by

Weerloos

November 18, 2008 in Sonder kategorie



Ek het gister ’n teoretiese raamwerk probeer
skets wat ons kan gebruik om Weerloos,
Annelise se tweede, mee te probeer verstaan.

 

Vandag wil ek op die boek self konsentreer.

 

Ten eerste is Weerloos ’n lekkerlees, erotiese boek. Dit is nogal anders as Maanvrug.

 

In Weerloos
loop daar twee storielyne langs mekaar en hulle vou op ’n stadium inmekaar in.

 

In het korte: Ons loop vir Dakini, ’n
toenmalige priesteres in ’n vrugbaarheidskultus, raak in die hiernamaals. Sy is
nie in die geykte hemel of die hel nie, nee, sy is in Mefisto. Tog, in haar eie
woorde: “Ek vermoed ek is in die Hel.” Dis egter ’n heerlike hel hierdie, een waarin
jy al jou vreugdes en drifte kan uitleef net soos jy wil.

 

Ten tweede handel Weerloos oor ’n vrugbaarheidskultus op aarde. Ons sien hoe die
kultus se priesteresse stelselmatig vervolg word deur diegene wat boeke en ’n
monoteïstiese, patriargale god aanhang.

 

Op hierdie punt is dit dus reeds duidelik dat diegene
wat ’n Amerikaans-evangeliese godsbeeld het, baie ver moet wegbly van Weerloos af. Dis nie ’n boek wat Rhema
sal aanbeveel van die preekstoel af nie.

 

Julle is gewaarsku.

 

Is hierdie boek anti-godsdiens? Nee. Kyk mooi:
Agapië is ongetwyfeld die plek waar liefde in agape uitgeleef word – die ware Christenliefde, dus. In Mefisto? Wel,
hier jol die ouens.

 

En dis Agapië, die “anderkant”, wat uitreik en
vriendelik is teenoor die inwoners van Mefisto. Jip. Daar ’n oproep van Agapië
af om te gesels.

 

Onse Dakini word gevra om hulle leermeester te
gaan ontmoet – iets waarvoor sy nie baie lus is nie. Haar lus verdamp verder as
die geleerde Agapiër, Desirio, begin boeke oopmaak.

 

Tog, deur hierdie gesprekke leer Desirio vir
Dakini om van boeke te hou. En dít is belangrik, want, toe Dakini nog geleef
het, was dit boekgeleerdes wat haar gevang, gemartel, verkrag en uiteindelik as
heks op die brandstapel vermoor het.

 

Wat ek gister deur Bert Olivier se woorde
probeer sê het, word hier in storievorm vertel. Die priesteresse word vervolg
deur die boekgeleerdes. Hulle word uiteindelik as hekse verbrand. Hoekom? Want
Dakini, die priesteres, weier om aan een man te behoort: Sy behoort aan die
stam.

 

Nou, in die hiernamaals, maak Dakini vrede met
boeke. Sy gee haarself ook, op ’n priesterlike wyse, aan Desirio. En só word
erotiese liefde met die agape-liefde
verbind.

 

Lees gerus self. Weerloos is sonder pretensie. Dit lees baie maklik en baie vinnig.
Al sny dit moeilike temas aan, bly dit baie ’n toeganklike, leesbare boek. Weerloos is glad nie ’n filosofiese werk
nie en dit probeer nie voorgee om enige iets anders te wees as ’n verhaal oor
verskillende soorte liefde, en ’n skoot haat, nie.

 

Weerloos het hierdie manlike leser lekker op aandag laat staan. Waarsku dus
geliefdes wat Eros dalk net besoek kan aflê tydens die lees van Weerloos.


6 antwoorde op Weerloos

  1. Izakdv het gesê op November 18, 2008

    Geniet dit, Natasja!

  2. Dankie Izak, ek is bly jy het dit geniet. En dis lekker om uiteindelik te hoor wat iemand (behalwe natuurlik ons liewe Trisa) daarvan dink.

  3. Sunika het gesê op November 19, 2008

    Ek sal bietjie meer tyd hier moet kom deurbring…

  4. Izakdv het gesê op November 20, 2008

    Engeltjie, sterk staan!

  5. Izakdv het gesê op November 20, 2008

    Knap gedaan, Annelise

  6. Izakdv het gesê op November 20, 2008

    Sien jou weer, Soentjie!

Los ’n antwoord vir Maangodin. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.