O, hel, nou’s jy op ’n gevaarlike
paadjie, maar as jy vroeg kom vir hulp, kan ons jou omdraai.

-TIK: NEE, NEE, NEE, fokken NEE!

-Heroïen: Selfde as TIK, NOOIT, nooit!

 

Sien, as jy net sê: Dwelms is gevaarlik, dan
weet kinders nie watter is werklik gevaarlik en watter is minder problematies
nie.

 

Maar, ja. Ek hou my hart vas vir my kleuter.
Ek dink tog ek sal bogenoemde aan hom sê.

 

En dan prostitusie? Hieroor voel ek minder
ambivalent. Ek het ’n jaar lank vir ’n organisasie gewerk waar ons met vele
prostitute in aanraking gekom het. Ons het hulle gehelp met allerlei goed. Die enigste mense wat voordeel trek uit die
kriminalisering van seks, is korrupte polisiemanne.

 

Let them pay tax!

 

Wonder wat julle dink?

by izakdv

Who needs a jerk like Obama?

November 7, 2008 in Sonder kategorie

Kom ons lag weer ‘n slag. Kyk wat komediant Bill Maher sê oor Obama:

We have been spoiled, first with Bill
Clinton and then George Bush. And here’s a president now who – he’s
not stupid. He’s not angry. He’s not a phony. He’s not fat. He’s not
cheating on his wife.

Who needs a jerk like that around for the next four years? Come on.

Kliek hier vir die volledige onderhoud met Larry King.

by izakdv

Homo horribalis

November 6, 2008 in Sonder kategorie

Vanaand weer die donker kant van die mensdom
gesien.

 

Ek was in die kombuis toe twee mense voor die
huis opdaag. Een ken ek, die ander nie. Die ouer vrou, wat ek nie ken nie, haal
’n selfoon uit en bel. My vrou se foon lui. Dis die maatskaplike werker wat die
hospitaal bedien waar my vrou werk. (My vrou is ’n spesialis in huisartskunde
en werk vir die staat.)

 

“Kom in!” sê my vrou.

 

Die jonger een ken ek. Mooi kind. Sestien. Sy’t
al model gespeel vir my.

 

Die storie is: Mooi kind is eergisternag deur
die stiefpa gedôner. Ma het haar hospitaal toe gevat waar hulle tot een uur die
oggend gesit het en nie ’n dokter gesien het nie. Daar was ander wat erger
verwond is.

 

Die een suster hét darem ’n tetanusinspuiting gegee.
Vandag is die kop nog seer. Hulle bel die maatskaplike werker. Die maatskaplike
werker ken ’n staatsdokter wat redelik naby bly.

 

My noodhulpstel word uitgediep. Hare word
weggeknip.

 

My vrou maak geregtelike sketse. Ek gaan haal
die kamera. Vir die eerste keer in baie jare neem ek weer mediesgeregetlike
foto’s.

 

Twee sentimeter lank. Jy moet ’n persoon
redelik hard moer om dit reg te kry.

 

Mooi kind glimlag maar.

 

Ek jaag almal koffie in. Die saak sal môre
gemaak word, maar sy slaap vannag weer daar …

 

Ant Sussa het gepraat oor vloek. Dis sulke tye
waar ’n paar knope help om die magteloosheid weg te weer.

by izakdv

Poet and Prophetess, laaste kans!

November 6, 2008 in Sonder kategorie

(c) Artscape

 

Mense. Ek en die geliefde het gisteraand Poet and Prophetess gaan kyk.

 

WOW. Gaan heen. Die speelvak eindig
Saterdagaand.

 

Dís nou internasionale plaaslike musiek, as ek
nou so vreemd mag klink.

 

Gaan. Julle gaan nie spyt wees nie. My skoonpa
en sy geliefde het die openingsaand bygewoon en dit ewe veel geniet. Dit het
dus ’n wye trefwydte!

 

Lees my blog oor dié opera as julle meer wil
weet.

by izakdv

Vir ant Sussa

November 5, 2008 in Sonder kategorie


Ek was Sondag in Elgin. Die appelbloeisels is
toe so mooi dat ek nie anders kon as om aan ant Sussa te dink nie.

 

Die enetjie is net vir jou geneem,
Moederowerste!

 

Laat die mooi in die wêreld ons inspireer.

by izakdv

Obama!

November 5, 2008 in Sonder kategorie

CNN sê dis in die sakkie!