by

Legwarmers, Dakkappe, Bier en Kuns

Oktober 24, 2008 in Sonder kategorie

Goed. Ek skuld julle ’n antwoord.

 

My siening is dat kuns twee goed moet doen:

 

1. Kuns moet my anders laat kyk na iets. Of
dit Dada is, of dit realisties is, ek wil gestimuleer word om nuut en vars na
die objek, of situasie, te kyk. (Een van my karakters praat hieroor in die
kortverhaal “Na aanleiding van ’n soen vir Twombly” in Byna liefde. As julle belangstel om meer oor hierdie insident
rondom Twombly te hoor lees Coenie K se stuk en volg die skakels.)

 

2. Kuns moet die skaduwees kan invul. Kyk hoe
baie beeldende kunstenaar kan glad nie hulle skaduwees regkry nie. En dit geld
vir stories ook. Dis daardie balans. Dis daardie soeke na ’n realisme wat nie
altyd in ’n “realistiese” prentjie vasgevang kan word nie. Ek is self gatvol
vir donker, somber goed. Maar om die wêreld sonder skaduwees voor te stel, is
vals. (Fotograwe pes skaduwees. Ons skep dikwels vals beelde met bonsflitse om
skaduwees te verdoesel. Maar dis ’n ander onderwerp!) Selfs Picasso het in sy
wildste tye donker realismes vasgevang…

 

Maar:

 

Ek wil dit ook baie duidelik stel: Ek weier om
’n waarde-oordeel te plaas wat kuns beter maak as vakmanskap of vakvrouskap. Ek
stem saam met die prinses as sy sê: Miskien
is geblomde legwarmers iets wat ek sal miskyk op ‘n kerk bazaar, maar iemand se
ouma het dalk ure aan die breipatroon beplan, en moes telkemale verlore steke
optel, versigtig versigtig om dit perfek te kry.

 

Ek werk deesdae baie nou saam met mense wat
houtwerk en bouwerk en loodgieterwerk doen. Hulle werk is hulle passie.

 

Ek weet – uit hoofde van my werk – hoe baie ’n
loodgieter moet weet voor sy / hy kwalifiseer. Of, watter dik dokumente iemand
moet bemeester voor sy / hy ’n stuk steierwerk mag oprig. En glo my, daardie
SANS-kodes is vrek moeilik om te verstaan.

 

Dus? Terug na die legwarmers. Stal hulle uit
op die skou. Daar sal ander tannies wees wat spanning gaan toets en die en
steke gaan tel. Dis hoekom dit moontlik is om pryse toe te ken aan legwarmers. Ek
kan nie legwarmers vir pryse brei nie. Ek skryf dus maar.

 

Oor Kenneth Newman. Hy’t ’n besondere talent
gehad. Dit verg uiterste vakmanskap om so te kan teken. En, glo my, Kenneth het
in een maand meer boeke verkoop as wat ek in my lewe al verkoop het. Hoekom?
Ek, wat talle van sy boeke het, waardeer daardie wonderlike sketse. Sonder
Kenneth Newman sou ek nie vandag voëls geken het nie. (Ek dra deesdae Newman en
die Sasol saam as ek veld toe gaan, maar Newman het my gehelp om mossies van
vinke te onderskei.)

 

Ek was egter werklik benoud oor die “kuns” in
my fotografie. Soos vir legwarmers is daar talle goed wat jy kan ondersoek en
dan ’n prys toeken met ’n foto. Ek is mal oor wildfotografie, het al joernalistieke
werk gedoen en is ’n kranige mensfotograaf. Ek moes egter gaan raad vra oor hoe
om voor te lê vir ’n “kunsveiling”, al het ek die tegniese vaardighede om pryse
te wen met kiekies (het al). Dis egter een ding om tegnies korrek te wees, en
’n ander ding om bekend te wees met die nuutste verwikkelinge in die kuns.

 

My vraag was dus meer as net ’n klip in die
bos. Ek wou graag hoor wat ander sê.

 

Ongelukkig het ons in Suid-Afrika ’n nuk om
kunstenaars laer te ag as sportlui.

 

Dis egter soos legwarmers. As ons bereid is om
te weet hóé om legwarmers te brei, sal ons kan saampraat.

 

As ons bereid is om te lees oor die reëls van
rugby, sal ons kan saampraat (en juig as die sh … okay, ek is op dun
soutwater!)

 

Dieselfde met kortverhale, gedigte, romans en
skilderye. Dis jammer dat ons so min oor kuns saamtrek en opgewonde raak oor
skilderye, gedigte en legwarmers. Of dakkappe.

 

Klim ’n bietjie deur daardie gaatjie (voor die
rugby en die bier) en kyk hoe slim is daardie goed gebou. Kyk dan die rugby en
gaan koop ’n bundel gedigte. Daardie bundel kos minder as ’n rugbykaartjie!

 

Dankie vir die saamgesels.

25 antwoorde op Legwarmers, Dakkappe, Bier en Kuns

  1. Izakdv het gesê op Oktober 24, 2008

    Ware woorde, Heros!

  2. tronkie het gesê op Oktober 24, 2008

    I think I love you – net omdat jy weet daar is die mense wat die legwarmer-patrone moes uitdink en beplan.

  3. Izakdv het gesê op Oktober 24, 2008

    Tronkie. Ek weet hulle is daar, en ek kan dit nie doen nie!

    Ek kon nog nooit verstaan hoe twee sokkies dieselfde kan lyk nie.

    Duh! Ek kop dit regtgig nie!

  4. Ceara het gesê op Oktober 24, 2008

    Ek kan jou leer brei as jy wil Izak, ek is nogal goed daarmee… :-). Ag sou dit nie wonderlik wees as daar regtig more duisende digbundels verkoop word nie! Gedigte van lewende digters is seker die kunsvorm wat die minste verkoop. Toe ek ‘n paar maande gelede daardie opname op my blog gedoen het was daar baie reaksies – op die blog en deur msgs – en die mense wat al werk van lewende digters gekoop het kon ek op my een hand tel.

    Baie dankie vir hierdie skrywe Izak, ek het dit baie geniet. Ja, ons almal beoefen maar die kuns waarvoor ons aanleg het.

  5. tronkie het gesê op Oktober 24, 2008

    Jy kan maar bly Heros – Izak dink ek dink hy is altyd ernstig.

  6. tronkie het gesê op Oktober 24, 2008

    Hy is nie! – hy het vertel van die gehijackte muis. Dit was snaaks. Izak is nou in die derde persoon hier. Ons praat van hom op sy eie persoonlike blog.

  7. wild1 het gesê op Oktober 25, 2008

    My vriendin swot kuns en sy raak altyd so kwaad as iemand van ‘n Jackson Pollock of ‘n Picasso sê ‘Ag asseblief, ek kon dit ook gedoen het!’ Sy sê altyd ‘Jy het nie, en dis die punt. Die persoon het iets uitgedink wat vir almal so eenvoudig lyk, maar niemand anders voor hulle het daaraan gedink nie. En dis wat dit so spesiaal maak.’ So miskien is dit kuns? Om iets te skep op ‘n manier wat niemand anders dit nog gedoen het nie. Ek hou van die legwarmers metafoor, dis mooi.

  8. sprokie het gesê op Oktober 25, 2008

    Wow, uitstekende skrywe, briljant uiteengesit. Kon nog nooit saampraat oor rugby nie, net saam partytjie…. en ek dink meeste mense voel dieselfde, closet case kunstenaars wat skaam is om hul passie te deel…

  9. pasella het gesê op Oktober 25, 2008

    kuns moet met my kommunikeer, as ek na ‘n skildery kyk of iets lees wil ek dit ontrafel, dit moet selfgenoegsaam wees, die leidrade moet in die werk opgesluit wees. Mens moet ook onderskei tussen kuns en craft (kry nie ‘n Afrikaanse woord wat lekker pas nie, vlyt klink soos ‘n blommerangskikking op ‘n landbouskou) Die debat sal nooit eindig nie, maar hou mens aan die dink.

  10. antsussa het gesê op Oktober 25, 2008

    Ant Sussa het verwonderd gestaan oor die Van der Vyfer vroutjie se antwoorde aan jou. Oor die konstruksie van haar verhale, en hoe slim sy die meesters soos Oddysey se struktuur invleg. Haar werk lees so moeiteloos, dat dit LYK of dit moeiteloos geskryf is. (Allesbehalwe, weet ant Sussa)

    Dit MOET kuns wees, hierdie persepsie dat dit maklik lyk, asof enige iemand die foto kon neem, of die beeld kon maak, of die verhaal kon weergee. Maar probeer jy as aanskouer van die werk dit bietjie!

  11. Izakdv het gesê op Oktober 25, 2008

    Liewe Tronkie en Heros
    Julle het my heerlik laat lag!
    izak

  12. Izakdv het gesê op Oktober 25, 2008

    Dankie Lorinda
    Ek moet dalk weer ‘n paar aanbevelings oor lewende digters maak!
    izak

  13. Izakdv het gesê op Oktober 25, 2008

    Dankie Willemien
    Ek dink jou vriendin het ‘n punt beet. Ek kan ook ‘n wit doek in ‘n museum hang, en ek het nie! Twombly het.
    izak

  14. Izakdv het gesê op Oktober 25, 2008

    Prinses, die beste ding van kunsveiling is die gratis wyn 😉
    izak

  15. Izakdv het gesê op Oktober 25, 2008

    Kites, ditto met my boeke oor dakkappe. Hulle is baie goed, maar hulle is nie KUNS nie.
    Ek dink as jy die blog lees, sal jy sien ek probeer wel ‘n onderskeid tref tussen tegniese briljantheid en kuns. (Dink aan ‘n violis sonder emosie.)
    Ek wil egter ook nie neus in die lug rondloop en sê Houtkunstenaar A is ‘n beter mens as Skrynwerker B nie. Ek dink hulle verskil, en ek is altyd verstom oor die goeie werk wat vakmanne en vakvroue kan doen!
    Dankie dat jy ons op ons tone hou!
    izak

  16. Izakdv het gesê op Oktober 25, 2008

    Lewies, jy’s doodreg. Die verskil tussen ‘n gedig en ‘n inkopielys is eenvoudig: Die een laat jou dink, die ander is iets wat jy na die besoek aan winkel gaan hersikleer (mooi woord vir recycle). En ja, daar is ‘n verskil tussen kuns en craft, maar ‘n ou moet ook versigtig wees, want daardie legwarmers kan met vele vaardighede gebrei word. Ons probleem is dat die masjien deesdae CRAFT kan maak, kuns, wel …
    izak

  17. Izakdv het gesê op Oktober 25, 2008

    Vol punte, Ant Sussa
    En die wonderlike ding van Marita is haar boeke is uiters leesbaar, maar diep onder draai die skadu’s rond!
    izak

  18. hacjones het gesê op Oktober 25, 2008

    Gerrit Beukes het op ‘n slag vir my (Tydens ‘n dronkerige debat oor wat kuns in lettere is)gese:”Kuns is vakmanskap plus geloof en baie hoop.”

  19. hacjones het gesê op Oktober 25, 2008

    Sorrie, hiers ek weer: Ander “angle”, hoek (?): Gevra aan Einstein, “Wat is tyd”. Hy antwoord: “:Dit wat met ‘n horlosie gemeet word.” Waarmee meet ons ‘kuns’? ‘n Dakkap kan kuns wees. Meet dit net aan jou eie 1) en 2, hier onder?

  20. ysprins het gesê op Oktober 25, 2008

    kuns is orals, ons kies net om dit te etiketeer soos wat dit ons pas, sodat ons daarmee gemaklik kan voel of sodat ons dit kan veroordeel, of sodat ons dit kan ignoreer. as iemand se “kom na my kunsuitstalling” verwag die uitgenooide dinge soos beeldhouwerk, skilderye, fotografie, ens. nie noodwendig, byvoorbeeld, ‘n paar mense wat kaal is en met verskillende kleure geverf is nie…ons samelewing (afhangend van hoe godsdienstig of konserwatief of rigied) hou maar steeds die uitspraakvaandel vas, en laasgenoemde “uitstalling van kuns” sal dan meer selde as ooit as “belaglik” of “verregaande” of “vieslik” of iets dergliks afgemaai word – afhangend van die seksuele voorkeur van die bewonderaar, natuurlik – maar dis ‘n ander storie. my bottom line : wat kuns is vir jou en wat kuns is vir my hang af van heeltemal te veel invloede in ons lewens, selfs van babatyd af, en ons siening oor die lewe, en hoe ons tot duver die lewe ervaar het, om eenvoudig te se kuns is universeel of “it is what it is”…vang julle wat ek se?

  21. Izakdv het gesê op Oktober 25, 2008

    HJ, ek is mal oor Gerrit Beukes se antwoord! Ek dink die onderskeid tussen kuns en dakkappe is klein, maar die punt is: ‘n dakkap word gemaak volgens streng reëls. In die kuns moet ons dikwels die reëls uitdaag.
    izak

  22. Izakdv het gesê op Oktober 25, 2008

    Spititout. Ek stem. Volmondig! Dis daarom so jammer dat so min mense gedigte koop!
    Dankie
    izak

  23. Izakdv het gesê op Oktober 25, 2008

    Ysprins. Ek dink jy’t ‘n punt beet. Kaal mense kan kuns wees. Dink byvoorbeeld aan Spencer Tunic se werk. (spencertunick.com) Ek het self al naakstudies gedoen.
    Dan is daar ou Peniscasso wat ek by die sexpo gesien het. Sy oliefwerk is nie sleg nie, maar dis eintlik die feit dat hy die goed met sy voorvel skilder wat dit interessant maak. Hy is die kuns, sy kuns is eintlik minder werd as die feit dat hy homself as ‘n instillasie gebruik.
    En jy is reg: Ons moet leer hoe om kuns te verstaan! Ons agtergrond doen baie vir ons!
    izak

  24. sprokie het gesê op Oktober 25, 2008

    Oor ysprins se kommentaar: Ja, maar ek dink steeds soms jig! Wel, ek ht nie die gal om nou grafies te raak nie, maar daar is ‘n paar femministiese kunstenaars daar buite wat ook van die eienaardigste mediums en gereedskap gebruik maak om hul kuns te skep!

  25. Izakdv het gesê op Oktober 26, 2008

    Ja, prinses. Dooie honde en stukke van menslike vet is grillerig, nie waar nie?

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.