Hardekop of hardehoed?
Oktober 30, 2008 in Sonder kategorie
Oktober 30, 2008 in Sonder kategorie
Oktober 30, 2008 in Sonder kategorie
Almal wat belangstel in die wel in weë van Milan Kundera, lees hier. Onthou net, dis ongetoetste berigte.
Oktober 28, 2008 in Sonder kategorie
My onmoontlike sin vir regverdigheid het my
gedwing om die lys te probeer klaarmaak (ook die twee A’s wat gister uitgeval
het).
Lees hierdie titels hardop:
Amper postuum: Pretorius, SJ
Die anatomie van melancholie: Hambidge, Joan
Beminde Antarktika: Krog, Antjie
C, because cowards get cancer too: Diamond, John
Chameleon on the gallows: Leipoldt, C Louis
Debora de Waal en die Baba-Blues: Kemp, Regina
The Devil made me do it: Zapiro,
Fugitive Pieces: Michaelis, Anne
The God of small things: Roy, Arundhati
Groenstaar: van Niekerk, Marlene
Hartskrif: Hambidge, Joan
Het stenen bruidsbed: Mulisch, Harry
Hongerblom: Aucamp, Hennie
Jonkmanskas: Prinsloo, Koos
Juffrou Sophia vlug vorentoe: Smit, Berta
’n Kas is vir klere: Celliers, Pieter
Klapperhaar slaap nie stil nie: van der Merwe,
Kirby
Kokende Gô: Schmidt, Casper
Korrel en Kuif: Steenberg, Elsabe
Kouevuur: Breytenbach, Breyten
Mallemeuleman: de Vos, Philip
The Married man’s guide to adultery: du
Plessis, PG
Minnenbrieven van een Portugese non: Alcoforado,
Marianna
Mister God this is Anna: Fynn,
Obool: Muller, Petra
Oeroeg: Haasse, Hella S
Omtoorvuur: Cussons, Sheila
Ons is nie almal so nie: Goosen, Jeanne
Onwaarskynlike engele: Greeff, Rachelle
Ook skaduwees laat spore: Aucamp, Hennie
Otters in die bronslaai: Krog, Antjie
Ruik jy die filmster?: Meyer, Naomi
Die rym nym ook ’n hele lewe in beslag: Kannemeyer,
JC
Sê Sjibolet: Small, Adam
A see-through suitcase: Steinmair, Deborah
sewe en sewentig stories oor ‘n clown: Phillips,
Fransi
Soutsjokolade: Rousseau, Ina
Swerfsange vir Susan en ander: Muller, Petra
Die uur van die idote: de Vries, Abraham H
Die uurwerk kantel: Heese, Marié
Vaandels en Voetangels: Louw, WEG
Van sjofar tot sjalom: Spies, Lina
A veil of Footsteps: Breytenbach, Breyten
Vensters op die vrees: Louw, WEG
Verbruikersverse: Eybers, Elisabeth
Verdraaide raaisels: Hambidge, Joan
Vir die bysiende leser: Stockenstrom, Wilma
Vir ‘n pers huis: Cronjé, Karin
Vliegoog: de Vries, Abraham H
Die vloedbos sal weer vlieg: Stander, Carina
Een Vlucht regenwulpen: ‘t Hart, Maarten
Volmink: Aucamp, Hennie
Volmoed se Gasie: de Vries, Abraham H
Waar koek en wyn ontbreek: Barkhuizen le Roux,
Christine
Die waarheid gelieg: Cloete, TT
War of Don Emmanuel’s Nether Parts: de
Bernièrs, Louis
Wat sag is vergaan: de Lange, Johann
Ways of dying: Mda, Zakes
Wegloopwinter: Rupert, Rona
You taught me Language: Harlech-Jones, Brain
Die ysterkoei moet sweet: Breytenbach, Breyten
Zen and the art of motorcycle maintenance: Pirsig,
Robert M
Ek moet nou ophou, dit raak belaglik, ek weet,
want ek het reeds die volgende drie gesien wat ek gemis het:
‘n Rooi Z4 en ‘n Renaissance-kasteel: Rossouw,
Johann
Rooiwielwa: Fryer, Charles
Skeurkalender: Hugo, Daniel
Oktober 27, 2008 in Sonder kategorie
Boekevat se ondersoek na titels het my
voor my eie boekery laat stilstaan. Daar is darem wragtie wonderlike titels in
Afrikaans. Kyk net hier na Ernst van Heerden se Die aamborstige klok.
Hoeveel mooier kan jy kry?
Jip, ek is jammer, maar die skoonheid het my
ondergekry. Ek sal later snaakse titels soek. My boekery is alfabeties, volgens
skrywer, op die rak, maar omdat elkeen op die rekenaar is, kan ek hulle skommel
soos ek wil.
En, weet julle, ek is nog nie eers by A verby
nie, en kyk net watter wonderlike goed is daar om te deel:
Muller, Petra: Die Aandag van jou oë
Roodt, PH:
Afrika
is blou soos ‘n lemoen
von Meck, Anoeschka: Annerkant die longdrop
Olivier, Fanie (samesteller): As
die son kom oog knip
Richard, Dirk: As ‘n kat se naam Bach is
Cussons, Sheila: Die Asem wat ekstase is
Hoe gaan ek ooit by Sheila Cussons se Die
woedende brood uitkom?
Dan het ek nie eens die Engelse titel van
Zapiro genoem wat in A voorkom nie: The ANC went in 4×4 (met ’n prentjie
van Yengeni wat die ark binnery).
Ek het ook nie stilgestaan by die getalle nie:
du Plessis, PG: 120+ Sommer-stories
van Heerden, Petronella: Die 16e koppie
Wil julle nie desperaat weet wat met die ander
15 koppies gebeur het nie?
En onthou julle Jan Rabie se 21?
Dalk nie ’n aangrypende titel nie, maar wragtie ’n aardskuddende bundel!
Oktober 26, 2008 in Sonder kategorie
“Izak de Vries het na my mening die
kortverhaal-genre nog nie so lekker onder die knie nie.”
Ek het hierdie gevleuelde woorde van Cecile Cilliers
destyds uitgedruk en naby my rekenaar laat lê terwyl ek Byna Liefde geskryf het.
Sy het dit in 2004 gesê in ’n resensie van een
van my verhale.
Skryf is ’n alleenproses en jy moet dikwels
laat in die nag ploeter en foeter. As ek begin moeg raak, het ek die nimlike
dr. Cilliers se woorde nader getrek myself aangemoedig om haar te wýs ek kan.
Wel, dit lyk my ek moet maar weer probeer. In
haar resensie in vandag se Rapport
maak Cilliers dit duidelik dat sy nie hou van die feit dat ek moderne neigings,
soos die skryf van ’n SMS, ’n e-pos, of ’n Skype in my verhale ingooi nie. Ook
kan sy glad nie verstaan dat moderne mense se liefdesverhoudings anders lyk as
in toeka se dae nie.
(c) Melt Myburgh
Op dié foto, deur Melt, verduidelik ek die
navorsing wat ek gedoen oor die liefdesverhoudings in Byna Liefde. Ek het met heelwat gays, transgender-mense,
poliamoriste en mense in oop verhoudings gepraat tydens die skryf van en
navorsing oor Byna Liefde. Maar, dis
soos met e-pos en Skype, nie waar nie? Jy moet jou kop in ’n nuwe spasie kry om
dié soort ding te verstaan.
Vra vir Philip Liebenberg, die gay pastoor.
Dankie, Cecile. Jy gaan waaragtig maak dat ek
nog ’n boek skryf!
Oktober 25, 2008 in Sonder kategorie
sal dikwels vlaggies plak op plekke waar ’n uitgewer of skrywer moet aandag
gee. Die Engelse uitdrukking “flag it” is letterlik van toepassing.
Die begin
Toe loop die nuwe vryskutredakteur in die
kantoor in. Sy is vlasblond met ’n klein, ronde brilletjie.
Die boek gaan oor kuns, oor taal wat uitstel
en speel …
Twee weke later daag haar teks op, die ene
vlaggies. Maar nie een van die vlaggies is geplak op ’n bladsy met korreksies
nie.
Versigtig haal hy die vlaggies af.
Hy staan op en sluit sy deur. Voor sy oë
gebeur ’n herskepping van Gustave Courbet se L’Origine
du monde, maar dis ’n blonde vrou dié. Dit lyk of die foto met ’n selfoon
geneem is.
Oktober 24, 2008 in Sonder kategorie
Goed. Ek skuld julle ’n antwoord.
My siening is dat kuns twee goed moet doen:
1. Kuns moet my anders laat kyk na iets. Of
dit Dada is, of dit realisties is, ek wil gestimuleer word om nuut en vars na
die objek, of situasie, te kyk. (Een van my karakters praat hieroor in die
kortverhaal “Na aanleiding van ’n soen vir Twombly” in Byna liefde. As julle belangstel om meer oor hierdie insident
rondom Twombly te hoor lees Coenie K se stuk en volg die skakels.)
2. Kuns moet die skaduwees kan invul. Kyk hoe
baie beeldende kunstenaar kan glad nie hulle skaduwees regkry nie. En dit geld
vir stories ook. Dis daardie balans. Dis daardie soeke na ’n realisme wat nie
altyd in ’n “realistiese” prentjie vasgevang kan word nie. Ek is self gatvol
vir donker, somber goed. Maar om die wêreld sonder skaduwees voor te stel, is
vals. (Fotograwe pes skaduwees. Ons skep dikwels vals beelde met bonsflitse om
skaduwees te verdoesel. Maar dis ’n ander onderwerp!) Selfs Picasso het in sy
wildste tye donker realismes vasgevang…
Maar:
Ek wil dit ook baie duidelik stel: Ek weier om
’n waarde-oordeel te plaas wat kuns beter maak as vakmanskap of vakvrouskap. Ek
stem saam met die prinses as sy sê: Miskien
is geblomde legwarmers iets wat ek sal miskyk op ‘n kerk bazaar, maar iemand se
ouma het dalk ure aan die breipatroon beplan, en moes telkemale verlore steke
optel, versigtig versigtig om dit perfek te kry.
Ek werk deesdae baie nou saam met mense wat
houtwerk en bouwerk en loodgieterwerk doen. Hulle werk is hulle passie.
Ek weet – uit hoofde van my werk – hoe baie ’n
loodgieter moet weet voor sy / hy kwalifiseer. Of, watter dik dokumente iemand
moet bemeester voor sy / hy ’n stuk steierwerk mag oprig. En glo my, daardie
SANS-kodes is vrek moeilik om te verstaan.
Dus? Terug na die legwarmers. Stal hulle uit
op die skou. Daar sal ander tannies wees wat spanning gaan toets en die en
steke gaan tel. Dis hoekom dit moontlik is om pryse toe te ken aan legwarmers. Ek
kan nie legwarmers vir pryse brei nie. Ek skryf dus maar.
Oor Kenneth Newman. Hy’t ’n besondere talent
gehad. Dit verg uiterste vakmanskap om so te kan teken. En, glo my, Kenneth het
in een maand meer boeke verkoop as wat ek in my lewe al verkoop het. Hoekom?
Ek, wat talle van sy boeke het, waardeer daardie wonderlike sketse. Sonder
Kenneth Newman sou ek nie vandag voëls geken het nie. (Ek dra deesdae Newman en
die Sasol saam as ek veld toe gaan, maar Newman het my gehelp om mossies van
vinke te onderskei.)
Ek was egter werklik benoud oor die “kuns” in
my fotografie. Soos vir legwarmers is daar talle goed wat jy kan ondersoek en
dan ’n prys toeken met ’n foto. Ek is mal oor wildfotografie, het al joernalistieke
werk gedoen en is ’n kranige mensfotograaf. Ek moes egter gaan raad vra oor hoe
om voor te lê vir ’n “kunsveiling”, al het ek die tegniese vaardighede om pryse
te wen met kiekies (het al). Dis egter een ding om tegnies korrek te wees, en
’n ander ding om bekend te wees met die nuutste verwikkelinge in die kuns.
My vraag was dus meer as net ’n klip in die
bos. Ek wou graag hoor wat ander sê.
Ongelukkig het ons in Suid-Afrika ’n nuk om
kunstenaars laer te ag as sportlui.
Dis egter soos legwarmers. As ons bereid is om
te weet hóé om legwarmers te brei, sal ons kan saampraat.
As ons bereid is om te lees oor die reëls van
rugby, sal ons kan saampraat (en juig as die sh … okay, ek is op dun
soutwater!)
Dieselfde met kortverhale, gedigte, romans en
skilderye. Dis jammer dat ons so min oor kuns saamtrek en opgewonde raak oor
skilderye, gedigte en legwarmers. Of dakkappe.
Klim ’n bietjie deur daardie gaatjie (voor die
rugby en die bier) en kyk hoe slim is daardie goed gebou. Kyk dan die rugby en
gaan koop ’n bundel gedigte. Daardie bundel kos minder as ’n rugbykaartjie!
Dankie vir die saamgesels.
Oktober 22, 2008 in Sonder kategorie
Na aanleiding van gister se blog, skryf Awie: Hmmm … jy het my nogal laat wonder oor kuns en realisme. Kan
realisme kuns wees? Pharos plaas dit onder “kunsrigtings”. Nou raak dinge te
diep vir my vlak brein …
Dankie
vir almal wat reeds reageer het. Ek sal nog antwoord, is net besig vanaand.
Die
een hierbo is ook van Awie. Dis ‘n Marmite-bottel deur PhotoShop. Is dit meer of
groter kuns as die valk van gisteraand?
Wat
dink julle van Kites wat sê: Myns insiens het die Dada ouens die hele “wat is kuns” konsep
‘n bietjie ver gevoer! Ons besoek laasjaar die museum vir moderne kuns in Parys
– een van die uitstallings is ‘n winkeltrollie met ‘n draaiende polisielig …
Of Droomkind: Was dit nie Picasso wat gese het “All writers are artists who
can’t draw” nie?
Dis hoekom ek skryf, Dromie, maar dan sê
Aletta tereg: Vir my is kuns enige
voorwerp wat my herinner aan … ja, daar het mens dus kuns voor nodig om onder
“woorde” te bring waar dit my aan herinner.
En dis waar Shongololo se lekker uitdaging se
moeilik is: Hoekom dink jy het ek begin
met die “Paint a World with Words” uitdaging?
Earth Angel stel dit baie duidelik: Vir my is kuns ook baie verskillende dinge, maar
(ek) glo ’n kunswerk moet ‘ n emosie in jou wakker maak.
Ek hou die lekkerste vir laaste: Lorinda sê: Kuns is ‘n distilering of ‘n oordrywing van
die lewe, op elke vlak.
A! Dankie Lorinda, maar hoe doen ’n mens dit?
Ek sit en dink hoe ek Shongololo se uitdaging kan distilleer.
Oktober 21, 2008 in Sonder kategorie
Ek wil ’n klip in die bos gooi: Wat is kuns?
Ek wonder, want ek is onlangs genooi om werk
voor te lê wat Saterdagaand opgeveil gaan word by Bishops, daardie peperduur
privaatskool hier in die Kaap.
Het julle al Lou se dogter se boom gesien? Dís
kuns!
Of wat van Kammkazi se gedig wat begin met: “om
skaam woordvissies / met stywe rympies / te sit en vang”? Dis gewoon
pragtig. Terwyl julle daar is, lees sommer Francois Williams se antwoord, in
digvorm, laer af. Dis die moeite werd.
een stel woorde op papier kuns en ’n
ander ’n inkopielys? Waarom is sommige woorde wonderbaarlik, en ander nie?
Daar gaan Saterdagaand ook, onder andere,
getekende plate deur Kenneth Newman te koop wees. Newman is die man wat voëlkyk
amper eiehandig ’n stokperdjie gemaak het in Suid-Afrika met sy lewensgetroue
tekeninge van voëls. Maar is ornitologies-korrek kuns?
En “kuns” is natuurlik nie bloot ’n waardeoordeel
nie. Ek is mal oor die boeke wat ek maak by die werk – ja, selfs daardie
dônerse boek oor die dakkappe lyk pragtig. Ek is werklik trots daarop. Maar
kuns is dit nie.
Voorts sou dit tog gek gewees het as Kenneth
Newman se sketse soos Picasso s’n sou lyk. Ek sou nooit ’n mossie van dragtige
seekoei kon onderskei nie. Maar sou ons nie armer gewees het as Picasso
vasgesteek het by die realisme nie? Hy kón hoor. Sy vroegste werk was enige tyd so
realisties soos Newman s’n.
Ek het deelgeneem en foto’s geskenk vir Saterdagaand, omdat ek
glo in die saak. Elke sent wat ingesamel word, gaan geskenk word aan Habitat for Humanity. Wat meer is, daardie ryk kindertjies gaan self die huise bou.
Dis egter moeilik om aan myself as ’n
beeldende kunstenaar te dink. Ek hou van skryf. Ek is mal oor fotografie, maar
ek moes krap om iets te kry wat sou pas by die tema: “Beautiful, hopeful Africa”.
En dan nog dit probeer “kuns” noem ook.
Hier is van my werk.
Die mooi foto bo aan hierdie blog kom van my
geleerde vriend, Awie. Hy’t gesê ek moet dit op my blog sit. (Graag.) Daar gaan
drie van Awie se foto’s ook opgeveil word Saterdagaand.
Ek glo nie daar gaan Picassos wees op die
veiling nie, maar daar sal wel baie goeie wyne te koop wees. Toegang is slegs
R60 en dit sluit “bodemlose wyn” en goeie musiek in. (Pasop vir die wyn … jy
mag dalk ’n dragtige seekoei vir kuns sien na ’n paar glase!)
Die deure maak Saterdag 17h30 oop. Die veiling
is by Bishops.
MAAR: Laat my weet wat júlle dink “kuns” is,
asseblief!
Oktober 21, 2008 in Sonder kategorie
Onthou om vanaand 20:30 na RSG te luister. Marita van der Vyfer gesels
oor haar nuutste boek, Franse Briewe.
Vir almal in die buiteland, kliek op
www.rsg.co.za en luister saam.
As julle dit mis, kan julle my gesprek met Marita lees, maar luister liewer!
Onlangse kommentare