Jy blaai in die argief vir 2008 Oktober.

by izakdv

Maropeng

Oktober 19, 2008 in Sonder kategorie


 

Ek was vandag by Maropeng, so veertig minute
se ry van Lanceria-lughawe af. Dis die moeite werd, veral as jy kinders het.
Ek was daar saam met ’n swerm kinders, 2 – 12, en elkeen het dit geniet.




Ek dink ek sou dit nóg meer waardeer het as ek
dalk tyd kon kry om alles te lees. My kiekies laat geensins reg geskied aan die
inligting wat hulle die besoeker bied nie.

 

Gautengers, gaan kyk! Vir die ander, gaan loer
in as julle daar kom! Veral as julle kinders het. Die museum vertel jou van die
evolusie op die eenvoudigste, dog heeltemal wetenskaplike, wyse.


 


Jy begin op ’n bootrit deur ys en verby
vuurspuwende berge, dan loop jy oor ’n tonnel wat jou sinne heeltemal stom slaan,
en uiteindelik beland jy in die museum. Kinders kan dan ’n telefoon optel om ’n
Dodo te bel, hulle kan video’s kyk oor die vorming van grotte, of hulle kan
hulle verlustig aan hoe die homonoïede gelyk het.


 


Die amptelike ruimte is http://www.maropeng.co.za/

by izakdv

Die tandmuis

Oktober 17, 2008 in Sonder kategorie

CMA step-by-step publ.indd

Kaprê se blog oor die tandmuis en Tronkie se
opmerking dat ek altyd ernstig is, het my laat dink dat ek iets ligs met julle
moet deel. (En nou besef ek Tronkie gaan dalk dink dis óók ernstig!)


Nou ja, dis ’n ware verhaal dié.

 

Goeie vriende van ons, Anna en Shoni
Tshivashe, het ’n paar eie kinders en toe Anna se sussie vermoor word, neem
hulle dié se dogtertjie ook aan.

 

En so gebeur dat een van die jongste spruite
se eerste tand wissel. Dit word natuurlik plegtig in ’n skoen gesit onder die
bed.

 

Goed so, behalwe dat twee moeë ouers, wat ’n
sakeonderneming bedryf, soms vergeet dat die muis moes kom.

 

En, julle kan dink: Trane. Die muis. Het nie.
Gekom. NIE!

 

Ouers in die dogbox.

 

Totdat ons liewe land se misdaad die situasie
red: Een van die ouer kinders kyk by die venster uit en sien ’n dooie rot – die
honde se werk. “Kyk mamma!” roep die een wat die rot sien. “Die tandemuis is
gehighjack!”

 

Ouers uit die dogbox.

 

Tandemuis Inc het die volgende nag weer ’n
muis gestuur en dié een het waarskynlik ’n koeëlvaste baadjie gedra, want die
geld was in die skoen.

by izakdv

Kapenaar se Opera in die Kunstekaap

Oktober 14, 2008 in Sonder kategorie

 

Foto met vergunning van Norrlands Operan

 

Die Kaapse skrywer, Michael Williams, se opera
Poet and Prophetess open Donderdag 30 Oktober
in die Kunstekaap.

 

Daar is slegs vier vertonings, so liefhebbers
van die kunste moet vinnig spring.

 

Die storie volg die ware verhale van twee
bekende mense, Nongqawuse, die Xhosa-profeet wat berug geword het vir haar
oproep om die Xhosas se beeste dood te maak, en ’n Sweedse digter, Bengt
Linder. Williams bring hulle dan, klaarblyklik fiktief, bymekaar.

 

Williams, ’n Kapenaar, het die stuk geskryf as
deel van ’n ooreenkoms tussen Kaapstad Opera en Norrlands Operan in Sweede.

 

Die musiek, wat geskep is na aanleiding van
Williams se woorde, is gekomponeer deur die Sweedse komponis Mats Larsson
Gothe.

 

Na die Sweedse première is die geselskap sewe
keer teruggeroep vir ’n buiging. Die pers was liries oor die stuk.

 

Volgens Williams is dit ’n grootse stel, met
’n boot op die verhoog en geweldig baie mense. (Ek hoop om baie binnekort ’n
behoorlike onderhoud met hom te voer. Hy was nou vir ’n hele ruk in Sjina.)

 

Komaan, kom ondersteun wêreldklas
Suid-Afrikaanse kuns. Jy sal selfs die woorde verstaan, dis net die musiek wat
Sweeds is!

 

Ek het reeds bespreek. Kliek hier om te bespreek.

 

Daar is vier vertonings:

 

– 30 Oktober

– 1 November

– 5 November

– 8 November

 

Alle vertonings begin klaarblyklik om 19h30,
maar hou die kaartjies dop. Kaartjies kos R150 of R175. Pensioentrekkers en
studente kry afslag, en daar is afslag op blokbesprekings.

 

Kliek hier vir meer inligting oor die opvoering Swede.

 

Librettis: Michael Williams

Komponis: Mats Larsson Gothe

Regisseur: Matthew Richardson

Dirigent: Jonas Alber

Stelontwerp: Lars Östbergh

Kostuumontwerp: Annsofie Nyberg

Ontwerp van beligting: Lars Östbergh

Choreograaf: Sbonakaliso Ndaba

 

As julle wil voorberei, lees Zakes Mda se Heart of Redness. Dis ’n wonderlike
boek.

by izakdv

‘n Dak oor my seun se kop

Oktober 13, 2008 in Sonder kategorie

Sakkie probeer ‘n paar studente leer hoe om dakkappe te maak en dakke op te sit.

Sakkie het egter tien duime, so Sakkie moet nou ‘n boek reg timmer sodat die studente ten minste iets het om uit te leer.

Sakkie is ‘n bietjie moeg.

Sakkie sal hopelik môre weer meer sosiaal kan verkeer!

Sakkie hoop dat daar in die toekoms genoeg ambagslui sal wees om dakke oor sy seun se kop te sit, dis hoekom hy dié tyd van die aand nog werk.

Sakkie groet dus eers weer!

by izakdv

Ander se ware woorde

Oktober 10, 2008 in Sonder kategorie

Die Prinses het ’n baie interessante skakel
oor erotiese werke en Mills & Boon gestuur. Loer gerus self.


Ek wil egter die naweek ingaan met twee
pragtige aanhalings van ander bloggers, albei het kommentaar gelewer op die
onbekende Fransman, Le Clézio, wie se werk nog nie een van ons gelees het nie:

 

Droomkind: Ten spyte van alles wat ek lees,
kry ek nog steeds daardie beklemming om my hart as ek dink aan al die
wonderlike boeke wat ek nooit gelees gaan kry nie.


Tronkie: Dis een van my grootste vrese (…)
dat ek gaan doodgaan voor ek alles gelees het waarna my siel smag.


Dit laat my dink aan Josef, die hoofkarakter in André P. Brink se Kennis van die aand. Hy’t so woes gelees!


Wat dink julle van hierdie wyse woorde? Ek kan
net saamstem.

by izakdv

Die 2008-Nobelprys vir Letterkunde

Oktober 9, 2008 in Sonder kategorie


(Foto deur E Feferberg vanaf Nobelruimte)


Jean-Marie Gustave Le
Clézio is die ontvanger van die 2008-Nobelprys vir Letterkunde.
Hier is ‘n transkripsie van ‘n onderhoud met hom (julle kan ook daarna luister.)

 

Ons Boekevatvrou was toe reg. Sy het Dinsdag al ’n kiekie van die mooi Fransman, Le Clézio, op haar
blog gehad. Sy het vandag ook weer berig oor Le Clézio op haar blog.

 

(Ek moet oor die algemeen
vir julle sê haar blog word onderskat, ek voel soos ’n analfabeet as ek daar
rondloop.)

 

Ek was darem verlig toe ek deelneem aan die
peiling op die Nobelruimte en uitvind ek is een van 83% van alle Engelstalige
besoekers wat nog nie Le Clézio se werk gelees het nie.


Ek wou egter. Kalahari
het egter nie eens een van sy boeke nie.

 

Exclusive Books is beter.
Hier is ’n paar wat in Engels beskikbaar is:

– Wandering Star

 

– The Round and Other Cold Hard Facts

 

– The Mexican Dream: Or, the Interrupted Thought of Amerindian Civilizations

 

– Onitsha


Wie van julle het al van hom gehoor? Of dalk
gelees?

by izakdv

Fanny en Dick …

Oktober 9, 2008 in Sonder kategorie

 

… word Franny en Rick.

 

Lees gerus die Prinses se heerlike blog oor Blyton
en die “geskropte” boeke om te sien hoekom.

 

Ken julle die wonderlike Fanny Hill: Or Memoirs of a Woman of Pleasure? Die outeur is John
Cleland. Ons lewe in ’n gemaklike tyd. Weet julle dat hierdie boek eers so
dertig jaar gelede ontban is?

 

Terloops, die Prinses sê, na aanleiding van my
bespreking oor Maanvrug: “In my
ervaring, as ek nou my vriendinne obserweer, en my eie opinie, verkies vroue
egter eksplisiete tonele geskryf deur vroue.”

 

Hoe voel ander daaroor?

 

Ek het Fanny Hill al aan vriendinne geleen
wat dit verskriklik geniet het.

 

Oor die kwessie van mans wat vir vroue skryf,
of anders om, lees gerus Lorinda se heerlike blog daaroor.


Maar ek wil regtig weet: Skryf mans beter vir
mans en vroue vir vroue? Ek dink nie so nie! Laat weet wat julle dink!

by izakdv

Mbeki: ’n Ander benadering

Oktober 7, 2008 in Sonder kategorie

Vir almal wat belangstel in ’n interessante,
en vars, blik op ons land se politiek, lees gerus John Pilger se stuk The downfall of Mbeki: The hidden truth.

by izakdv

Goeie toerusting

Oktober 6, 2008 in Sonder kategorie


Dit is my geleerde vriend, Awie Badenhorst,
hierdie. Dis Awie wat daardie mooi foto’s geneem het by Rust en Vrede, sien
hieronder. (Ek het dié een geneem.)

 

En dis juis tydens die pouse, daar by Rust en
Vrede, dat een van die kunstenaars so na Awie se kamera kyk en sê: “Jy’t seker
’n goeie kamera, né?”

 

Waarop Awie toe antwoord: “Gaan jy vir daardie
ou, wat nou net voorgelees het, vra of hy ’n goeie tikmasjien het?”

 

Dit laat my dink aan André le Roux se skets:
“Voete, vir fotograwe, was nog nooit belangrik nie.” Ken julle die boek? Die
titel is: Kom ons sit sommer by die tafel.
Dis ’n wonderlike boek.

 

André is natuurlik reg. ’n Goeie fotograaf
weet waar om te sny. En voete is nie so belangrik nie. Soms is hulle selfs ’n
probleem. Die skone Anneline Kriel se voete was nie afneemkwaliteit nie.

 

As jy, as fotograaf, dus skielik op die voete
fokus, dan wéét die kyker voete is belangrik.

 

Opperman het gepraat van die poësie as ’n
flits wat ’n kolletjie lig laat val in die donker, en net daardie deeltjie wat
belig word, is belangrik op daardie oomblik.

 

So maak ’n goeie verhaal ook. Of wat dink
julle?

by izakdv

Maanvrug van die Maangodin

Oktober 5, 2008 in Sonder kategorie

Maanvrug is Annelise, onse medeblogger se eerste. Ek het dit pas klaargelees.
En? Wel. Ek is kiertsregop. Stokstyf. Hartkloppend. Ensovoorts.

 

Ek gaan beslis Weerloos ook bestel!

 

Sjoe, onse Annelise kan die krane oopdraai.
Maskas.

 

Ek wil dit duidelik stel dat mense wat skaam
is vir seks, moet wegbly van hierdie teks. Maanvrug
laat Byna Liefde soos ’n
Sondagskoolhandleiding klink. Maar, as jy nie bang is vir ’n bietjie “of the
old in-out trick” nie, wel … (En as jy dié aanhaling ken, is jy al deur The Clockwork Orange …) Daar is niks
wat slap bly aan ’n mens as jy Maanvug
lees nie! Lees die teks hardop voor aan jou geliefde. Jy sal lus word. As jou
partner boonop ook lus raak … Vergeet Viagra. Roep die Maangodin!

 

Annelise skop ’n stofwolk op – groot dele van
die boek gaan kuier lekker in die pornografiese leefwêreld. (Ek sal in ’n ander
blog oor die dun onderskeid tussen erotiek en pornografie praat …)

 

Ek wil net noem dat dit ’n mite is dat vroue
minder belangstel in pornografie as mans. Van my baie soet vriendinne het al
erken dat eksplisiete tonele hulle baie aanstaan.

 

Wat Annelise doen, is om ’n vrou se fanatasiewêreld
aan die leser oop te maak. Die verteller is gefrustreerd, het kuis grootgeword
en was ’n maagd tot op haar troudag. Sy en haar man is gelukkig saam, maar ai.
Iets kort.

 

Maanvrug gaan oor die twee parallelle prosesse in dié vrou se kop. Aan die een
kant fantaseer sy. Aan die ander kant begin sy en haar man praat oor die
moontlikheid van ’n oper verhouding, die tipe verhouding waar seks nie bloot
beperk is tot die twee getroudes se lewens nie.

 

As julle Annemari Coetser se Oop Kaarte se lees, dan sal julle sien
hoe ’n paartjie besluit het dis okay as daar ander mense in die huwelik is. Oop Kaarte was dan ook die eerste
liefdesroman wat poli-amorie betrek (na my wete). Met Oop Kaarte was daar egter nooit enige poging om te verduidelik
hoekom die twee mense besluit het om “oop” te maak nie.

 

In Maanvrug
is die gesprekke oor dié onderwerp, en die stremming wat ander in die huwelik
bring, baie beter beskryf. Die twee leef
en praat uiteindelik oor al die probleme wat ’n poli-verhouding kan te weeg
bring. (Interessant genoeg vind ek té min van die mooi oor hierdie soort
verhouding in die teks.)

 

Ek dink vele medebloggers sal aanklank vind by
Maanvrug. Ons het in so ’n benepe
klein samelewing grootgeword dat “rondslaap” as ’n sonde gesien is toe ons op
skool was. Maanvrug praat met ons, al
die onse in dié pond wat weet hoe baie nonsens ons moes opeet in die verlede.

 

Ek het Maanvrug
al raakgeloop in goeie boekwinkels, maar julle kan dit ook direk bestel. Kliek hier.


Ek sou graag wou hoor wat ander dink van “oop”
verhoudings, poli-verhoudings, en, as julle dit al gelees het, Annelise se
boeke.